Die manier waarop ’n mens die lewe ná ’n egskeiding benader, kan ’n groot impak op jou kinders se welstand hê
Carien Grobler
Almal wat by ’n egskeiding betrokke is se lewe verander handomkeer. Die trauma wat volwassenes ervaar, is onmiskenbaar, maar dit het selfs ’n groter invloed op die kinders. Ouers is dikwels so in hul eie probleme vasgevang dat hulle hul kinders se emosies, redenasievermoë en vermoë om onbekende situasies te hanteer, buite rekening laat.
Kenners benadruk dit egter dat ouers tydens en ná ’n egskeiding hul kinders se behoeftes eerste moet stel. Die hartseer en verwarring van ’n egskeiding mag dit moeilik maak om op iemand anders te fokus, maar dit kan help om ’n mens se aandag van jou eie hartseer, ongesonde emosies en wraakgedagtes af te lei.
’n Ouer kan niks doen om te keer dat haar kinders tydens ’n egskeiding seerkry nie. Die manier waarop ’n mens die lewe ná die egskeiding benader, kan egter ’n groot impak hê om gelukkige, gesonde en goed aangepaste kinders te verseker.
Volg die goue reëls
Deurlopende, vreedsame kommunikasie met jou eks is die belangrikste bousteen in jul nuwe verhouding as medeouers.
Hoewel dit heeltemal onmoontlik mag voel, moet jy ter wille van jou kinders jou ingesteldheid verander. Fokus op jou kind wanneer jy met jou eks kommunikeer en verhinder só dat die manier waarop julle mekaar behandel, jou kinders verder benadeel.
“Die meeste literatuur oor medeouerskap handel oor ‘n stel reëls wat ouers moet volg wanneer hulle met mekaar kommunikeer,” sê die sielkundiges drs Elizabeth Thayer en Jeffrey Zimmerman in hul boek The co-parenting survival guide. “Hierdie reëls het ten doel om struktuur aan die interaksie te verleen om sodoende konflik te vermy. Dit is belangrike, tog eenvoudige beginsels waarby ’n mens moet hou om te voorkom dat die kinders verder seerkry.”
Drs Elizabeth en Jeffrey stel die volgende gedragsreëls vir medeouers voor:
1 Ons sal mekaar altyd met respek behandel. “Die sleutel tot medeouerskap is hoflikheid,” sê drs Elizabeth en Jeffrey. “Ouers moet teenoor mekaar optree op ’n manier wat die beginsels van aanvaarbare sosiale interaksie demonstreer. Dit beteken om mekaar vriendelik te groet en op ’n aangename manier met mekaar te kommunikeer.”
Hulle verduidelik dit is belangrik dat ’n mens ’n presedent van aanvaarbare gedrag tussen twee volwassenes skep. “Onthou dat jou kinders jou en die ander ouer op dieselfde manier sal behandel wat julle mekaar behandel. Verder stel jy ook ’n voorbeeld van hoe ’n mens ander mense moet behandel.”
2 Ons sal mekaar nie beledig nie. “Ouers in ’n konfliksituasie voel dikwels dat hulle die reg het om beledigende en aanvallende dinge vir mekaar te sê, hoewel hulle niemand anders só sal behandel nie. Hul taalgebruik is ook dikwels nie aanvaarbaar in hul ander verhoudings nie,” sê drs Elizabeth en Jeffrey.
Om mekaar sleg te sê, te kritiseer of te vloek is onaanvaarbaar. Hou in gedagte hoe dit jou kind laat voel as jy sy pa slegsê en opmerkings maak wat daarop gemik is om hom seer te maak. “Stop voordat jy dinge sê wat tot ’n vlak van konflik sal bydra wat al hoe moeiliker sal word om te herstel.”
3 Ons sal ons kinders se behoeftes altyd belangriker as ons eie ag.
“Jou kinders se lewe gaan voort tydens en ná die egskeiding, daarom moet die kinders se behoeftes steeds voorrang geniet by albei ouers.”
Drs Elizabeth en Jeffrey verduidelik dat ouers dit soms moeilik vind om te aanvaar dat hul kinders se skool- en buitemuurse aktiwiteite, sowel as hul verhoudings met ander kinders, vir hulle nog net so belangrik is as voor die egskeiding. “Hulle sien alles wat op ‘my tyd met die kinders’ inbreuk maak, as ‘n bedreiging.”
Maak dus seker dat wanneer jy “nee” sê, jy dit doen omdat dit in die belang van jou kind is. Besluite moet nooit geneem word omdat jy graag beheer oor die situasie wil hê of omdat jy die lewe vir die ander ouer wil bemoeilik nie. Dit benadeel uiteindelik slegs die kinders.
4 Ons sal mekaar se tyd met die kinders respekteer. ’n Vasgestelde rooster help om onnodige konflik te vermy, maar bied ook aan die kinders roetine en struktuur. Dit laat veral voorskoolse kinders veilig voel, maar bied ook vastigheid aan skoolgaande kinders.
“Hoewel dit soms nodig is om ’n aanpassing te maak, moet die rooster nooit as ’n riglyn of ’n voorstel gesien word nie,” sê drs Elizabeth en Jeffrey. “Dit is ’n ooreenkoms.”
