Patrizio Buanne gesels oor die goeie lewe, sy inspirasie en sy besoek aan Suid-Afrika
Yolanda Wessels
Dié sanger wat al as ‘n Italiaanse Tom Jones beskryf is, is vir drie weke in Suid-Afrika om sy nuwe CD, Viva La Dolce Vita, te bemark en sal op 30 Julie by Classics is groot optree.
Hy vertel hy het sy pa belowe dat hy hul familie bekend sal maak en is trots daarop dat hy hierdie jaar al ‘n dekade in die musiekbedryf is.
“Ek is gelukkig en leef my droom, maar bygesê niks kom vanself nie. ‘n Mens moet werklik hard werk en geduldig wees om ‘n droom te verwesenlik. Onthou dis wie langer aanhou hardloop, nie vinniger nie! Ek wil aanhou sing vir solank as wat mense daarvan hou om na my en my musiek te luister.”
Waar kom die musiek vandaan?
Patrizio het in Wene, Oostenryk, grootgeword en daar is sy liefde vir musiek van kleins af geprikkel.
Hy onthou nog hoe hy in hul gesinsrestaurant na plate geluister het en sommer gou het hy begin saamsing. Hy het van driejarige ouderdom af gaste met sy liedjies vermaak.
Sy ouers het toe al besef hul seun het musiektalent, maar was nie vreeslik ingenome met sy latere loopbaankeuse as musikant nie. “Hulle het my nogtans ondersteun al het hulle nie gedink dié professie gaan die rekeninge betaal nie. Hulle het my aangemoedig om steeds te studeer en ek het tale studeer. Ek het op universiteit tydens vakansies vertalingwerk gedoen.”
Hy het nog altyd ‘n passie vir tale gehad.
Sy ouers kom van Napels en het na Wene verhuis en hul huistaal was Italiaans. In Wene het hy Duits, Engels, Frans en Spaans op skool geleer. Sy halfsuster is met ‘n Pool getroud en hy het as tiener met ‘n Poolse meisie uitgegaan. So hy het dié taal ook leer praat.
As 17-jarige het ‘n musiekbestuurder hom hoor sing en voorgestel dat hy vir pous Johannes Paulus II in Pole sing. “Ek het voor 85 000 mense opgetree en hulle het dit goed ontvang. Dit het tot my eerste plaaslike musiekkontrak gelei.”
In 2004 het Patrizio ‘n vervaardiger genader met sy idee van ‘n album met romantiese Italiaanse liedjies. Hierdie was die begin van sy droom.
“Die opnames is in die wêreldbekende Abbey Road Studios saam met die Koninklike Filharmoniese Orkes gemaak. Toe ek my eerste goue album in my hand vashou, het ek vir die eerste keer die realiteit besef van als wat gedoen is en was baie trots. Dit was ‘n baie emosionele ervaring.”
Patrizio vertel dat dit ‘n onvergeetlike ondervinding was om die sokkertemalied, Stand Up, vir die 2006 FIFA-sokkerwêreldbeker in Duitsland op te neem. Hy is ook die eerste kunstenaar wat Robbie Williams se liedjie Angels in ‘n ander taal opgeneem het.
“Ek is bekend as die ‘ambassadeur van die Italiaanse Liedjieboek’, so daarom het ek besluit om dié slag ‘n Engelse liedjie in Italiaans op te neem. Ek het Robbie ‘n paar keer ontmoet en daarom hierop besluit. Ek verkies om groot liedjies op te neem en Un angelo is één van hulle.”
Soos vir die meeste kunstenaars is dit vir hom moeilik om loopbaanhoogtepunte uit te sonder.
“Elke jaar wat ek bevoorreg is om ‘n nuwe album op te neem en my bewonderaars te ontmoet, is ‘n hoogtepunt. Ek is dankbaar dat my loopbaan soveel die afgelope dekade gegroei het. Ek staan vir gehalte en eerlikheid en dáárdie reputasie is my rykdom en die applous my brood.”
