Voorkom ’n familietwis oor jou testament en boedel. Kenners gee ’n oopkopgids vir die opstel daarvan
Ansja Ferreira
“Om een of ander rede dink ons dat ons in die toekoms kan sien en daarom sal die beperkende bepalings of voorskrifte wat ons in ’n testament wil inskryf, die beste roete wees om ons rykdomme vir nageslagte te bewaar,” sê hy.
Horace noem ’n eenvoudige voorbeeld: “Jy bepaal in jou testament dat jou woonhuis nie verkoop mag word nie en dat dit vir jou nageslagte bewaar moet bly. Wat nou as die woonbuurt ná jou afsterwe vervalle raak en jou kinders van die eiendom ontslae (moet) wil raak? Of hulle kry vir welke rede ’n baie aantreklike aanbod op die eiendom?”
Horace waarsku dat beperkende bepalings soos dié tot onnodige draadwerk en duur administratiewe prosesse kan lei. As jy egter vasbeslote is dat jou bates vir jou nageslagte beskerm moet word, beveel hy eerder aan dat jy ’n trust met betroubare trustees oorweeg. Los dan besluite rakende die trustbates (wat jou bates was) aan die diskresie van die trustees oor sodat hulle in die belang van die begunstigdes kan handel, wat waarskynlik jou kinders en hul nageslagte sal wees, sê hy.
Kan jy ná jou dood jou erfgename beheer?
Die antwoord is ja en nee. In sommige gevalle kan dit in ’n mate gedoen word, maar daar is beperkinge, byvoorbeeld in gevalle waar die bepalings onwettig, immoreel, onuitvoerbaar of diskriminerend teenoor ander ten opsigte van ras, geslag of ander aspekte is.
Sommige mense voel ongemaklik om hul geld sonder sekere beperkinge en verwagtinge aan hul erfgename na te laat. Miskien is hulle bang dat die mense wat gaan erf nie finansieel volwasse genoeg sal wees om ‘n groot bedrag geld verstandig te hanteer nie. Of dalk wil hulle net die geld nalaat as die erfgename aan sekere verwagtinge voldoen.
Die skrywer Laura Sanders noem ’n interessante geval in haar artikel How to Control Your Heirs from the Grave in The Wall Street Journal.
“Meer as 100 jaar gelede het ’n Connecticut-hof ’n bepaling goedgekeur waar erfgename hul van (die van Tyrrel) op ’n sekere manier moes spel om hul erflating te ontvang,” skryf sy.
“Sy noem ook die voorbeeld van Leona Helmsley, die weduwee van ’n miljarder, wat ’n miljoendollartrust vir haar hond nagelaat het. Sy het verder ook bepaal dat haar kleinkinders hul pa se graf een maal ’n jaar moet besoek of anders sou hulle hul uitbetalings kwyt wees.
Jonathan Turley, ’n Amerikaanse regskrywer, skryf oor ’n buitengewone geval waar ’n vrou bepaal het dat haar kat ná haar dood deur ’n veearts uitgesit moes word. Dit was nie ’n geval van wreedheid nie, want die vrou was eintlik ’n diereliefhebber en het die meeste van haar geld aan diereliefdadigheidsorganisasies nagelaat. Sy wou voorkom dat die kat dalk nie versorg word nie.
Op ’n meer romantiese noot het die Amerikaanse komediant en akteur Jack Benny in sy testament bepaal dat ’n enkele rooi langsteelroos ná sy dood (1974) daagliks vir die res van haar lewe by sy vrou afgelewer moes word.
Ander vreemde versoeke wat deur kenners genoem word, is iemand wat versoek het dat sy kleinkind ’n “dwelmtoets” moet laat doen voordat hy ’n erflating kan ontvang en daarop aangedring het dat die erfgename hul geld gebruik om byvoorbeeld aan dieselfde universiteit te studeer waar hy studeer het.
