Handhaaf ’n positiewe verhouding met die skoonfamilie reg van die begin af. Ons kyk na probleme met jou skoonma in die 7 Augustus-uitgawe.
Carien Grobler
Jy het jou man gekies, maar soos met jou familie kan jy nie jou skoonfamilie kies nie – dis deel van die pakket.
Jou skoonfamilie het ’n unieke verhouding met jou maat gehad lank voordat jy hom ontmoet het en jou maat sal van jou verwag om ’n relatief intieme verhouding met sy ouers, broers en susters te hê, ongeag hoe jy oor hulle voel.
Vroue is geneig om die rol van hul skoonfamilie in ’n huwelik te onderskat. As jy egter die res van jou lewe met jou maat wil deurbring, sal jy moet aanvaar dat sy familie waarskynlik net so ’n groot rol in sy lewe speel as jou familie in joune. Die minste wat van jou verwag sal word, is om spesiale dae saam met hulle deur te bring en familiegeleenthede by te woon. Wanneer die kleinkinders eers hul opwagting maak, kan jy ook meer gereeld kuiertjies van jou skoonfamilie verwag.
“My skoonfamilie verskil totaal van my familie. Ons is ’n gemaklike, luidrugtige spulletjie, terwyl hulle weer so styf en sonder vreugde is. Ons bring elke twee jaar die feesdae by hulle deur en dit is nag. Ek kan net nie met hulle oor die weg kom nie – ek het probeer,” vertel Karlien*.
Dit is egter moontlik om ’n goeie verhouding met jou skoonfamilie te hê, jy moet net van die begin af aan die verhouding bou.
Doen dit só
Hier is 10 strategieë wat jou sal help om uit die staanspoor ’n positiewe verhouding met hulle te vestig:
1 Aanvaar die verskille. Aanvaar dat jou skoonfamilie nie jou ouers is nie en daarom waarskynlik sommige dinge op ’n manier sal doen wat vir jou vreemd is. Probeer om toe te gee wanneer dit nie werklik belangrik is nie, maar onderhandel kalm vir ’n middeweg as iets teen jou beginsels indruis.
2 Moenie iemand probeer verander nie. Besef dat jy nie jou skoonfamilie kan verander nie. Jy kan egter jouself verander deur ’n positiewe gesindheid teenoor hulle te vestig en te erken dat jy ook ’n rol in enige konflik speel wat tussen julle mag ontstaan.
3 Vermy aanhoudende kritiek. Hoewel jou maat daarvan bewus mag wees dat sy ouers soms jul grense oortree en jou frustreer, is hulle steeds sy ouers en sal hy hulle in die meeste gevalle verdedig. Dit sal slegs tot onnodige konflik tussen julle lei.
4 Dink positief. Dink aan jou skoonfamilie as ’n ondersteuningsnetwerk wat jy tot jou lewe kan toevoeg. As jy moeite doen om hulle te leer ken, na hulle te luister en jou bes doen om hul sienings te verstaan, sal hulle in die meeste gevalle ook moeite doen om jou beter te leer ken en meer verdraagsaamheid vir jou manier van doen te openbaar.
5 Wees versigtig vir twissiekte. Doen jou bes om jou nie te vererg en konflik oor nietighede te veroorsaak nie. Op hierdie manier maak jy slegs die onvermydelike vir jouself nog meer onaangenaam.
6 Los die konflik self op. Wanneer jy konflik met jou skoonfamilie ervaar, moet jy onder geen omstandighede jou maat in die middel daarvan plaas nie. Dit is nie regverdig om van hom te verwag om jou konflik met hulle op te los nie. Jy sal nie van hom verwag om tussenbeide te tree wanneer jy met ’n kollega vassit nie, moet dit daarom ook nie van hom verwag wat jou skoonfamilie betref nie. Jy moet vir die res van jou lewe met hulle saamleef, daarom kan dit slegs tot jou voordeel wees as jy reeds vroeg leer hoe om konflik met hulle op ’n beskaafde manier op te los.
7 Wees geduldig. Soos met enige ander verhouding, sal ’n standvastige verhouding met jou skoonfamilie tyd neem. Moenie moedeloos word as julle aanvanklik koppe stamp nie, dit is deel van die proses om mekaar te leer ken en verstaan.
8 Wees bereid om soms op te offer. As iets jou nie pas nie, wees soms die minste en kyk anderpad eerder as om jou te vererg. Dit sal jou en almal om jou die onaangenaamheid van ’n rusie spaar. As jou skoonfamilie ervaar dat jy hulle soms tegemoetkom, sal hulle dalk dieselfde vir jou doen.
