Is dit altyd ander mense wat Eureka-oomblikke beleef terwyl jy nog sit en tob? Jy kan jou kreatiwiteit stimuleer
ZERELDA ESTERHUIZEN
Jy werk dalk saam met so iemand. Of deel dalk ‘n huis met so iemand. Of dalk is jou beste vriendin een. Daai mense wat altyd met die beste idees vorendag kom. Jy dink nog diep aan oplossings en “hanna-hanna” en boem! Daar het iemand anders ‘n fantastiese idee en jy sit al weer droëbek. Wat het hierdie denkers gemeen en is daar sekere gewoontes wat innovering en kreatiwiteit stimuleer? Inderdaad.
1 Dagdroom gerus
Onderwysers skryf graag in kinders se rapporte dinge soos “Bennie is ‘n ou dromertjie” maar dis daai drome van Bennie wat hom dalk nog ‘n hupstoot in die lewe gaan gee. Hoogs kreatiewe mense is glo meer geneig om te dagdroom en vind dikwels in hierdie drome innoverende oplossings vir probleme, vertel die webwerf ideapod.com. Volgens die LA Times het Einstein blykbaar sy relatiwiteitsteorie ontwikkel toe hy in die huis doenig was. Onthou dit gerus die volgende keer as jy oor skottelgoedwas mor.
2 Let op
Mense met wonderlike idees is gewoonlik baie oplettend. Hulle gee aandag aan dit wat om hulle aangaan. Leer jouself om meer oplettend te wees.
3 Alleentyd is nodig
As jy alleen is en ‘n bietjie tyd het om te sit en dink, kan daar briljante idees ontwikkel.
4. Ontdek nuwe dinge
Moenie tevrede wees om dag in en dag uit dieselfde dinge te doen nie. Lees, leer, ontdek. Kyk watter idees ander mense het.
5. Aanvaar mislukking
Die grootste uitvinders het een ding gemeen, hulle het almal een of ander tyd ‘n mislukking aanvaar. Erken as iets nie werk nie, en probeer iets anders. Dis deel van die kreatiewe proses.
6. Neem risiko’s
Dis wonderlik om ‘n goeie idee te hê, maar jy moet dit kan uitvoer en daarom is risiko’s soms nodig.
7. Volg jou passie
Kreatiewe mense bestee hul tyd en energie aan aktiwiteite wat hulle opgewonde maak. Sit ‘n bietjie en dink aan dit waaroor jy opgewonde raak. Maak jou werk jou opgewonde? Kry plesier uit dit wat jy doen.
8. Wees buigsaam
Onthou, dinge verloop nou en dan sleg. Dis nou maar eenmaal so. Moenie skrik nie, pas aan en beweeg aan. Vra die regte vrae in probleemsituasies soos: Hoe kan ek my ingesteldheid verander om die probleem om te los?
9. Kyk na die groter prentjie
Moenie net kyk na die taak wat jy moet verrig nie. Waar pas dit in? Wat kan jy daaruit kry? Ondersoek verskillende moontlikhede.
10 Dink anders
Kreatiewe mense is geneig om anderste te dink en onkonvensioneel te wees. Om oop denke te hê, beteken om oop te wees vir verandering en om nie haastig te wees om iets af te skiet nie. Moenie idees, mense of voorstelle afkeur net omdat dit nuut of vreemd is nie.
11 Wees oorspronklik
John F Kennedy het jare gelede gesê: “Ons het mense nodig wat van dinge wat nog nooit bestaan het nie, kan droom.” Oorspronklikheid beteken onder meer om anders te dink, om verby die gewone te dink, om aan indrukwekkende idees te dink, om resultate te lewer en om ‘n opwindende denker en doener te wees.
HET JY GEWEET?
Tydens ‘n studie is 1 500 uitvoerende hoofde regoor die wêreld gevra wat die enkele ding is waarvoor hulle kyk as ‘n aanstelling gemaak word. Die antwoord? Kreatiewe vermoë.
BRONNE: ideapod.com, www.simplypsychology.org