Alle verhoudings kom voor uitdagings te staan. Ons bekyk drie van die algemeenste dilemmas waarmee paartjies worstel
Ansja Ferreira
Ons het kenners gevra om van die grootste verhoudingsprobleme te identifiseer en oplossings daarvoor te gee.
1 Emosionele verwydering
“Na my mening is een van die grootste verhoudingsprobleme dat paartjies emosioneel oor tyd ‘diskonnekteer’,” sê Anri van den Berg, ‘n huweliks- en verhoudingsberader van die Vita Nova-beradingsentrum.
“Hulle bestee nie rêrig meer tyd saam nie, want met die gejaag en gewoel van die alledaagse lewe, is ‘tyd vir mekaar’ een van die eerste dinge wat skuif om plek vir ‘belangriker’ dinge te maak,” sê sy.
“Interaksie en gesprekke tussen die egpaar handel dan ook al hoe meer oor al die logistieke reëlings rakende die gesinsverantwoordelikhede: Wie vat watter kind hoe laat dokter toe, wie gaan die melk koop, ensovoorts. Die meer intieme gesprekke, “ek en jy”-gefokusde gesprekke, byvoorbeeld drome en vrese rakende die toekoms, raak al hoe minder,” sê Anri.
“Hierdie emosionele ‘diskonneksie’ is selde iets wat doelbewus plaasvind, dis meer ‘n stadig groeiende simptoom van ons lewensbestaan. Ouers gooi hul hart en siel in hul kinders in, om seker te maak dat hulle oukei is, beroepe neem eerste prioriteit om kop bo water te hou en die stil, rustige ek–en-jy–tyd raak ’n vae herinnering,” verduidelik sy.
“Soos tyd aanstap, vind daar groei in die twee individue plaas – positief of negatief. Maar omdat die twee nie tyd saam om te connect as prioriteit beskou nie, groei hulle uitmekaar. As ons nie aktief seker maak dat ons as paartjie saam groei nie, is ‘uitmekaargroei’ ’n besliste, realistiese gevaar.
“Waarmee ’n mens dan eindig, is ’n paartjie wat voel hulle ken mekaar nie meer nie. Op ’n punt is dit as ’t ware asof hulle vir die eerste keer in ’n lang ruk na mekaar toe draai en mekaar nie meer emosioneel herken nie. Onthou dit gebeur nie net ewe skielik op ’n dag nie – hierdie is ’n gaping wat met verloop van tyd net al hoe groter raak,” sê Anri.
Anri se raad
• “Tyd saam om te connect, is van enorme belang. Maak alleentyd saam met jou maat een van jou grootste prioriteite. Wanneer julle tyd saam bestee, waak daarteen om gesprekke rondom huishoudelike en ouerlike pligte te laat draai. Praat oor ander dinge, vra interessante, filosofiese vrae en gebruik hierdie geleenthede om mekaar opnuut te herontdek of beter te leer ken.
• Deel jou dag se lekker en sleg. Sodoende is jou maat op hoogte met wat in jou lewe aangaan en hoe jy as mens daaroor voel, hoe jy dit hanteer het en wat jy daaruit leer. Dis hoe mense “saam groei”. Ons bly aktief bewus van die kleinste veranderinge in denke of sienswyses.
• Hê pret saam! Dis vreeslik belangrik. Ons as volwassenes is so besig om verantwoordelik en “groot” te wees, ons skep bitter selde geleenthede vir sommer net lekker laf wees. Om saam te kan lag en mekaar op ‘n spontane, prettige manier te geniet (selfs as die hele gesin saam) skep heerlike herinneringe.
• Woon paartjiewerkswinkels by. As jy sukkel met gholf, gaan jy vir lesse. As jy mooi klere wil maak, gaan leer jy by iemand hoe om dit te doen, maar die oomblik wat ons eintlik ‘n bietjie “vaardighede” in ons huwelik kort, vee ons dit onder die mat in. Daar is baie waarde in “voorkoming is beter as genesing”. Doen hierdie werkswinkels as deel van jul “ons”-tyd en leer sodoende ’n bietjie meer van jouself en van mekaar.
