’n Peiling wat ’n paar jaar gelede gedoen is, het bevind daar is slegs vyf vroue op ’n lys van die wêreld se 150 topdirigente
Deur JOHAN MYBURG
Dit was ’n onlangse artikel in The Guardian oor die Iranse dirigent Nezhat Amiri wat die kwessie van vrouedirigente ter sprake gebring het. Amiri, Iran se eerste en enigste vrouedirigent met ’n musiekloopbaan van 38 jaar, kry slegs by uitsondering die geleentheid om ’n orkes te dirigeer. In Januarie was sy egter op die podium in Tehran se Vahdat-gehoorsaal voor ’n orkes van 71 lede.
Dit is gewis ’n mylpaal in ’n land waar die staatstelevisie verbied word om musiekinstrumente te wys, waar vroue nie toegelaat word om solo’s te sing nie, en waar vroue in kleiner dorpe nie toegelaat word om in orkeste te speel nie. Maar lees dié artikel saam met ’n peiling wat die musiekwebwerf Bachtrack ’n paar jaar gelede gedoen het waarin hulle bevind het daar is slegs vyf vroue op ’n lys van die wêreld se 150 topdirigente. In die wye Westerse wêreld waar orkesbesettings nie meer deur geslag bepaal word nie (kandidate speel deesdae dikwels vir oudisies agter skerms sodat die beoordelaars nie die geslag of ras of voorkoms kan bepaal nie), in ’n wêreld met vername vrouesoliste en -musici, is dit vreemd dat daar so min vroue is wat die dirigeerstokkie in die hand het.
“Ek het van meet af aan teen die stroom geswem,” het die 57-jarige Amiri in die Guardianartikel gesê. “Ek is nie raakgesien nie en die gemeenskap het geen poging aangewend om my vaardighede te slyp nie. Die regering het my verontagsaam. Nietemin gaan ek voort. Ek wys daar is maniere om voort te gaan, en daar sal altyd wees.” “Maar,” het sy gesê, “daar is ’n moegheid wat intree. Hoe lank kan ’n mens teen ’n toe deur bly klop?” Amiri is moontlik ’n ekstreme voorbeeld van ’n vrou in ’n land wat ná die Islamitiese revolusie streng wetgewing oor die kunste ingestel het. En vroue in dié land word daardeur des te meer aan bande gelê. Maar in die res van die wêreld, in lande waar ’n vrou ’n passasiersvliegtuig in die lug kan hou of ’n busbestuurder kan wees, hoe maak slegs ’n handvol vroue dit tot op ’n lys van toonaangewende dirigente?
LEES OOK: Klassieke klanke: Kevin Volans
Hoewel dié glasplafon in die andersins ruimer musiekbedryf grootliks nog ongeskonde is, moet ’n mens dalk eerder erkenning gee aan vroue wat dié grens beduidende krake toegedien het. Daar is Marin Alsop (61) wat nege jaar gelede die eerste vrou geword het wat ’n groot Amerikaanse orkes, die Baltimoresimfonieorkes, voorgestaan het. In 2013 het sy die eerste vrouedirigent geword wat Last Night of the Proms, Brittanje se jaarlikse groot musiekgebeurtenis, gedirigeer het – die eerste vrou in die 118 jaar wat die Proms aangebied is!
Dit was ’n paar dae nadat die Russiese dirigent Vasily Petrenko in ’n onderhoud gesê het vrouedirigente is nie verkieslik nie, want hulle kan die aandag van orkeslede aflei (!) en dat hul gesinsverpligtinge dit vir hulle moeilik maak om hulle aan ’n loopbaan as dirigent te wy. Benewens seksisme is vooroordeel skynbaar die grootste redes waarom meer vroue nie dirigeerposisies inneem nie. Alsop is duidelik daaroor dat kwotas nie die rigting is om in te slaan nie en doen alles in haar vermoë om soveel geleenthede moontlik vir jong vrouedirigente te bied. Ondanks die terugslae en uitdagings wil Amiri ’n “simbool van hoop” bly, sê sy. “Soms kry jy die wind van voor, maar jy moet aanhou. My moed is dikwels gebreek, maar jy dokter dit en staan weer op, honderd maal oor.”