Amanda dwing haar gedagtes terug na die penarie waarin sy haar nou bevind. Sy besluit om die bloedspoor te volg en kaptein Zingwena te soek. Sy maak die deur stadig oop en waag dit om haar kop uit te steek
Deur ANGIE NOLL
Amanda Viljoen stamp die deur met haar skouer oop, rol oor en skop dit agter haar toe. Hygend hurk sy teen die muur, die pistool voor haar, vinger op die sneller. Sy luister en probeer om haar asemhaling te laat bedaar, maar sy hoor geen voetstappe nie. Waar is hy?
Daar is ’n bloedspoor op die vloer – iemand is hier gewond, maar het dit reggekry om te vlug. Sy moet dringend oogkontak met kaptein Zingwena maak, weet waar hy is in vergelyking met die skurke. Hulle sal mekaar moet help om vandag lewendig hier uit te kom. Om te dink dat sy skaars ’n uur gelede vir Alicia by haar balletklas afgelaai het. Toe moes sy haastig deur die middagverkeer vleg om by haar onderhoud vir die pos by die Valke uit te kom. Dit sal ’n groot bevordering wees.
Sy is nog nie eers ingeroep nie – die hoof van die Valke was kaptein Zingwena nog aan die uitvra oor haar vermoëns toe hy by die deur uitgestorm kom. “Amanda, kom! Twee bendes maak weer moles – hulle skiet mekaar flenters by die ou fabriek in Gemsbokstraat.” Met ’n sug het sy die tydskrif neergesmyt en hom kar toe gevolg. Amanda besef sy sal nie betyds terug wees om haar kind op te laai of om met huiswerk te help of aandete te kook nie. Alicia sal weer saam met tannie Elsabé ’n geleentheid huis toe moet kry. G’n wonder die kind is die laaste tyd so suur nie.
Amanda dwing haar gedagtes terug na die penarie waarin sy haar bevind. Sy besluit om die bloedspoor te volg en kaptein Zingwena te soek. Sy maak die deur stadig oop en waag dit om haar kop uit te steek. Kyk vlugtig links, dan regs. Hardloop half gebuk van een pilaar na die volgende, maar die tweede vloer van die fabriek is verlate. Sy volg die druppels bloed verder. Skielik is daar ’n beweging aan haar linkerkant. Blitsvinnig swaai sy om en vuur ’n skoot in die rigting van die hoop vullis en sement in die hoek.
’n Rondloperkat storm uit, stert in die lug, en vlieg by die trap af. Amanda sug en laat haar wapen sak. Sy moet konsentreer – sy kan nie op elke kat en rot in die vervalle plek skiet nie. Die trap na die grondvloer gaap voor haar. Dis die gevaarlikste deel. Enigiemand wat op die onderste vloer skuil, sal haar sien afkom.
Sy is ’n maklike teiken. A sitting duck, sou kaptein Smith van die opleidingsentrum afkeurend gesê het. Maar daar is geen ander uitweg nie, al is dit dalk ’n doodsvonnis. By die eerste trap aangekom, snak Amanda na haar asem. Ná al die jare onder kaptein Zingwena sal sy hom enige plek herken. Dis hy wat daar onder soos ’n gebreekte lappop in sy eie bloed lê, die dienspistool nog in sy hand. Sy dwing haar aandag weg van sy lewelose lyf en veg teen die naar wat in haar keel opstoot. Klim die volgende trap, Amanda. Sy hou haar oë op die grondvloer van die fabriek. Elke senuwee in haar liggaam is oorgehaal vir enige beweging of geluid. Die absolute stilte pla haar. Waar is hulle? By die voet van die trap aangekom, kyk sy doelbewus nie na die kaptein se lyk nie. “Kliek.” Amanda koes instinktief toe sy die oorhaal van ’n geweer hoor en skiet in die rigting van die klank. Kolskoot! Die man val en bly agter ’n pilaar lê. Sy duik agter ’n stapel ou deure en gebreekte kosyne in. Was hy die laaste een? Of is daar nog iemand hier? Die skok van kaptein Zingwena se dood saam met die onsekerheid van die situasie begin haar oorweldig. Sy skud haar kop en haal diep asem.