9 Gun jou maat tyd saam met sy ouers. As jy aanhoudend negatief optree wanneer jou maat tyd saam met sy familie wil deurbring, benadeel jy slegs jouself. Wees gaaf en moenie opstandig teenoor hulle optree omdat hulle jou maat se tyd in beslag neem nie – anders sal jy vinnig van potensiële vriende vyande maak.
10 Laat hulle belangrik voel. Afgetrede mense het dikwels genoeg tyd om met die kleinkinders te help. As jy jou skoonouers af en toe vra om na die kinders om te sien, sal dit hulle groot vreugde verskaf. Wees egter versigtig om dit nie te oordoen nie; ’n ouma kan nie onbepaald agter haar kleinkinders aanhardloop nie!
Stel gesonde grense
“Goeie heinings maak goeie bure,” lui die Engelse spreekwoord. Om ’n goeie verhouding met jou skoonfamilie te handhaaf, moet jy ook gesonde grense stel.
• Kom ooreen oor die grense. Kom met jou maat ooreen oor die rol wat jou en sy familie in jul lewe moet speel en stel daarvolgens grense vas. Wees duidelik oor jul grense en pas dit voortdurend toe. Julle het die reg tot privaatheid en as hierdie reg geskend word, is dit jul eie verantwoordelikheid om toe te sien dat dit reggestel word. Dieselfde geld vir enige ander grens wat julle vasstel.
• Kommunikeer jul behoeftes. As jul grense aanhoudend oortree word, sal julle dit duidelik moet uitspel. Doen dit op ’n kalm manier en verseker die betrokkenes dat hulle nie uitgesluit en verwerp word nie, maar dat julle tyd nodig het om op jul huwelik te fokus.
• Stel nuwe grense wanneer die gesin uitbrei. Die koms van ’n eersteling is ’n lewensveranderende gebeurtenis en jy sal al jou energie nodig hê om op jouself en jou gesin te fokus. ’n Nuwe ma en pa het genoeg tyd saam met hul baba nodig om ’n band met hom te vestig en hul huwelik te koester.
As jou skoonma aanbied om tydelik by julle in te trek om met die baba te help en jy nie in hierdie kwesbare tyd daarvoor kans sien nie, bedank haar vir die gebaar, maar stel dit duidelik dat julle graag alleen wil wees om by die veranderinge van ouerskap aan te pas. As sy jul drumpel deurtrap, sal julle ook moet ingryp. Verduidelik aan haar dat julle sal verkies om op sekere tye van die dag of week nie gaste te ontvang nie, aangesien julle dan tyd aan die baba of aan mekaar bestee. Gesels egter saam met jou skoonma hieroor sodat sy nie onder die indruk kom dat dit slegs jou besluit is om grense te stel nie.
Vermy onmin
Skoonfamilie kan ’n aangename toevoeging tot jou lewe wees as jy dit reg benader. Hier is 10 dinge om in gedagte te hou sodat jy die klein jakkalsies kan vermy:
• Die verhouding tussen jou maat en sy familie was reeds lank gevestig voordat jy op die toneel verskyn het. Moet daarom nooit van hom verwag om tussen jou en hulle te kies nie.
• Behandel jou skoonfamilie altyd met dieselfde respek waarmee jy wil hê jou maat moet jou familie behandel.
• Die meeste ma’s sal aanvanklik effens skepties oor ’n nuwe skoondogter en die meeste pa’s oor ’n nuwe skoonseun wees. Moet dit nie persoonlik opneem of as ’n belediging sien nie.
• Handhaaf ’n balans tussen die tyd wat julle saam met jou ouers en jou maat se ouers deurbring om wrewel te vermy.
• Moet nooit jou maat se familie met joune vergelyk nie. Hulle is verskillende mense met verskillende agtergronde en sal waarskynlik sommige dinge anders doen as waaraan jy gewoond is.
• Moenie konflik of ander kwessies in jou huwelik met jou familie bespreek nie. As jy van jou maat verwag om die konflik binne die huwelik te hou, moet jy bereid wees om dieselfde te doen.
• As jy tyd maak om jou nuwe skoonfamilie te leer ken, mag hulle jou dalk aangenaam verras.
• Moenie jou skoonouers toegang tot hul kleinkinders weier tensy jy jou kinders om ’n goeie rede van hulle wil weghou nie.
• As jou skoonfamilie jou fisiek en emosioneel uitput, mag dit nodig wees om julle grense aan te pas. Bespreek dit met jou maat en stel nuwe grense vas.
• Behou altyd jou sin vir humor en wees vergewensgesind. Skoonfamilie is ook maar net mense wat foute maak en jy sal dit soms moet oorsien om alewige argumente en konflik te vermy.
• Jou maat sal waarskynlik van jou verwag om ’n relatief intieme verhouding met sy ouers, broers en susters te hê, ongeag hoe jy oor hulle voel