Schick-avontuur finaliste sien uit na leefstyl-opleiding
Die drie finaliste vir vanjaar se Schick Avontuur-kompetisie is pas uit 276 inskrywings aangewys. Hulle is die Kapenaars Genevieve Brook, Candice La Noury en Tracy Visscher, wat nou voor die groot uitdaging te staan kom om permanent na ’n ewewigtige dieet en daarmee ook gesonder leefwyse oor te skakel.
Die wenner – wat op 15 September aangekondig word – is die een wat tydens drie avontuurlike opleidingsessies, ‘n maand per sessie, die meeste vordering op fisiese, sielkundige en geestesvlak toon. Die sessies begin binnekort.
Al drie finaliste het om persoonlike redes emosionele eters geword en sal nou deur ’n dieetkundige, skoonheidskonsultant en leefstyl-afrigter bygestaan word in hul strewe na ’n slanker figuur en gehalte leefwyse.
Laasjaar se wenner, Tanya Ellis van Durbanville, het tydens haar Schick-avontuur nie alleen van 5,3 persent liggaamsvet, 70,5 cm om die middel en 12,3 kg in die geheel ontslae geraak nie, maar ook haar loopbaan na dié van persoonlike afrigter verander.
Een van vanjaar se finaliste is die 25-jarige Candice La Noury van Kenilworth. Sy werk as programkoördineerder vir ’n internasionale vrywillger-organisasie, maar is dalk beter bekend vir haar deelname aan die MasterChef-televisiereeks. Sy wil egter nou bietjie padgee uit die kombuis omdat sy kos begin misbruik het in ’n poging om ongelukkigheid te troef. Die resultaat was die teenoorgestelde en sy hoop dat haar nuwe reis sal lei tot ’n gewigsverlies van 20 kg, gesonder liggaam en woema vir die lewe.
Die 35-jarige Tracy Visscher van Durbanville se besige lewe draai om drie woelwaters met vele buitemuurse aktiwiteite, haar eggenoot en haar beroep as produkskepper vir ‘n aanlyn reisagentskap. “As emosionele eter met ‘n deurmekaar leefstyl maak ek nie altyd die regte keuses nie,” erken sy. Dis hoekom sy oorgewig begin raak het. Haar strewe na ‘n beter leefstyl gaan nie alleen om gemakliker in haar eie vel te voel nie, sy wil ook ‘n beter voorbeeld vir haar kinders wees – en selfs aan volgende jaar se Twee Oseane halfmarathon deelneem!
Op die ouderdom van 25 het Genevieve Brook van Table View al baie van die lewe se slae moes verwerk. Sy was lank aan dwelms verslaaf en uiteindelik ook die slagoffer in ’n bendeverkragting. Sy het vir die kompetisie ingeskryf uit liefde vir haar dogtertjie en om respek vir haar liggaam terug te win deur heelwat van die 115 kg af te skud wat sy tans weeg. “Ek wil my ware potensiaal vir die wêreld wys. My dogtertjie moet my as ‘n ster beskou. Ek wil mense wys dat, maak nie saak waarvandaan jy kom of waardeur jy is nie, jy nog steeds ‘n wenner kan word.”