24 tot 28 Junie is Dwelmbewusmakingsweek. Daar word in ons 20 Junie-uitgawe ‘n paar algemene vrae beantwoord wat mense het wat met ‘n dwelmprobleem in hul gesin worstel. Hier is nog raad
Christa Swanepoel
Jou tiener en dwelms
Ramot is ‘n rehabilitasiesentrum in die Kaap vir enige verslawing. Hulle sê wat jy van jou kant af kan doen om te probeer voorkom dat jou tiener dwelms gebruik.
• Praat reeds van jongs af met jou kind oor wat jy van hom of haar verwag wat alkohol, dwelms, tabak en ander dwelms betref. As jou tiener dink jy sal dwelmgebruik toelaat, is die kanse groter dat hy of sy dit wel sal probeer.
• Hou jou tiener met betekenisvolle aktiwiteite besig, soos sport of ander groepsaktiwiteite.
• Verwag van jou kind om jul huisreëls te volg. Stel redelike strawwe vir swak gedrag vas en voer dit deur.
• Hou die kommunikasiekanale van kleins af oop. Prys jou kind vir enigiets wat hy of sy goed doen.
• Doen moeite om jou kind se vriende te leer ken. As jou kind vriende het wat dwelms vermy, sal hy of sy nie in die versoeking wees om dit te gebruik nie.
Maar wat as jy uitvind jou tiener gebruik dwelms?
1 Neem dit altyd ernstig op. Praat openlik met jou tiener en moedig hom of haar aan om dieselfde te doen.
2 Moenie harde woorde gebruik nie en moenie veroordeel nie. Wees so ondersteunend as wat jy kan. Vyandigheid van jou kant sal jou kind eerder wegstoot.
3 As jy nie weet hoe om dit te hanteer nie en ongemaklik daaroor is, roep die hulp van ‘n sielkundige of maatskaplike werker in.
4 As jou tiener ‘n probleem het, is dit belangrik dat hy of sy by ‘n dokter, maatskaplike werker of sielkundige uitkom. Behandeling met medikasie mag nodig wees, maar dit werk die beste as dit met terapie gepaardgaan.
5 Terugvalle is algemeen. Moet dit nie sien as ‘n mislukking van jou kind se kant of die program nie. Die herstelpad is moeilik en neem tyd. Neem dit een stap op ‘n slag.