2 Ontrouheid
’n Baie algemene probleem wat paartjies ondervind nadat ontrouheid aan die lig gekom het, is om weer te vertrou, sê Ansie Joubert, ’n verhoudingsterapeut.
“Ontrouheid kan baie traumaties wees vir die een wat seerkry. Heel dikwels is dit ’n lang gesukkel om weer te vertrou as hulle besluit om die verhouding weer ’n kans te gee,” sê sy.
Ansie gee ’n voorbeeld van so ’n situasie: “Marie* was heeltemal platgeslaan toe sy uitvind haar huweliksmaat van 15 jaar, is reeds twee jaar in ’n skelm verhouding met ’n kollega. Eers is sy platgeslaan deur ongeloof en daarna het haar emosies wipplank gery tussen woede, hartseer en ’n gevoel van verwerping. “Sy het gevoel sy is ná al die jare nie meer goed genoeg vir hom nie en dat hy iemand anders bó haar verkies. Aanvanklik het hy alles ontken, maar tog later besluit om die waarheid te praat. Hy was baie jammer. Marie kon egter nie help om te wonder hoe lank die skelm verhouding nog sou aanhou as hy nie uitgevang is nie. Is hy jammer omdat hy uitgevang is óf omdat hy haar seergemaak het?”
Ansie stel die volgende voor:
“Vir die ontroue maat, sal die volgende stap moet wees om ’n keuse te maak: Wil hy/sy die huwelik probeer red of wil hy/sy met die buite-egtelike verhouding voortgaan? As die keuse op die huweliksmaat val, sal die hele proses nou afhang van die een wat seergekry het. Hy/sy moet besluit of daar genoeg hoop is vir ’n toekoms saam – ongelukkig is daar geen kitsoplossings nie, net harde werk. Die keuses wat volg, moet baie eerlik en kognitief (nie net emosioneel) gemaak word nie. Die langtermyngevolge kan andersins rampspoedig wees,” sê Ansie.
“Die een wat seergekry het, het die reg om sekere voorwaardes te stel, soos geen verdere kontak met die derde party nie. Dit kan beteken dat van werk verander moet word. Om na ’n ander plek te verhuis, is ook ’n opsie. Daar kan ook aangedring word daarop om hulp te kry,” sê sy.
Volgens Ansie is een van die grootste uitdagings wat nou voorlê vir die een wat seergekry het, om weer te vertrou.
“Om die woorde: ‘Ek is jammer’ te hoor, is nie naastenby genoeg nie. Die huweliksmaat wat seergekry het, wil seker wees dat die een wat ontrou was, die pyn en vernedering waardeur hy of sy gaan, sal verstaan. Die keuse om ontrou te wees, was alleenlik daardie persoon en nie iemand anders s’n nie. Vertroue is nie ’n gegewe nie, maar moet deur openheid en eerlikheid verdien word. Die een wat seergekry het, sal vir baie lank vrae vra en baie herinneringe sal nog lank seermaak. Die een wat afgedwaal het, sal baie geduldig moet wees. Hy of sy moet regtig die pyn verstaan waardeur die ander een gaan,” sê Ansie.
“Om te vergewe, is ’n baie belangrike stap om vertroue te herwin. Dit is ’n wilsbesluit, maar gebeur nie oornag nie. Wat kan help, is om na jou maat se kinderjare te kyk: Waar kom hy/sy vandaan? Hoe was die ouers se verhouding? Watter emosies is as kind ervaar? Probeer verstaan hoe dit bygedra het tot die aandag wat hy of sy aan ’n derde party gegee het. Dit help altyd om objektief na ’n emosionele situasie te kyk. Baie belangrik, is ook om te dink wat jy anders kon gedoen het en hoe jy hom of haar nou kan ondersteun.
“Jy gaan vir ’n baie lang tyd nog met negatiewe en seer gevoelens worstel, maar om te vergewe, beteken dat jy emosioneel op ’n baie beter en gemakliker plek gaan wees. Jy kan weer jou kop met selfvertroue oplig,” sê Ansie.
