Ons kyk na twee dinge wat net vroue raak: menopause en die Papsmeer
CHRISTA SWANEPOEL
Baie vroue sien op daarteen, maar dis iets wat nie vermy kan word nie: Menopouse. Dit hoef egter nie ’n tyd te wees wat jy vrees nie, ondanks die warm gloede, emosionele wipplankryery en gewrigpyne, sê dr Sibongile Nomnganga, mediese raadgewer by Bayer se vrouegesondheidsafdeling. Sy beantwoord drie van die vrae wat die meeste gevra word as dit by menopouse kom.
WAT GEBEUR MET MY LIGGAAM?
Met soveel negatiwiteit rondom menopouse, is dit te verstane dat vroue angstig oor hierdie “lewensverandering” voel. Tog is hierdie verandering ’n natuurlike fase vir vroue waartydens die hormoonbalans in die liggaam verander.
Wanneer jy jou laat veertigerjare of vroeë vyftigerjare bereik, gaan die werking van jou eierstokke agteruit en stop uiteindelik heeltemal. Verder sal jou menstruele siklus verkort en die maandstonde self sal korter en ongereelder raak.
Hierdie tydperk kan twee tot agt jaar aangaan voordat menstruasie heeltemal stop. Ná ’n jaar van geen maandstonde nie en wanneer jou estrogeen- en progesteroonvlakke geval het, het jy jou menopouse bereik.
WATTER SIMPTOME WORD MET MENOPOUSE VERBIND?
Na raming ervaar ’n derde van vroue geen probleem nie, ’n derde het matige simptome en nog ’n derde ervaar erge simptome. Elke vrou se lyf is uniek en elkeen sal verskillende simptome ervaar.
Tekens waarna vroue kan oplet is:
- Die menstruele siklus verander. Dit sal ongereeld word.
- Warm gloede en nagsweet kom voor. Dit word algemeen ervaar. Die gesig en bolyf begin warm raak en die vel raak blosend of rooi omdat die aartjies naby die oppervlak uitsit. Hierna kan jy weer van die koue bewe.
- Moegheid en slaaploosheid kom voor. Baie vroue ervaar ’n gebrek aan slaap, hoofsaaklik weens die warm gloede. Die min slaap beïnvloed weer die lewenstyl, soos gebrek aan energie en libido, gemoedskommelinge of geïrriteerdheid. n Vel en ander weefsel verander. Al is dit algemeen met ouderdom, begin die vel sy vetweefsel en kollageen verloor, wat die vel droër, dunner en minder elasties maak. Dit is nie tot die gesig beperk nie. Dit kan ook die vaginale weefsel affekteer, wat seks pynlik maak.
- Gebrek aan libido kom voor. Daar is dikwels ’n skielike afname in die begeerte na seks of intimiteit.
HOE KAN DIE VERANDERINGS HANTEER WORD?
Die beste raad volgens Sibongile is om die verandering te aanvaar en jou lewenstyl aan te pas om sodoende jou lewensgehalte te verbeter.
As jy rook, kan jy dit oorweeg om op te hou en oormatige alkoholverbruik te verminder. Alles wat hitte in jou liggaam veroorsaak, moet vermy word, soos sterk gekruide kos en warm drankies. Hou jouself so koel as moontlik deur altyd water saam met jou te dra en in lae aan te trek sodat jy kan uittrek as jy warm kry. Tog word oefening nou nog belangriker as ooit. Oefening wat balans verbeter, krag en hartgesondheid, sal jou help om gesonder oud te word.
As jy jou liggaam en die veranderinge verstaan, kan hierdie nuwe fase van jou lewe positief wees en kan jy op jou beste voel en wees
BENADER DIT HOLISTIES
Soms is ’n gesonde lewenstyl net nie genoeg om die transformasie te beheer nie en kan holistiese terapie oorweeg word. Hormoonterapie kan vir jou spesifieke behoeftes aangepas word. Dit kan wees om warm gloede, sweet, slaaploosheid en droë vel te beheer. Hormoonterapie kan baie menopousale probleme verlig en jou ook teen osteoporose beskerm, wat algemeen met menopouse verbind word weens die verswakking van die bene. Dit is egter belangrik om met jou dokter hieroor te praat omdat elke vrou anders op medikasie reageer.