5 Ons sal altyd betyds wees vir die kinders. Drs Elizabeth en Jeffrey voel hierdie punt is só belangrik dat dit sy eie plek verdien. “Jou lewe is belangrik, maar so ook dié van jou eks en die kinders. Dit is in die algemeen nie aanvaarbaar om vir enigiets meer as 15 min. laat te wees nie. Dieselfde geld vir die ander ouer en kinders. Gee mekaar die nodige grasie, maar doen moeite om daar te wees wanneer jy sê jy sal daar wees.”
6 Enige veranderinge aan die rooster sal eers bespreek word. Geskeide ouers sukkel dikwels om met mekaar te kommunikeer. Die kinders word dan as spreekbuis ingespan. Op hierdie manier word die kinders in die rol geplaas wat eintlik vir die ander ouer bedoel is.
“Ouers bespreek dikwels moontlike veranderinge aan die skedule met die kinders voordat hulle die ander ouer geraadpleeg het. Die kinders mag dan teleurgestel word as die planne nie realiseer nie. Dit mag ook gebeur dat hulle die ouer blameer wat nie die verandering wil of kan maak nie.
Drs Elizabeth en Jeffrey noem dat ouer kinders betrek kan word om hul inset te lewer. “Onthou egter dat die kind se mening slegs ’n inset is en nie die finale besluit nie. Julle, as ouers, het daardie voorreg!”
7 As ons van mekaar verskil, sal ons dit privaat bespreek. Kinders is nie veronderstel om aan hul ouers se konflik blootgestel te word nie. “Jul konflik ontstel die kinders en plaas hulle in ’n onmoontlike situasie. Neem dus beheer van jou emosies. Onthou dat die kinders nog van die huweliksprobleme en egskeiding genees. Hulle moet dit kan doen sonder om voortdurend aan hul ouers se vyandigheid herinner te word.”
8 Ons sal mekaar se ouerskapstyl respekteer. “Ouers in konfliksituasies is geneig om mekaar te kritiseer, te blameer en daarvan te beskuldig dat hulle nie die kinders goed versorg nie, hulle bederf of nie ’n veilige omgewing vir hulle bied nie,” sê drs Elizabeth en Jeffrey.
“Dit is dikwels weens twee dramaties verskillende ouerskapstyle. Onthou dat julle om goeie redes geskei is. Soms moet ’n mens aanvaar dat jy oor sekere punte sal verskil, om jou toe te laat om daarop te fokus om ’n groter mate van eenheid op ander gebiede te bewerkstellig.”
Hulle verduidelik dit is betreklik maklik om oor daaglikse versorging, ’n skedule en huiswerk saam te stem. Dissipline en die kinders se vriendskappe met hul portuurgroep, is egter ’n totaal ander saak.
Hulle maan dat kinders ouers se verskille kan gebruik om hulle te manipuleer. “Wees bewus van hoe dinge in die ander huis gedoen word en probeer om nie gesag oor mekaar se deurdrumpels uit te oefen nie. Hoewel dit moeilik is om te glo, kan julle van mekaar leer. Hou daarom jou vrae vir tye wanneer julle kwessies rondom die kinders privaat kan bespreek en moet nooit voor die kinders aanmerkings oor mekaar se ouerskapstyl maak nie.”
9 Ons sal nooit van die kinders verwag om tussen ons te kies nie. Ouers gebruik dikwels wetend en onwetend hul kinders as die pionne in hul vete met hul eks. “Kinders word dan in ’n proses vasgevang waardeur hulle probeer om te sê of doen wat hulle dink elke ouer sal plesier.
“Hulle beweeg heen en weer tussen die huise en dra inligting, aanmerkings en beledigings aan om daardie ouer se ondersteuning te wen. Op hierdie manier word die kinders in ’n posisie geplaas waar niemand hulle kan glo nie.”
10 Ons aanvaar dit is in ons kinders se beste belang om twee ouers te hê wat in hul lewe betrokke is. “Tensy een van julle onbekwaam is, is dit nie in ’n kind se beste belang om permanent van een ouer geskei te word nie.
“Kinders van geskeide ouers is op ’n emosionele en logistieke vlak gekompliseerd en daarom het hulle albei ouers nodig. Saam kan julle jul kinders se behoefte om veilig en geliefd te voel, aanspreek en hulle nie dwing om tussen julle te kies nie.”
Drs Elizabeth en Jeffrey maan dat bogenoemde reëls nie opsioneel is nie, maar noodsaaklik. “Ouers in konfliksituasies vind dit dikwels moeilik om hierdie reëls te volg en probeer dit dikwels aanpas om hul eie behoeftes te bevredig. Hulle verwag buigsaamheid van ander mense, maar sukkel om self buigsaam te wees.”
Kom daarom vooraf oor die reëls ooreen en moet geen grys gebiede laat nie. Kry selfs duidelikheid oor dinge wat jy as vanselfsprekend sou aanvaar, sodat albei sal begryp wat die reëls behels. Só ’n stel reëls sal konflik drasties verminder aangesien niemand dit verkeerd kan interpreteer nie.
“Hierdie reëls kan julle help om samewerking te vestig en julle toelaat om ná ’n egskeiding medeouerskap te bemeester. Onthou egter dat dit maklik is om op die ander ouer se gedrag te fokus en nie jou eie eerlik te evalueer nie.
“Wees daarom eerlik en moenie blind vir jou eie foute wees nie. Moenie altyd jou eks vir ongelukkigheid of misverstande blameer nie. Jy is in beheer van jou eie keuses, woorde en dade. Gryp dit aan en gebruik dit wys!”