In ons moderne lewe met ons oorgestimuleerde breine en ons liggame wat minder aktief as ooit is, ondervind baie van ons die uitputting en wanbalanse wat chroniese stres sonder voldoende herstel tot gevolg het.
Ansja Ferreira
In die VSA wys nuwe statistieke dat 9,5% volwassenes (21 miljoen mense) joga doen. In Suid-Afrika het joga se gewildheid ook toegeneem en word orals gedoen, vanaf die townships tot by groot korporasies, waar dit deel van korporatiewe welstandsprogramme is, om werknemers te help om stres te hanteer, minder afwesig en meer produktief te wees en hul persoonlike houding te verbeter.
Pramilla, Jennifer, Rene en Nina is die direkteure van The Academy of Yoga and Ayurveda en het saam meer as 90 jaar se Joga-, Joga-terapie en Ayurveda–ondervinding. Hulle bied joga-instrukteursopleidingsprogramme, werkswinkels en gereelde klasse in Kaapstad aan en verduidelik wat joga behels en hoe dit jou tot voordeel kan wees:
Volgens dié jogakenners balanseer joga alle dimensies van jou wese en maak die lewe die moeite werd. “Joga is ’n baie breë filosofie wat in Indië ontstaan het. Daar word geglo dat dit meer as 5 000 jaar oud is en die filosofie van joga dek ’n aantal verskillende aspekte oor hoe om jou lewe te lei. Dit is nie ’n geloof nie en daarom kan enige persoon van enige geloofsgroep, ras, ouderdom of fisieke vermoë joga beoefen.
“Joga word dikwels in flieks en boeke verkeerd voorgestel, maar daar is ’n aantal jogarigtings.
“Die beoefening van joga bring ons na ’n dieper toestand van bewustheid van onsself en hoe ons ons lewens lei. Wanneer ons in harmonie met die natuur lewe, wyse en gesonde lewenstylkeuses maak, ’n gevoel van tevredenheid en diep onvoorwaardelike liefde ervaar en meer intuïtief en in harmonie met ons onmiddellike behoeftes leef, sal ons in staat wees om siektes te voorkom of sal ons in staat wees daarom vinniger te identifiseer en te weet hoe om die situasie te benader.
“Joga is nie voorskriftelik nie en jy kan nie ’n jogaposisie doen om ’n siekte soos kanker te genees nie. Die beoefening van joga en meditasie sal egter die liggaam en gedagtes aanmoedig om teenwoordig te wees en om die emosies in ’n logiese lig te observeer, wat jou in staat sal stel om kalmer en doelgerig deur die siekte te beweeg.
Dit inkorporeer tegnieke en bewustheid van die fisieke, geestelike, emosionele en spirituele welstand om die liggaam en gees deur die asemhaling te balanseer.
Wanneer al hierdie “liggame” kalm en ontspanne is, is daar harmonie en kan die liggaam homself genees.
Die beste tyd vir joga is die tyd wat jou die beste pas. Daar is baie klasse wat voor werk aangebied word as jy op jou beste is in die oggend of die dag met ’n energieke oggendoefening wil begin. Teen die einde van die dag sal ’n herstellende of stadiger meditasie-oefening ’n wonderlike manier wees om jou dag te eindig en die liggaam en gees vir ’n rustige nagrus voor te berei. Oefen altyd op ’n leë maag sowat drie tot vier uur ná hoofmaaltye, maar jy kan peusel aan iets ligs soos vrugte of vrugtesap.
“Kyk uit vir klasse naby jou werk of huis en vind ’n gepaste tyd om jou jogaklasse by te woon. Verken en ervaar verskillende instrukteurs en style van joga en vind dan die klas wat jy die meeste geniet en skep jou nuwe roetine. Konsulteer jou mediese praktisyn om jou gesondheid te evalueer voordat jy met jou klasse te begin.
Onthou dat joga ook ’n vaardigheid in aksie is, so wees gedissiplineerd met gereelde oefeninge en die belonings sal veelvoudig wees.
MEER INLIGTING
Inligting verskaf deur die direkteure van The Academy of Yoga and Ayurveda: Pramilla, Jennifer, Rene en Nina. Besoek www.academyofyoga.co.za
Township Yogi: kontak [email protected].
Besoek www.academyofyoga.co.za
SOURCES
Pixabay