Morgenster landgoed, net buite Somerset-Wes het sy nuwe olyfparsmasjien, -wyne, -etikette en die eerste gesertifiseerde enkel-wingerd wyn, bekendgestel.
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Morgenster se internasionaal-bekroonde ekstra suiwer olyfolie word nou deur die wêreld se voorste olyfpars onttrek. Die landgoed se eienaar, Giulio Bertrand, het die nuutste Pieralisi-pars ingevoer en dis nou slegs die tweede een van sy soort in die wêreld. Hy het aan gaste by die bekendstelling vertel dat die masjien nog meer geur as ander masjiene behou, omdat dit die onttrekkingsproses van 40 minute na 15 minute verminder en die olie dus korter met suurstof in aanraking bring.
Bertrand het ook die wyn-etikette laat herontwerp en die twee nuwe rooi Bordeaux-versnitte, die Morgenster Reserve 2013 en Morgenster Lourens River Valley 2013 spog nou met nuwe etikette. Ook die Italiaanse kultivars se nuwe oesjaar vrystelling van die Tosca en Nabucco 2014 en Caruso 2017 het nuwe etikette.
LEES OOK: Wynmaker: Jolette Steyn
“Die grootste nuus vir ons is egter die nuwe voorkoms van die enkel-wingerd reeks, die Morgenster Sauvignon Blanc 2017 en Morgenster Sangiovese 2017, die eerste wat met nuwe etikette spog,” het hy opgewonde aan gaste vertel.
Na die vars olyfolie almal se neusgate gevul het, is daar wyn geproe saam met die bekroonde keldermeester, Henry Kotzé. Die proe het onder meer die Morgenster Reserve 2013 – die landgoed se vlagskip rooi Bordeaux-versnit – wat in samewerking met Pierre Lurton, Morgenster se konsultant-wynmaker van Château Cheval Blanc gemaak is, ingesluit. Ook op die proelys was Morgenster Lourens River Valley 2013; die Morgenster White Reserve 2015 – die vyfde oesjaar van die klassieke Bordeaux-wit – wat 4½ sterre in die 2017 John Platter Guide ontvang het.
Die Morgenster Nabucco 2014 – die landgoed se eerste enkel-wingerd wyn is die agste oesjaar wat bekendgestel is van die plaas se klein 1,6 hektaar Nebbiolo-wingerd; die Morgenster Tosca 2014; die Morgenster Caruso 2017 – die negende oesjaar van die plaas se 1.8 hektaar Sangiovese; die Morgenster Sauvignon Blanc 2017 – een van die landgoed se eerste enkel-wingerd wyne wat onder die nuwe etiket spog, se vyfde oesjaar en die Morgenster Sangiovese 2017 – die tweede enkel-wingerd wyn.
LEES OOK: ’n Wyntjie met jou naam op
Die historiese plaas Morgenster op Somerset-Wes wat in 1711 gestig is, is die tuiste van die Italianer, Giulio Bertrand van Piedmont, wat in 1992 die plaas gekoop het en uitgebou het tot een van die land se voorste wyn- en olyfolie handelsmerke. Hy het onder meer derduisende olyfbome ingevoer en die plaaslike olyfbedryf as’t ware laat blom.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.