Haskell Vineyards het verlede week die bekendstelling van hul SVS 2014 Hades, by La Mouette Restaurant in Seepunt bekendgestel
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts
Dié wyn is uit ’n enkelwingerd afkomstig en maak nou die Single Vineyard Series (SVS) voltallig. Die ander etikette in die reeks is die Haskell Pillars en Aeon Syrah en die Anvil Chardonnay. Die enkelwingerd-projek het oor die afgelope nege jaar ontwikkel.
Die druiwe vir die Hades is in 2007 op die plaas tussen Stellenbosch en Somerset-Wes aangeplant en in die eerste jaar het die helfte van die wingerd glad nie vrugte produseer nie. Dit het vir ’n paar jaar voortgeduur, tot 2014 toe Hades begin het om die uniekheid van die wingerdligging te weerspieël.
Die idee agter die Single Vineyard Series-projek het ontstaan toe die verskille in die plaas se enkelwingerd Syrah’s opgetel is. Die druiwe het elkeen unieke karaktereienskappe van die grond waarin dit geplant is, vertoon. Die verskil tussen die Haskell Aeon Syrah (vernoem na die antieke graniet- en sandsteengrond aan die voete van die Helderberg) en die Haskell Pillars (’n verwysing na die drie pilare teen die kant van die 0.85 hektaar wingerd by die plaas se ingang) is in 2009 beklemtoon, toe Pillars die eerste Suid-Afrikaanse wyn was om die Best Wine of Show by die Tri Nations Challenge in te palm.
Die Haskell Anvil Chardonnay, ’n wyn wat gemaak word uit een van die oudste Chardonnay-blokke (29 jaar) in Suid-Afrika, is ook bygevoeg. Dié wyn het verskeie kere vyfster-toekennings in die Platter’s South African Wine Guide ontvang.
Die landgoed se bestuurder en wynmaker, Rianie Strydom, sê die eerste oesjaar is in 2014 gebottel en dis die perfekte afsluiting van ’n bykans dekade-lange verhaal van uitsonderlike terroir. Dis ’n verhaal van deursettingsvermoë en die oorwinning van skoonheid en aroma en maak nou ’n perfekte voltalligheid vir die gesogte Single Vineyard Series.”
Die landgoed se wyne is met die kos van sjef Henry Vigar gepasmaat om die uniekheid van elke wyn na vore te bring.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.