Werner sou nooit die plek in ’n boetieklodge verander het nie. Werner het die plek vir die ongerepte natuur gekoop
Deur ELNA JORDAAN
“Baie dankie, juffrou Ross.” Hy glimlag ’n seuntjieglimlag en sy blou oë skitter. Hy lyk soos ’n Griekse god. Hy ruik soos iets wat ‘n mens teen jou wil vasdruk. Hy is oulik en gaaf en ordentlik. Hy is die grootbaas se enigste. Hy doen niks aan my hart nie.
“Plesier, meneer Meier.” Ek knik met ’n professionele grinnik. Ek weet ek lyk goed. Ek het seker gemaak in die spieël in die gang. My bolla is nog netjies en die krulle wat uitpeul, peul uit omdat ek so besluit het. My lipstiffie is vars en lyk bedrieglik klam. My syhempie laat my vroulik en ietwat hulpeloos lyk.
Ek stap terug na my kantoor. Wanneer ek agter my lessenaar sit, trek ek my muis nader. Kyk nikssiende na die rekenaarskerm en wonder: Hoekom het pa Meier, die eienaar en besturende direkteur van Meier Broers, sy enigste seun uit Londen laat kom om die aankondiging te kom behartig? Dis tog ‘n blote formaliteit. Hulle kon my maar ’n faks en ’n bos blomme gestuur het. ’n Bottel Franse vonkelwyn sou dit mooi afgerond het.
Maar nee, daar gaan glad ’n naweek van gemaak word. Die ganse kantoor én die mooie seuntjie van pa Meier gaan vir die hele naweek na ’n deftige oord.
Ek stuur my cursor om te gaan googeloer vir kantoormeubels. As nuwe Afrika-hoof van Meier Broers sal ek beslis ’n fris begroting hê om my kantoor mee op te knap.
Vrydag twaalfuur staan ek saam met almal en wag vir die twee bussies wat ons na ons deftige bestemming moet vervoer.
Meneer Meier maak sy opwagting. Hy ruik al weer lekker. Boonop kom staan hy te na aan my. Hy glimlag intiem en beduie: “Ek en jy ry in die voorste bussie. Hou vir my plek langs jou. Ek gaan net gou die agterste bestuurder beduie hoe om te ry.”
Hy drafstap oor die straat. Draai halfpad om en glimlag joviaal.
“Suzie … jy gee nie om as ek jou so noem nie? Dan noem jy my sommer Dieter.”
Ek weet ek glimlag. Ek voel my nek styf span. My tande kners. In my kop blits en donder dit. My naam is Suzaan. Net een mens het my Suzie genoem.
Ek klim styf-styf in die bussie. Sit skaars voor Dieter Meier ewe rats in die bussie spring en langs my kom sit.
“So, wat dink jy van die lodge wat ek vir die aankondiging gekies het?” vra hy en ek kyk hom onbegrypend aan. Ek skud my kop en trek my skouers op.
“Ek kan niks dink nie, want ek weet nie waarheen ons gaan nie.”
“Het ek jou nie gesê nie?” Hy skud sy kop en sit sy hand ewe vertroulik op my bobeen.
“Jammer, Suzietjie. Ek dog ek het almal gesê.”
“Waarheen is ons op pad?” vra ek terwyl ek van iewers die gevoel kry dat die man die gek skeer met my.
“Feekieland …”
Die woord ontplof in heksesirkels in my kop.
“’n Gek naam, is dit nie? Feekieland. Die plek waar drome waar word.”
Dink kan ek nie op hierdie oomblik nie. Asemhaal ook nie.
“Dis ’n ou pel van my se plek.”
Hy kyk na my en wag asof ek iets moet sê. Dan gaan hy verder.
“Hy het dit vir ’n appel en ’n ei gekry omdat dit so verwaarloos was. Toe omskep hy dit in ’n boetieklodge. Jy weet, soos ‘n mens boetiekhotelle kry.”
Hy kyk al weer vir my of hy verwag ek moet iets sê. Ek het niks om te sê nie. Maar ek kan darem weer asemhaal. Die blitse in my kop begin bedaar.
Werner sou nooit die plek in ’n boetieklodge verander het nie. Werner het die plek gekoop vir die ongerepte natuur. Dus het Werner die plek vir ’n appel en ’n ei verkoop. Toe gebruik hy natuurlik daardie appel en ’n ei om ’n ander ongerepte kat in ’n ander ongerepte sak te koop. Werner was nooit ’n wafferse sakeman nie. Maar hy was ’n man. ’n Wafferse man.
Sommer met die intrapslag is dit duidelik: Feekieland is nie meer dieselfde nie. Die afgeremde plaashek het plek gemaak vir ’n sierlike wit ingangsboog. Die geboue lê spierwit agter die swembad wat groter en blouer is en die grasperke wat groener is as toe ek dit laas gesien het. Tien jaar gelede?
