Sommige mense vrees verandering terwyl ander weer daarop floreer, maar kan jy hierdie vrees verander? vra JB Roux in ons 5 Februarie-uitgawe. Lees hier meer oor verandering
In haar boek The first 30 days sê Ariane de Bonvoisin daar is ’n paar treffende verskille tussen mense wat verandering goed hanteer en mense vir wie verandering baie moeilik is. “Mense wat verandering as’t ware omhels, dink: ‘Verandering is goed. Verandering behels groei en iets goeds wag op my.’
“Hulle glo verandering bring iets nuuts en dat verandering altyd ten goede is. Wanneer verandering op hulle afgedwing word of wanneer hulle self die een of ander soort verandering teweeg bring, probeer optimistiese mense om die beste van die situasie te maak deur na iets positiefs in die situasie te soek. Mense wat bang is vir verandering glo dit is moeilik, dat dit hulle angstig en onveilig sal laat voel en dat verandering vir altyd sal duur. Hulle glo hulle is ongelukkig wanneer iets in hulle lewens verander en dit laat hulle verlam en angstig voel en hulle glo dat hulle nie verby dié fase in hulle lewe sal kan verbybeweeg nie.
“Die vinnigste manier om tydens verandering beheer te neem is om bewus te word van wat jou verstand vir jou sê en dan ’n sterk poging aan te wend om dit met beter gedagtes te vervang. Neem kennis van wat deur jou gedagtes gaan en van wat jy die meeste vir jouself én vir ander sê. As jy byvoorbeeld ’n verhouding beëindig, glo jy dalk jy sal vir altyd alleen wees omdat jy nie aantreklik genoeg is nie of nie waardig is om ’n toegewyde lewensmaat te hê nie. As jy probeer om gewig te verloor, glo jy dalk dat jy wéér nie suksesvol sal wees nie.
“Maar al die negatiewe dinge wat ’n mens jouself wysmaak, is blote gedagtes. Ons skep ons eie mistastings en waarhede. Ons breine werk soos rekenaars en ons het die vermoë om ‘negatiewe’ programme ‘uit te vee’ en met meer effektiewe programme te vervang. Die groot verskil tussen mense is dít waaraan hulle glo.”