In jou leeftyd loop jy omtrent vier keer om die wêreld, maar ons gee nie altyd genoeg aandag aan ons voete nie
CHRISTA SWANEPOEL
Gebarste hakke. Dit is ’n algemene probleem en word gewoonlik veroorsaak deur droë vel, wat vererger word as die hakrand dik is. Behalwe dat dit onooglik is, kan dit baie seer wees as die barste diep is. In erge gevalle kan dit ontsteek. Ander redes vir gebarste hakke is as jy lank moet staan, oorgewig is, oophakskoene dra asook sekere veltoestande soos psoriase of ekseem het. Probeer Carnation se Cracked Heel Cream as jy met gebarste hakke sukkel.
Kyk ’n slag goed na jou voete. Hulle kan meer oor jou algemene gesondheid sê as wat jy dink.
Donker vlekke
Enige vlek wat op jou voet verskyn, moet ondersoek word – dit kan ’n melanoom wees. Let daarop dat dit ook onder ’n toonnael kan begin.
Geel toonnaels
Dit kan op ’n fungusinfeksie dui, maar kan ook ’n teken van limfedeem, longprobleme, psoriase of rumatoïede artritis wees.
Geswelde voete
Dit kom algemeen voor as jy lank gestaan het of swanger is. As jou voete egter permanent geswel is, kan dit ’n teken van swak bloedsomloop, ’n probleem met die limfstelsel of ’n bloedklont wees. ’n Niersiekte of onderaktiewe skildklier kan ook swelling veroorsaak.
Knoptone met geronde naels
Dis ’n teken van ’n longsiekte, maar kan ook op hart- of lewerprobleme dui of dat daar iets met die spysverteringstelsel skort. Dit kom soms in families voor en is dan nie noodwendig ’n probleem nie.
Rooi, wit of blou tone
Dit kan ’n teken van Raynaud-siekte wees waar die are reaktief is en in ’n spasma gaan. Stres en temperatuurveranderings kan ’n sneller hiervoor wees. Raynaud-siekte kan ook met rumatoïede artritis, Sjögren-sindroom en skildklierprobleme verband hou.
Sleep van voete
Die eerste teken van ’n siektetoestand is wanneer jy anders begin loop – soos om jou voete uit te swaai of te sleep. Dit kan wees as gevolg van ’n stadige verlies van sensasie in jou voete weens perifirale senuskade. Ongeveer 30% van sulke gevalle kan aan diabetes toegeskryf word. Senuskade kan ook weens infeksie, vitamientekort en alkoholisme wees.
Koue voete
Dit kan ’n teken van swak bloedsomloop wees, wat met hoë bloeddruk, rook of hartsiekte verband kan hou. Onbeheerde diabetes kan ook jou voete koud laat voel.
Lepelvormige naels
Dis meermale ’n teken van ystertekort.
Pyn in voete
As dit voel of jy op ’n albaster loop of as die bal van jou voet pyn en dit na die tone toe uitbrei, kan jy Morton’s neuroma hê, waar die weefsel om ’n senuwee verdik – gewoonlik tussen die derde en vierde tone. Dit kom meestal by vroue voor weens te veel druk op die tone. As jou voet(e) ná ’n lang dag pyn en jy het nie hoë of ongemaklike skoene gedra nie, kan dit aan ’n stresfraktuur te wyte wees wat jy met intense oefening kon opgedoen het. Osteoporose verhoog die risiko.
Pyn in die groottoon
As dit met swelling en rooiheid gepaardgaan, is dit gewoonlik aan jig te wyte, maar kan ook ’n teken van osteoartritis wees. Sportmanne wat op harde oppervlakke meeding, kan ook hul ligamente om die toongewrig beseer.
Pyn in die hak
Die algemeenste oorsaak kan plantaarfassiïtis wees, inflammasie waar die voet se lang ligament aan die hakskeen vas is. Die pyn is gewoonlik op sy ergste as jy soggens opstaan. Artritis, oormatige oefening, skoene wat swak sit en tendonitis kan ook redes wees.
Voete wat brand
Dis ’n algemene gewaarwording by diabete wie se periferale senuwees beskadig is. Dit kan ook weens ’n vitamien B-tekort, voetskimmel, chroniese niersiektes, swak bloedsomloop in die bene en voete of hipotireose wees.
Voete wat jeuk
As die gejeuk met vlokkerige vel gepaardgaan, het jy waarskynlik voetskimmel, ’n algemene fungusinfeksie. Dit kan ook dermatitis wees – ’n reaksie op chemikalieë of velprodukte. As die vel boonop dik en vol knoppies is, is dit heel moontlik psoriase.
Voetkrampe
Dit kan veroorsaak word deur oorwerking en spiermoegheid, maar ook weens swak bloedsomloop, dehidrasie of ’n tekort aan kalium, magnesium, of vitamien D. Veranderende hormone tydens swangerskap en skildklierprobleme kan ook ’n rol speel.
Wit toonnaels
As die nael nie beseer of los is nie en heeltemal wit vertoon, kan dit ’n ernstige oorsaak soos lewersiekte, kongestiewe hartversaking of niersiekte hê.
Sere op die voete wat nie gesond word nie
Dis ’n groot waarskuwingsteken vir diabetes. Diabetes kan gevoel in die voete verminder, wat veroorsaak dat selfs net ’n blaas ’n seerplek kan word en dan ontsteek. Diabete moet daagliks hul voete vir seerplekke ondersoek. Gebruik Carnation se Anti-Blister Stick vir blase.
Besoek www.activo.co.za vir Carnation se volledige voetsorgreeks. Lees meer oor voete op www.Foot.com; Bronne: WebMD en Prevention