Ons stap die voorportaal binne. Die skakerings van wit skep ’n illusie van weelde. Die koel. Dis smaakvol. Dis alles wat dit nie was nie.
Dan verloor ek weer my asem. Want daar tussen die wit weelde van Feekieland staan ou Doep van die Kaap af en glimlag van oor tot oor. Aan ou Doep se sy, in ’n denim wat beslis nie uit Mr Price kom nie en ’n knoophemp wat ongelooflik baie na ’n Hillfiger lyk, staan die reus met die naam Werner.
Doep is so hartlik bly om my te sien dat ek genadiglik nie dadelik aan Werner aandag kan gee nie. En toe ou Doep se omhelsing en guitige groetery bedaar, is Werner en Dieter diep in gesprek en kan ek na my kamer wegglip.
In my kamer moet ek eers my gesig met koue water was en ’n paar keer asemhaal. Ek beduie vir myself dat ek nie tyd het vir ontsteltenis nie. Ek het Werner en Feekieland verruil vir ’n werk wat my iewers sou bring. Nou is ek iewers. En Werner is hier. En Feekieland is opgeknap.
Ek neem die hele middag om reg te maak vir die aand se aankondigingsgeleentheid. Buite hoor ek die ander klomp by die swembad baljaar terwyl ek bad en skrop en maskers aanplak en naels verf en hare blaas en wroeg.
Soos dit my gewoonte is, gaan staan ek eers ’n paar minute voor die spieël voor ek uitgaan. Ek lyk goed. Vanaand peul daar niks hare uit my bolla nie. Dit sal nie pas by die Afrika-hoof nie. Die eenvoudige swart syrokkie vou sensueel om my. Net een robyn pryk aan ’n stywe halssnoer om my nek. Ek gaan lank aan dié stukkie juweliersware afbetaal. Maar ek gaan dit nie eers voel nie. As Afrika-hoof gaan ek ’n stewige verhoging kry.
Die geselligheid verloop swierig. Dieter drup sjarme waar ons saam met Werner en Doep aan ’n tafel sit. Werner is gereserveerd-ordentlik. Uiteindelik staan Dieter op en klop op die tafel en wanneer almal stil raak, maak hy sy aankondiging.
“Dames en here, julle is almal al baie nuuskierig.”
Nee. Niemand wonder nie. Almal weet.
“Dus gaan ek dit nie langer uitstel nie …”
Ek moes vars lipstiffie aangesit het. My lippe is droog. Hoe gaan ek my aanvaardingstoespraak met droë lippe maak?
“Die nuwe Afrikahoof van Meier Broers is my goeie vriend Doep du Plessis.”
Ek klap hande saam met almal. Ek glimlag. Ek hou my asem op en hoop die huil in my maak nie trane op my wange nie. Hoe het dit gebeur?
Vir ’n hele halfuur ná die aankondiging glimlag ek en sê die regte dinge, maar glip by die eerste geleentheid weg kamer toe. Niemand sal my mis nie. Almal vier fees saam met ou Doep.
In my kamer staan ek vir ’n paar oomblikke net doodstil. As ek nie Suzaan Ross was nie, het ek gehuil. Geskop en geslaan ook. En geskree.
Maar dis nie my styl nie. Beplanning. Dis my styl. Hoe ek myself hieruit gaan beplan, weet ek nie.
Dit was mý pos. Jare al het ek hiervoor gewerk en beplan.
“Hoe het dit gebeur,” sis ek deur my tande en skrik my koud as ’n baie bekende stem agter my praat.
“Fyn beplanning.”
“Is jy gek, Werner? Ek sou tog nie beplan om nie …”
“Jy is nie die enigste een wat kan beplan nie, Suzie.”
Ek kyk na Werner. Soek in sy oë wat vanaand onleesbaar is.
“Wie?” wil ek weet.
“Ek.”
“Hoekom sou jy my ondergang beplan?”
Hy lag laag.
“Dis allermins jou ondergang, Suzie.”
Hy tree nader. Hy ruik nog altyd na kaneel. Sy borskas dein te naby. Sy asem is warm op my wang wanneer hy weer praat.
“Dis net die einde van die loopbaan wat ek vir jou moontlik gemaak het.”
“Hoekom?”
“Jy was lank genoeg ’n sakevrou. Dis nou tyd dat jy my vrou word.”
“Nadat ek jou soos ‘n warm patat gelos het?”
Sy arms gaan om my lyf. My kop gaan soek sy borskas. Dis nog net so salig soos toe.
“Jy’t my nog nooit gelos nie, Suzie-lief. Ek het jou laat gaan. Ek het geweet jy het tyd nodig om jou ambisie uit te woed. Maar my geduld is nou op. En my verlange te veel.”
En vir die heel eerste maal weet ek dat ek ook verlang het. Heeltemal te veel.