Vanaand eet ek, Hendrik en Alicia die sappigste kreef wat die V&A Waterfront het. En ek deel die duurste bottel wyn wat my kredietkaart kan bekostig met my man. Die gedagte aan haar man en kind help haar altyd kalmeer en fokus. Sy glimlag. En Alicia kan ook sommer daardie peperduur nuwe Barbie kry. ’n Skuldgeskenk van haar besige ma. Maar nog voordat Amanda kan dink hoe sy haarself lewendig hier gaan uitkry, hoor sy ’n stem. Een wat veels te bekend is, want sy hoor dit elke dag vir die laaste tien jaar. Dis die stem wat daardie somersaand vir haar gesê het hy is lief vir haar, wat haar op ’n koue Kersdag in Switserland gevra het om met hom te trou. Dis die stem wat elke nou en dan ietsie stouts in haar oor fluister wanneer hulle snags lepellê. “Amanda, moenie skiet nie, asseblief,” pleit Hendrik. Sy vries en voel hoe die aarde onder haar uitgepluk word. Die donkerte dreig om haar bewussyn te oorrompel. Sy verstaan nie wat aangaan nie. “Amanda?” Hendrik klink huiwerig. Sy stem eggo teen die kaal mure van die fabriek. Sy bly roerloos in haar skuilplek, vasgevang soos ’n haas in ’n lig. Sy weet as sy nou beweeg, gaan die jakkals haar vang. En dan ’n ander man se stem: “Amanda, ek gaan jou Hendrik as ’n skild gebruik. Ek is nou moeg van die kat-en-muis-speletjie. Skiet jy op my, gaan óf jy óf ek vir Hendrik raakskiet. Is dit duidelik?” Die man het ’n Europese aksent. Dalk ’n Rus? ’n Tsjeg? Maar hoe op aarde het hy vir Hendrik in die hande gekry? En hoekom? “Ek weet wat jy dink, Amanda.” Die Rus klink heel seker van homself. “Jy wonder hoe ons die arme Hendrik hierby ingesleep het.” Hy lag spottend, en vir Amanda klink hy soos ’n hiëna. “Dit wys jou net. ’n Mens ken nooit regtig die mense om jou nie. En jy het gedink Hendrik is maar net ’n prokureur wat heeldag sit en kontrakte opstel.” Weer die hiënalaggie. “Kontrakte ja, maar jy het nooit gevra vir wie nie, het jy?” Skuldgevoelens kriewel oor Amanda se vel en krap aan haar gewete. Nee, ek het nooit gevra nie.
Te besig met my eie sake – gyselaardramas, roof en moord, kapings, vermiste kinders en die vervloekte bendes wat mekaar net nie kan uitlos nie. Die skuld poel agter haar oë. Het ek regtig so eensydig geword dat Hendrik reg onder my neus met misdaad deurmekaar geraak het? Die bitter smaak van mislukking sit agter in haar keel. Mislukking as ma, as vrou en as speurder. Maar met dié gedagte beur daar so ’n woeste kwaad in haar op dat sy sukkel om dit in bedwang te kry. Hendrik! Hoe kon hy sy hele familie in gevaar stel? Die verraaier! Voor Amanda nog behoorlik kan besin, neem haar opleiding oor. Asof sy van buite na haarself kyk, sien sy hoe sy die pistool in haar hand oplig. Sy weet instinktief die grynsende hiëna sal nie verwag dat sy so gou op hom gaan vuur nie. Sy het ’n goeie idee waar die vent staan. Blitsvinnig swaai sy om en trek die sneller. ’n Gebed flits deur haar gedagtes. Die man se kop ruk agteroor voordat hy langs Hendrik op die koue sementvloer neersyg. Amanda laat nie haar pistool sak nie. Sy hou dit reguit op Hendrik gemik. Dié keer bars die trane deur die walle. Maar die woorde om Hendrik mee aan te val, wil nie kom nie. In haar kop en rondom haar is net stilte. Vir Amanda het tyd gaan stilstaan. Die geluid van hande wat agter haar klap, dwing haar aandag terug na die hede.
Sy draai stadig om, moedeloos, en sien kaptein Zingwena. Hy stap doodluiters na haar toe met ’n groot glimlag op sy gesig. Die man wat sy netnou agter die pilaar geskiet het, is die een wat nou vir haar staan en hande klap. “Knap gedaan, Amanda.” Kaptein Zingwena se oë blink van trots. “Jou onderhoud is verby. Jy het jouself en jou bekwaamheid as speurder bewys,” sê die “Rus” wat ’n oomblik gelede langs Hendrik dood neergeval het. “Die pos by die Valke is joune.” Daardie aand, terwyl Amanda, Hendrik en Alicia aan vet, sappige kreef smul, vertel hy vir haar hoe kaptein Zingwena hom gevra het om deel van haar toets te wees. Hoe hulle seker gemaak het haar pistool is net met leë koeëls gelaai en hoe hulle die vorige dag die hele toneelstuk geoefen het. ’n Behoorlike dress rehearsal,” lag hy. Dis sy kredietkaart wat vir die kreef en bottel duur vonkelwyn betaal. En hy het ook vir Alicia se splinternuwe Barbie betaal.