Ons kyk in ons 27 Februarie-uitgawe na die spanning wat verhuising kan meebring. Hier is nog inligting
Kristel Loots
Tieners en trek
Tieners probeer nog hulself vind en vriende speel ’n belangrike rol in hierdie soektog. Sonder hulle raak die lewe selfs meer ingewikkeld. Om vingeralleen by ’n nuwe skool in te stap waar almal na jou staar asof jy van die buitenste ruimte af daar geland het, is genoeg om ’n tiener van balans af te gooi. Verwag ’n mate van opstand by hulle as hulle gedwing word om te verhuis.
Opstand is nie beperk tot tieners nie
Dis nie altyd uit vrye keuse wat jy jou wortels uittrek om verplant te word nie. As jou wederhelfte verplaas word, voel jy dalk verontreg, ook omdat jy jou werk waarin jy gelukkig is, moet opgee om hom te volg. Jy neem hom kwalik daarvoor, selfs al was dit nie deur sy toedoen nie. Iemand moet as sondebok dien.
En dan is daar die diere
Dit is nie altyd moontlik om hond, kat en papegaai saam te neem na waarheen julle gaan nie, veral nie wanneer daar na ’n ander land verhuis word nie. Dit is ook ’n afskeid wat hartverskeurend kan wees. Die beste raad is om vroegtydig voorsiening te maak vir die troeteldier wat deur die jare deel van die gesin geraak het. Maak self seker daarvan en verseker jou kind dat sy speelmaat goed versorg sal wees.