“Respek vir mekaar is nog ’n been waarop ’n stewige verhouding staan. Jy moet jou maat se standpunt kan insien en nie jou eie probeer afdwing nie. Jy hoef nie saam te stem nie, want elkeen is geregtig op sy eie idee, maar dit is belangrik vir die een wat seergemaak is om te weet dat sy of haar mening tel. Hy of sy wil en moet binne die verhouding veilig voel. Vir albei partye is dit nodig om te voel dat hulle aanvaar word. Angs vir verwerping het ’n baie slegte invloed op ’n verhouding.
“Dit gaan daaroor om bereid te wees om risiko’s te neem. Jy sal jouself moet blootstel en selfs waag om die eerste stap te neem. Begin luister en probeer hoor wat die ander een in die verhouding sê.”
Volgens Ansie is daar geen waarborge dat ontrouheid nie weer sal gebeur nie, maar om voortdurend oor jul emosies te kommunikeer, is die beste wat julle kan doen. As so iets gebeur, is dit gewoonlik ’n baie goeie idee om professionele hulp te kry.
3 Konflikhantering
Konflik gebeur in alle huwelike, sê Mariana Muller, ’n lewensafrigter. “Waar twee mense met hul eie stel verwagtinge, verskillende opvoedings, persoonlikhede, slegte gewoontes en normale verskille tussen mans en vroue saamgevoeg word, met alles wat in die daaglikse lewe gebeur, is konflik onvermydelik.
“Die manier waarop konflik hanteer word, kan eenheid of isolasie tot gevolg hê. Een rede hoekom konflik ontstaan, is omdat dit gewoonlik teenoorgesteldes is wat mekaar aantrek en ná ‘n rukkie se getroude lewe wonder mense hoe op aarde hulle by mekaar uitgekom het met twee sulke verskillende persoonlikhede en agtergronde.
Hoe reageer jy in ’n konfliksituasie?
“Ongeduld kan veroorsaak dat jy oorreageer met woede waaroor jy later spyt is. Kap jy vinnig terug of hou jy jou emosies in toom wanneer jou maat jou omkrap? Is jy geneig om met woede te reageer wanneer jy onregverdig behandel word? Geduld maak mense selfstandig. Die bedagsame aard van liefde leer jou om jou verstand in te span voor jy jou mond gebruik.”
Introverte vs ekstroverte
Mariana sê jy moet dink hoe jou maat oor die manier voel waarop jy in sy of haar teenwoordigheid optree. Sluit jou maat jou uit, bly hy of sy stil as iets pla?
“In ’n verhouding tussen ’n introvert en ekstrovert, verkies die introvert gewoonlik om met rus gelaat te word om die situasie te oordink, terwyl die ekstrovert gewoonlik dadelik die situasie wil probeer oplos. Jou maat kan jou ignoreer om jou seer te maak, omdat hy verkies om konfrontasie te vermy of dit kan ’n kombinasie wees van seergemaakte gevoelens en die onvermoë om dit te kan bespreek.
Iemand wat geïgnoreer word, voel onbelangrik. Niemand hou daarvan om gedurig teen ’n klipmuur vas te loop nie. Dit is vernederend en veroorsaak emosionele pyn. Die persoon wat die ander persoon se stilswye moet hanteer, raak gefrustreerd met meer eise wat tot gevolg het dat die ander persoon meer onttrek.”
Die grootste skade wat in huwelik aangerig word, gebeur gedurende konfrontasie.
As jy intimiteit van voorheen mis, doen moeite om weer jou maat se hart te verstaan. Hou in gedagte dat jou maat, net soos jy, ’n onvolmaakte wese is, wat jou met jou foute aanvaar. Jy kan nie iemand verander nie, verandering begin by jouself.
Daar is min ervarings so lekker soos om verlief te wees, maar ’n huwelik verg versorging. Huweliksmaats moet hulself daarop toelê om mekaar se emosionele behoeftes te ken en te verstaan.
Meer inligting
Anri: 082 541 4357, [email protected] of www.vitanova.co.za
Ansie: [email protected], www.verhoudings.co.za
Mariana: 083 658 6299, [email protected] of www.thebmisolution.co.za en www.beatitudomaximelifecoaching.co.za