Daar is min oorsese sangers wat kan sê hulle het ‘n Afrikaanse album opgeneem, maar Patrizio het. “Dit was ‘n groot uitdaging, maar ek hou daarvan. Ek wil nie net nog ‘n mooi gesiggie wees wat mooi sing en ‘n treffer het nie. Ek wil my beste gee en trots wees om as ‘n talentvolle kunstenaar en entertainer erken te word.” Hy het al saam met soveel talentvolle kunstenaars van regoor die wêreld opgetree, asook verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Nianell, Corlea Botha, PJ Powers en Ladysmith Black Mambaso (op sy albums Life is Beautiful, Dankie Suid-Afrika).
Saam met wie sal hy nog graag optree?
“Ek wil graag saam met Celine Dion optree of iets in die rolprentbedryf doen.”
Ek wonder of hy nie senuweeagtig raak voor sulke groot optredes nie en of dit natuurlik kom?
“Dit kom natuurlik, anders sou ek dit nie geniet het nie. Ek is in my element wanneer ek sing. Hoewel ek altyd baie gemaklik en selfversekerd is, ongeag van die grootte van die gehoor, is ek steeds ‘n bietjie senuweeagtig én opgewonde.”
Sy liefdes
Sy grootste stokperdjie, musiek, het sy werk geword. “Dit is nie ék wat my musiek die wêreld inneem nie, maar die stem wat my op ‘n reis neem.
“Ek versamel CD’s, hou van geskiedenis, is passievol oor kos. Ek hou van kook, DVD’s kyk en speel graag met Mama se hond.”
Hy hou van mense en gesels graag. Daarom dat hy dit so geniet wanneer hy toer om nuwe mense te ontmoet en vriende te maak.
“Ek hou van verskille, ons sou nie harmonie gehad het as almal dieselfde was nie. Volmaaktheid lê in onvolmaaktheid.”
Sy liefde vir mense en tradisies en dinge wat gebeur, dien as inspirasie wanneer hy sy gedagtes vir ‘n nuwe album formuleer. “Ek versamel altyd idees en weet ek moet altyd ‘n tree vooruit beplan en met nuwe idees vorendag kom. Dis ook die rede waarom, wanneer ek ‘n land besoek, ek rondbeweeg sodat ek die kultuur, die tradisies en kos kan leer ken. Ek geniet nie net die sightseeing nie, maar doen soos die Romeine doen.”
Wat kan Suid-Afrikaners van sy vertoning verwag? “Hoe minder die mense verwag, hoe groter die verrassing! Op ‘n ernstiger noot: al die treffers asook liedjies vanaf my splinternuwe album, Viva la Dolce Vita.”
Hy is ‘n bekende naam in Suid-Afrika, maar wat bring hom terug hierheen?
“My aanhangers, die liefde en respek wat ek oor die jare ontvang het, asook die entoesiasme en waardering wat mense deurentyd teenoor my openbaar.
“Dís hoekom ek ‘n album spesiaal vir Suid-Afrika opgeneem het. Ek is trots daarop dat Suid-Afrikaners my hul gunsteling- Italiaanse sanger noem. Is dit nie genoeg rede om altyd welkom hier te voel nie?”
Oor drome vir die toekoms, vertel Patrizio: “Ek wil weer na Suid-Afrika terugkeer, nie net om te toer en vir promosie nie, maar om my geliefdes hierheen te bring sodat hulle sélf die Suid-Afrikaanse skoonheid kan beleef. Gesondheid, gemoedsrus en om vir altyd te kan sing – dís my droom.”
Patrizio tree saam met kunstenaars soos Jannie Moolman en Corlea by Classics is groot op. Kaartjies is beskikbaar by www.ticketpros.co.za
Luister hoe mooi sing die man! Hier is ‘n musiekvideo van sy liedjie I will love you:
www.vrouekeur.co.za/artikel.aspx
Patrizio op sosiale media:
Facebook: www.facebook.com/patriziobuanneofficial
Twitter: @patriziobuanne
Besoek Patrizio se webwerf