Ander probeer weer keer dat hul eggenote ná hul afsterwe weer trou of ’n verhouding aanknoop deur te bepaal dat die vrou vruggebruik kan kry of in ’n woonhuis kan woon (dit word “in habitatio” genoem) totdat sy weer trou of in ’n saamleefverhouding is, waarna sy die voorreg verbeur.
“’n Mens kry dit soms by gebroke huwelike dat die man nie geld vir sy kinders aan sy eksvrou wil toevertrou nie en dit dan aan die kinders self bemaak,” sê Connie Bruwer, ’n geoktrooieerde rekenmeester en boedelkenner. Besef dan dat die geld deur ’n voog beheer gaan word of dit selfs in die Meester se voogdyfonds kan beland as die kinders minderjarig is, sê hy.
“Dit is beter om deur jou testament ’n trust te skep wat die kind se versorging sal waarneem totdat hy of sy mondig is, waarna die trust kan ontbind en die res van die geld aan hom of haar uitbetaal word,” sê hy.
In hul finansiële beplanning moet mense die volledige gevolge van hul dood verstaan en nie goedsmoeds aanstellings doen en instruksies gee wat hul naasbestaandes later nadelig kan raak nie, sê Connie.
Baie trustmaatskappye is deesdae bereid om beredderingskoste met jou te beding terwyl jy lewe. Doen dit as deel van jou beplanning, want dan het jy nog beheer, sê Connie.
Wenk Moenie probeer om jou kinders of bates vanuit die graf te regeer nie. Inspireer reeds hul gedrag wanneer jy nog lewe en leer jou kinders om verantwoordelike volwassenes te word. Op hierdie manier sal jy veel beter in jou doel slaag.
Hoe maak jy seker jou is testament wettig?
“Dit is belangrik om met ’n spesialis te gesels rakende die opstel van jou testament, sê Horace Terry.
“Moenie ’n testament by ’n skryfbehoeftewinkel gaan koop en net die inligting op die leë reëltjies voltooi nie,” waarsku hy.
“Hoewel ’n testament so eenvoudig as moontlik gehou moet word, is daar tog heelwat oorwegings wat in ag geneem moet word en waarvoor beplan moet word, voordat die finale dokument opgestel word. Dit is presies waar goeie advies rakende die opstel nuttig sal wees. Onthou ook, die optrek van ’n goeie, uitvoerbare testament gaan met ’n deeglike boedelontleding en finansiële beplanning gepaard. Jou testament moet wetlik en finansieel uitvoerbaar wees, sê Horace.
Wat gebeur as jy sonder ’n geldige testament sterf?
“As jy sonder ’n testament of met ‘n ongeldige of gedeeltelik ongeldige testament tot sterwe kom, sal dit beteken dat jou bates ten opsigte van die intestate erfreg sal vererf,” sê Horace.
“In die geval van ’n ongeldige testament, sal die deel van die bates wat nie volgens die testament verdeel kan word nie, volgens die beginsels van intestate erfreg vererf,” verduidelik hy.
Dit is egter ’n mite dat jou bates in so geval na die staat sal vererf (behalwe in sekere uiterste gevalle), sê hy.
Volgens Horace sal daar dus outomaties bepaal word in watter verhouding sekere persone sal erf. Die basiese beginsels is as volg: “As die intestate erflater deur slegs ’n gade oorleef word, sal die gade die enigste erfgenaam wees. As daar geen gade is nie, maar slegs afstammelinge, sal hulle die boedel erf. Let wel, met afstammelinge word daar bedoel wettige kinders en kleinkinders. As daar ’n gade en afstammelinge is, sal hulle almal die boedel erf, maar volgens ‘n bepaalde verhouding. As daar geen gade en/of afstammelinge is nie, sal die intestate erflater se ouers en/of hul afstammelinge die boedel erf. Daar is egter ander scenario’s ook wat buite bogenoemde verduideliking val, maar die spesifieke verduideliking sal op die meeste van ons van toepassing wees, sê Horace.
