Oor wat dink jy is die meeste mense spyt as hulle die dag oud is? Wel, dit is nie oor of hulle genoeg geld gemaak het of nie …
Zerelda Esterhuizen
Wat is die dinge wat jou op die oomblik uitstres? Rekeninge, spertye, ‘n deurmekaar lessenaar, ‘n oorvol skedule, ‘n stilstuipe by die huis?
Volgens ‘n opname wat in Amerika gedoen is, gaan al daardie dinge nie veel saak maak die dag wat jy oud is en op jou lewe terugkyk nie.
Dit is dan wanneer ‘n mens na verspeelde kanse kyk en wens dat jy die horlosie net so ‘n bietjie kon terugdraai. Volgens die opname is die algemene bronne vir berou romanse, familie, opvoeding, loopbaan, ouerskap, gesondheid, vriende, geestelikheid, gemeenskap, lewenstyl en self.
Die webwerf www.worldobserveronline.comsê die volgende dinge kan jou kwel as jy die dag oud is.
1. As jy nie genoeg gereis het nie.
2. As jy te lank in ‘n ongelukkige verhouding gebly het.
3. As jy te bang was om enigiets buite jou gemaksone te doen.
4. As jy nooit geoefen het en na jou liggaam gekyk het nie.
5. As jy jou deur geslagsrolle laat lei het en nooit jou potensiaal bereik het nie.
6. As jy jare lank ongelukkig by die werk was.
7. As jy nie hard genoeg geleer het nie en só jou toekoms beduiwel het.
8. As jy nie besef het hoe spesiaal en besonders jy eintlik is nie.
9. As jy te skrikkerig was om te sê: “Ek is lief vir jou.”
10. As jy jou te veel aan ander mense se menings gestuur het.
11. As jy jare lank wrokke gehou het en nooit konflik opgelos het nie.
12. As jy nie genoeg met jou kinders gespeel het toe hulle klein was nie.
13. As jy nooit vir jouself opgestaan het nie.
14. As jy te min saam met jou geliefdes gelag en gesels het.
15. As jy ‘n werkolis was met min tyd vir enigiets anders.
16. As jy jou te veel oor allerlei dinge bekommer het.
17. As jy nie genoeg tyd saam met jou geliefdes deurgebring het nie.
18. As jy te bang was om daai een groot risiko te neem.
19. As jy die kans verbeur het om jou gunstelingmusici in aksie te sien.
20. As jy altyd ‘n droom gehad het en dit nooit vervul het nie, soos om nog ‘n taal aan te leer, ‘n musiekinstrument te leer speel of ‘n boek te lees.
Is daar nog iets wat jy kan byvoeg? Waaroor dink jy sal mense nog oor spyt kan wees?