Die feit van die saak is dat jy nie menopouse kan voorkom nie, dat dit vroue verskillend kan affekteer en dat jy die simptome kan verlig deur ’n gesonde lewenstyl te handhaaf en die liggaam van die hormone te voorsien wat dit nie meer self kan vervaardig nie. As jy jou liggaam en die veranderinge verstaan, kan hierdie nuwe fase van jou lewe positief wees en kan jy op jou beste voel en wees.
DIE PAPSMEER EN SERVIKALE KANKER
In Suid-Afrika is servikale kanker daagliks vir tien vroue se dood verantwoordelik. Tog vergeet baie vroue om vir hul jaarlikse Papsmeer te gaan. Nog ontstellender is dat 20% van vroue met die hoërisikostam van die MPV (Menslike Papilloomvirus) saamleef, wat vir 99% van servikale kankers verantwoordelik is, maar geen simptome toon nie.
Die primêre toets vir servikale kanker was nog altyd, tot onlangs, die Papsmeer. Dit is in die 1940’s ontwikkel en is as die hoofmetode gereken ten spyte daarvan dat dit in 46% van gevalle servikale kanker weens die sensitiwiteitsgraad daarvan mis.
Met die tegnologiese vooruitgang, is daar nou ’n baie sensitiewer molekulêre toets.
Dr Chris Maske is die hoof van die molekulêre patologiese laboratorium by Lancet-laboratoriums en hy gaan so ver as om te sê dat met die bekendstelling van die HPV DNS-toets, daar absoluut geen rede vir enige vrou bestaan om vandag servikale kanker te ontwikkel nie, wat nog te sê daarvan te sterf.
Dr Allison Glass, ’n kliniese viroloog by Lancet-laboratoriums stem met hom saam. “Ons het altyd op die Papsmeer as ’n siftingstoets staatgemaak, maar groot studies toon dat MPV-toetsing baie beter is om vroue te identifiseer wat ’n risiko loop om servikale kanker te kry.”
Die MPV is die oorsaak van 99% van servikale kankers en word deur liggaamsvloeistowwe, slymvliese en ontsteekte vel van die geslagsorgaan versprei. Daar is meer as ’n honderd stamme van MPV waarvan 14 as hoë risiko beskou word om kanker te veroorsaak. Uit dié groep is net die MPV 16 en 18 vir 75% van servikale kankers verantwoordelik.
Al het die Papsmeer al miljoene lewens gespaar, is dit eenvoudig net nie doeltreffend genoeg nie. Medici wêreldwyd is dit eens dat dit net sin maak dat die MPV-toetse voor ’n Papsmeer gedoen moet word, want dié is baie meer sensitief, akkuraat en gesofistikeerd.
Shireen Omar is ’n 34-jarige sakevrou wat hiervan kan getuig. “Ek gaan al vir die afgelope tien jaar elke jaar klokslag vir my Papsmeer. Hierdie jaar kon ek net nie tyd inruim nie. “n Goeie vriendin het my van ’n MPV-toets genaamd UDoTest vertel wat aanlyn of by Dischem beskikbaar is. Ek het besluit om dit te probeer. Ek het die instruksies gevolg en hul webwerf besoek (www.udotest.com). Dit was alles baie duidelik en maklik om te doen. Minder as tien dae nadat ek die toets voltooi het, het ek terugvoering van die UDoTest-dokters ontvang wat my meegedeel het dat my toets ’n hoë-risiko-MPV-abnormaliteit toon. Ek was baie bekommerd, maar hulle het my met berading bygestaan en my na ’n spesialis verwys. Die ginekoloog het besluit om ’n Papsmeer te doen net om dit te bevestig. ’n Week later het ek ’n SMS gekry wat sê dat die Papsmeer se uitslag negatief was en ek hom eers weer oor twee jaar moes kom sien. Die Papsmeer het dus nie opgetel wat die UDoTest kon nie!”
Sy het vir ’n tweede mening gegaan. ’n Kolonoskopie is gedoen en abnormale selle is toe wel ontdek.
Allison Martin, die stigter van die UDoTest, glo dat die MPV-toets die primêre toetsopsie vir servikale kanker sal word. Dit gee vroue ook die vryheid om die monster enige tyd en enige plek te neem. Die toets word opgetel en afgelewer en hulle sien toe dat ná die uitslag die kliënt ondersteuning kry. Die toetse word by ’n geakkrediteerde laboratorium gedoen, dus is die resultate betroubaar.
Martin beklemtoon dat vroue nie meer verskonings het om hulle nie te laat toets nie.