“Ek is so trots op my dogter. Reis die wêreld plat …”
“Dit was darem net Londen toe,” keer Nina.
Sy het vanoggend teruggekom van ’n sakebesoek en wou haar pa met middagete kom verras. Toe is sy die een wat verras is; haar pa is al weer aangeklam. Dít nadat hy hand en mond belowe het hy gaan ophou drink terwyl sy die drie weke in Londen is.
“Die wêreld is haar oester, mense!” sê Johann Barnard vir die leë sitkamer en lig sy glas op sy dogter. “Tjorts.”
“Ek skep gou nagereg, dan kan Pappa ’n bietjie gaan rus.”
Die volgende oggend vroeg sit Nina langs Sharon op die lae baksteenmuurtjie teen hul kantoorgebou. Dit is die plek waarheen rokers verban word, uit sig en waar besoekers nie die rook kan ruik nie.
“Het jy die jongste gerug gehoor?” Sharon hou haar oë op Nina terwyl sy aan haar sigaret trek.
“Nee?”
“Afleggings.”
Nina se maag maak ’n draai. Dis die eerste wat sy van afleggings hoor. Sy onthou die afleggings van twee jaar gelede en watter hel dit was om elke dag in te kom werk toe met die wete dat vandag dalk die dag is waarop jy ’n brief gaan kry; dat dit vandag jou beurt is om jou goed in ’n boks te pak, jou rekenaar en toegangskaart in te handig en jou ry te kry. “Waar hoor jy dit? Is daar al ’n datum?”
“Die eerste golf gaan teen einde Augustus gebeur en die tweede een einde November.”
“Net betyds vir Kersfees.”
“Ja,” sê Sharon deur dun lippe, “gawe mense díe.”
’n Taxi toet naby hulle. Nina wip en kyk op na die besige Rivoniaweg. Die son is nog nie behoorlik op nie. Motorligte swiep verby en donker figure in jasse skarrel haastig by Capital Bank se gebouekompleks in.