Die gewilde sangeres Janie Bay se splinternuwe enkelsnit ‘Jammer’ is pas deur Warner Music South Africa uitgereik
Janie Bay vertel dat haar nuwe liedjie binne 10 minute op papier beland het: “Ek het ‘n paar weke met ‘n sterk emosie rondgeloop en toe ek uitendelik gaan sit om dit neer te skryf, het dit baie vinnig gebeur. Sommer so saam met my oggendkoffie. Ons almal wou al jammer sê of het dit gesê, maar dit bly moeilik. Ek het ‘Jammer’ geskryf vir iemand wat ek seergemaak het. Met hierdie liedjie en ook die video, deel ek my gevoelens. Dit is nooit te laat om jammer te sê nie. Ek het ook met die skrywe daarvan al geweet dat hierdie my volgende enkelsnit moet wees.”
Die produksie van “Jammer” is deur Ewald Janse van Rensburg en Dolf Willemse by Popkult behartig en die liedjie is blitsvinnig voor die staat van inperking opgeneem. Die fotograaf Henry Marsh het boonop in rekordspoed die musiekvideo gemaak. “Ek dink dit is ongelooflik wat mens kan uitrig wanneer jy jou hart volg, wanneer jy weet iets is bedoel om te wees en om dit dan met die wêreld te deel,” gesels Janie.
Janie Bay het in 2019 talle nuwe aanhangers met haar Afrikaanse musiek gewerf. Haar twee Afrikaanse enkelsnitte “Amper daar” en “Die heelal” wat verlede jaar uitgereik is, het volgens RadioMonitor.com reeds gesamentlik meer as 2 000 keer op Suid-Afrikaanse radiostasies gespeel. Albei liedjies het op verskeie trefferlyste verskyn: “Amper daar” was nommereen op Maroela Media en GrootFM en “Die Heelal” het die nommereenposisie op Bok Radio se Top 20 gehaal. Die video van “Die heelal” wat Janie saam met die gewilde kletsrymer Early B opgeneem het, is reeds meer as 190 000 keer op YouYube gekyk.
“Jammer” is beskikbaar op alle gewilde digitale musiekplatforms. https://warnermusicsa.lnk.to/JammerLY
Kyk hier na die video:
Janie Bay:
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.