Wanneer kan jou testament betwis word?
’n Testament is een van die dokumente wat die meeste in die hof betwis word. “Dit is gewoonlik ’n ontnugterde erfgenaam of ’n onterfde erfgenaam se eerste reaksie: ‘Ek gaan die testament betwis en ongeldig laat verklaar,’” sê Horace. “Dit is egter nie so maklik nie. Dit bly die erflater se keuse hoe hy of sy hul bates tussen erfgename wil verdeel. Daar moet dus ’n baie goeie rede wees voordat die hof na iemand sal luister wat ’n testament wil betwis.”
Volgens Horace is van die redes wat aangevoer word wanneer ’n testament betwis word, die volgende: “Neem byvoorbeeld ’n testament wat nie reg geteken is nie. ’n Testament moet op alle bladsye deur die testateur/testatrise en twee onafhanklike getuies, in mekaar se teenwoordigheid, geteken word. Sou daar bewys kan word dat die testament nie in almal se teenwoordigheid geteken is nie, kan dit ongeldig verklaar word. Moet ook nooit dat ’n erfgenaam of enige ander belanghebbende die testament as ’n getuie teken nie.
"
Tweedens, maak seker jy gebruik die korrekte regs- en tegniese terme om sodoende verwarring en dubbelsinnighede uit die weg te ruim. Dit is juis hier waar ’n kenner jou baie kan help. Derdens moet die erflater by sy volle verstand wees wanneer hy sy testament teken en moet hy deeglik bewus wees dat die dokument wat hy teken ’n testament is. Soms misbruik erfgename die gesondheidstoestand van ’n erflater, om hom of haar vinnig ’n testament te laat teken wat in hul belang is, terwyl die erflater nie eers bewus is van die feit dat hy ’n testament teken nie. Hierdie is net ’n paar gevalle, maar daar is ook ’n aantal ander, sê hy.Wanneer is daar ’n hoë risiko vir ’n familietwis?
“Omdat die afsterwe van ’n geliefde met baie emosie en smart gepaardgaan, kan dit ook daartoe lei dat erfgename onder mekaar begin baklei rakende die bepalings van die testament,” sê Horace.
“Uit my ondervinding is dit gewoonlik ’n onterfde erfgenaam, wat ’n familietwis kan ontketen, veral as die persoon nie bewus was van die feit dat hy/sy onterf is nie. Daar kan ook twiste ontstaan wanneer, veral kinders, nie in gelyke dele erf nie en een kind voel dat ’n bate hom eerder toekom as vir ’n ander. Baie keer (veral in boedels met baie kontant), kan inhaligheid en gierigheid ook erfgename teen mekaar laat draai, wat tot erge familietwiste kan lei, sê Horace.
Horace wys op ’n paar algemene slaggate
• Bespreek jou testament se bepalings met alle belanghebbendes, maak seker hulle verstaan jou wense en hoekom jy dit so verkies.
• Betaal vir die opstel van jou testament.
• Maak seker jy doen ’n deeglike boedelontleding, dit sal vir jou ’n aanduiding gee van koste en belastingimplikasies wat jy kan verwag en wat die bates is wat kan vererf.
• Maak seker daar is voldoende likiditeit in jou boedel om te verseker dat jou testament finansieel uitvoerbaar is. Bekom die nodige lewensversekering om enige likiditeitstekorte aan te vul.
• Moenie dat ’n testament ongetekend rondlê nie. Sodra jy tevrede is met jou testament, teken dit in ooreenstemming met die wetlike vereistes en berg dit op ’n veilige plek.
• Maak seker jou eksekuteur, ouditeur/rekenmeester, prokureur en finansiële beplanner het almal afskrifte van jou testament.
Kontak Horace by [email protected] en Connie by [email protected]
Loer op www.vrouekeur.co.za vir meer inligting oor boedels