Daar’s ’n paar foute wat paartjies maklik maak en ’n resep vir rampspoed is. Ons kyk na ’n paar wat jy kan vermy
Zerelda Esterhuizen
1 Julle fokus meer op wat verkeerd as wat reg is
Mense maak foute, maar as jy later meer begin fokus op dinge wat jou maat verkeerd doen in plaas van dit wat hy of sy reg doen, kan dit probleme veroorsaak. Sien jy ook raak wat jou maat vir jou beteken en nie net als wat hy “verkeerd” doen nie?
Jy kan fokus op hoe jou geliefde heeldag voor die TV lê en nooit skottelgoed wil was nie, of jy kan daarop fokus dat hy liefdevol en mal oor jou en jul kinders is. Dr ST Potgieter is ’n kliniese sielkundige van Kaapstad en sê ’n mens moet op die positiewe fokus en dan sal jy die goeie in jou maat raaksien: “Dit beteken nie dat jy die verkeerde dinge in jul verhouding ignoreer nie. Nee, julle moet steeds daaroor gesels, dit aanspreek en hanteer. Maar die fokus is nie op die negatiewe nie, maar op die positiewe en mooi dinge wat jy in jou maat raaksien,” sê hy.
Dr Elmari Mulder Craig, seksuoloog en verhoudingsterapeut, sê sy raai paartjies om vir mekaar te vertel hoekom hulle regtig lief is vir mekaar. “Maak van positiewe bevestiging gebruik en fokus op dinge wat regtig saak maak.”
2 Julle werk nie meer aan die verhouding nie
Dit klink heel eenvoudig, maar in die begin van ’n verhouding belê mense heelwat, maar dan begin die jare aanstap en dis kinders, werk, huis en jy begin al hoe minder tyd vir jou maat maak. Jou maat moet maar wag, hy sal mos verstaan … maar verhoudings verg toewyding, harde werk en opoffering.
Nes jou motor verg jou huwelik ook onderhoud. “Mense in ’n verhouding raak net te gewoond aan mekaar en verloor naderhand hul waardering vir mekaar,” sê ST.
“Ons moet daarteen waak om ons maat as vanselfsprekend te aanvaar. ’n Vrou het nou die dag vir my gesê haar man beskou haar eintlik maar net as nog ’n meubelstuk in die huis. Jy moet doelbewus planne maak en moeite doen met jou maat. Jy moet voortdurend met liefde, aandag, toewyding en respek teenoor jou maat optree. Jy moet jou maat spesiaal laat voel.”
Elmari sê dis baie belangrik dat paartjies ’n huweliksvoorbereidingskursus voor die groot dag ondergaan. “Nog ’n wenk is om elke jaar ’n projek vir jou huwelik te hê – iets wat jou huwelik kan laat groei.”
3 Elkeen doen sy eie ding
Natuurlik moet mense steeds in verhoudings tyd vir hulself en hul belangstellings maak, maar as hy eers elke naweek op sy dinge en stokperdjies fokus en jy op joune, mag daar probleme insluip. Dit bly belangrik dat paartjies dinge saam doen en tyd vir mekaar maak.
’n Goeie balans en matigheid is die antwoord volgens ST. “Gee elkeen die ruimte om sy eie ding te doen – maar moenie dit oordoen nie. Moenie totaal ongebalanseerd raak in jou stokperdjie, sport, rekenaar, TV-kyk, vriende of wat ook al nie – vind die balans vir genoeg tyd saam met mekaar.”
Elmari wys tydens terapie vir paartjies sirkels om vir hulle te verduidelik hoe hul verhouding behoort te wees. “As jy twee sirkels uitsny en hulle is apart, is dit te ver weg van mekaar, as jy twee sirkels weer opmekaar sit, kan jy nie die onderste ene sien nie, maar as die sirkels langs mekaar is en oorvleuel, is die stuk in die middel julle. Elkeen het steeds sy eie identiteit, maar julle is nie ver uit mekaar nie.”
4 Julle is oneerlik met mekaar
Vertroue is die grondslag waarop verhoudings gebou word. As jy iets doen om jou maat se vertroue te verloor, staan jy die kans om hom of haar ook te verloor.
ST sê geskende vertroue breek jou maat se hart. “As jy iets wil doen wat jy weet skade aan jou verhouding kan aanrig, moet jy eers ’n oomblik wag, daaroor dink en besef watter skade dit kan aanrig. Haal diep asem en onthou ’n oomblik se waansin kan ’n leeftyd se wantroue skep.”
Elmari sê dis waar dat vertroue en respek baie belangrik is, maar jy hoef nie alles aan jou maat openbaar te maak nie. “Sekere dinge kan groter skade aan jou verhouding verrig, jy hoef nie skuld oor jou verlede te beken en als te vertel nie.”
5 Julle breek mekaar af
Ons wil elkeen gewaardeer en belangrik voel en as jou maat jou verkleineer en afkraak, kan dit die doodsklokke vir jul verhouding lui. ST benadruk dat jy nie woorde ongedaan kan maak nie.
“Jy kan nie die lelike of slegte woorde terugneem nie. Dink dus baie mooi watter woorde uit jou mond kom. Woorde het al onmeetbare skade aan verhoudings aangerig. Jy kan iemand met woorde opbou of afbreek – dit is jou keuse. Dit is ongelooflik hartseer hoe mense mekaar aftakel en met woorde vernietig. As jy iemand voortdurend verkleineer, breek dit die verhouding heeltemal af.”
Elmari sê konflik is ? goeie ding, ’n mens hoef nie oor alles saam te stem nie, maar as jy persoonlik raak, is dit nie goed nie. “Julle moet ’n veilige ruimte vir mekaar skep om probleme en konflik te bespreek.”
6 Jul kommunikasie bly in die slag
“Die gebrek aan kommunikasie is die groot doodsteek in ’n verhouding en huwelik. Wanneer maats nie meer eerlik, openlik en gereeld met mekaar kommunikeer nie, moet die rooi ligte flikker,” maan ST.
“Sonder kommunikasie kan jy nie eintlik ’n lekker, sinvolle verhouding in stand hou nie. Een fout wat paartjies maak, is om te dink dat kommunikasie net praat beteken. In die praktyk het ek gesien watter geweldig negatiewe impak hierdie persepsie is – hulle praat en praat dikwels – maar hulle vergeet om werklik na mekaar te luister. Jy moet moeite doen om werklik na jou maat te luister. Onthou, kommunikasie bestaan uit praat én luister. Sommige mense weet egter nie wat dit is om aktief te luister nie en moet die vaardigheid aanleer.”
7 Fisieke intimiteit bly agterweë
Seks en fisieke aanraking tussen paartjies bly belangrik en hoewel dit dalk vir die een party in die verhouding belangriker is as vir die ander, is dit nodig om daaraan aandag te gee. “As seks in die huwelik wegraak, het jy gewoonlik probleme,” vertel ST. “Daardie intieme omgee en toenadering is so nodig soos wat sement tussen bakstene en mure is om ’n gebou sterk te hou. Gaan sien ’n terapeut as daar probleme is.”
Elmari sê as die fisieke ’n probleem is, moet daar na die fisieke én emosionele komponent gekyk word. “As daar geen mediese oorsaak is nie, moet die emosionele sy bespreek word. Emosionele en seksuele intimiteit gaan hand aan hand.”
Meer inligting
• Dr ST Potgieter: 021 949 5007, [email protected] of www.pitkos.co.za
• Dr Elmari Mulder Craig: 082 783 6633 www.facebook.com/elmariMcraig
www.elmaricraig.co.za, www.tussendielakens.co.za, www.betweensheets.co.za