Die wysgeer Aristoteles het gesê ons is wat ons herhaaldelik doen – ons is ons gewoontes.
CARIEN GROBLER
Jy kan jou lewensgehalte verbeter – een gewoonte op ‘n slag
Die wysgeer Aristoteles het gesê ons is wat ons herhaaldelik doen – ons is ons gewoontes. Hy het ook gemeen mense wat groot hoogtes bereik, maak ’n gewoonte daarvan.
In die boek The power of focus beweer outeurs Jack Canfield, Mark Victor en Les Hewitt dat tot 90% van ons gedrag op ons gewoontes gegrond is. Dit beteken elkeen van jou gewoontes, hoe gering ook al, het ’n invloed op jou lewe, maar belangriker, op jou lewensgehalte.
Gewoontes is dinge wat ons outomaties doen, daarom hou ons dikwels aan met dinge wat ‘n negatiewe invloed op ons lewe het sonder om daaroor na te dink.
Die meeste van jou gewoontes het die een of ander tyd ‘n doel gedien, soos hoe jy jou tyd beplan, hoe jy op sekere situasies reageer en hoe jy eet. Dit gebeur egter selde dat ons dit evalueer om te bepaal of dit steeds ‘n doel dien en of dit nie intussen in ‘n negatiewe of sinlose gewoonte verval het nie.
“Negatiewe gewoontes is ‘n broeiplek vir negatiewe gevolge; positiewe gewoontes skep positiewe belonings,” sê Jack, Mark en Les.
Jy kán jou lewensgehalte verbeter en gereeld positiewe belonings smaak – een gewoonte op keer. Moenie vandag probeer om jou hele lewe om te keer nie, jy sal kort voor lank weer in jou ou gewoontes verval. Pak eerder een gewoonte op ‘n slag aan en fokus daarop totdat jy sukses behaal.
Doen dit só
1. Ontleed jou gewoontes. Let‘n week fyn op jou gewoontes en bepaal daarna watter gewoontes jy moet verbeter, staak of vervang om jou lewensgehalte te verbeter. Skryf dit neer. As jy elke maand een gewoonte verander, sal jy ná ‘n jaar 12 gewoontes hê wat jou positief beloon!
2. Kies ‘n gewoonte. Besluit watter gewoonte jy eerste gaan verander of vervang en besluit dan hoe jy dit gaan doen. Onthou, jy is nie bloot besig om ‘n slegte gewoonte te laat staan nie, maar jy leer ook ‘n goeie gewoonte aan. As jy byvoorbeeld minder tussenin wil eet, kan jy die gewoonte aanleer om meer water te drink. Jy sal outomaties minder eet omdat die water jou vol laat voel.
3. Sit jou doelwit uiteen. Vae doelwitte is geneig om vae resultate op te lewer. Stel daarom vir jouself ‘n duidelike doelwit soos om elke dag op ‘n sekere tyd ‘n uur lank te oefen.
4. Motiveer jouself. As jy ‘n goeie rede of aansporing het om die verandering te maak, is die kanse goed dat jy dit sal deurvoer. Skryf neer hoe jy by die verandering sal baat vind en hoe dit jou lewe positief sal verander. Kyk weer hierna as jy sukkel of moedeloos raak.
5. Skep die regte omgewing. Skeduleer ‘n spesifieke tyd elke dag vir dit wat jy wil doen, skryf dit boaan jou lysie van dinge om te doen, of doen dit sommer voor enigiets anders in die oggend. Vertel ook vir ander mense waarmee jy besig is sodat hulle jou kan ondersteun.
6. Gaan tot aksie oor. Verbind jouself daartoe om elke dag aan jou nuwe gewoonte aandag te gee en om positief daaroor te dink. As iets voorval en jy ‘n dag oorslaan, gaan die volgende dag weer aan waar jy opgehou het.
7. Wees konsekwent. Dit neem ongeveer ‘n maand om ‘n nuwe gewoonte aan te leer, maar dit kan heelwat langer neem om dit ten volle te vestig. Wees daarom veral aan die begin konsekwent deur byvoorbeeld elke dag op dieselfde tyd te oefen. Dit sal jou kanse op sukses verhoog.
8. Wees bedag op jou behoeftes. Elke gewoonte in jou lewe is deel van ‘n groter prentjie. Wanneer jy die gewoonte eenvoudig verwyder, mag dit ‘n effense wanbalans veroorsaak. As jy byvoorbeeld probeer om jou TV-gewoontes te verander, sal jy ander maniere nodig hê om jouself te vermaak en te ontspan. Maak positiewe aanpassings wat jou sal help om nie weer in jou ou gewoontes te verval nie.
15 veranderings
Soms is die grootste uitdaging om iets in jou lewe te verander, om die daad by die woord te voeg.
“Motivering is wat jou aan die gang kry, maar gewoontes is wat jou aan die gang hou,” sê Jim Rohn, ‘n wêreldbekende motiveringspreker. Hier is 15 dinge wat jy vandag kan verander om positiewe gewoontes te kweek:
1. Verander jou roetine. ‘n Verandering aan ‘n roetine, veral een wat nie werk nie of jou verveel, is soms al wat jy nodig het om die huppel in jou stappie terug te sit. Moet jouself nie oortuig dat dit te moeilik sal wees om te verander nie. Deur jou dag beter te beplan, kan jy jou roetine vir jou laat werk en dinge so nou en dan afwissel sodat jy nie daarmee verveeld raak nie.
2. Verander jou eetgewoontes. ‘n Paar veranderinge aan jou eetgewoontes kan ‘n betekenisvolle verandering in jou lewe teweegbring. Jy hoef nie alles uit te sny wat lekker nie. Maak eerder gesonde keuses, soos om ‘n slaai in plaas van skyfies saam met jou burger te bestel. Jy sal kort voor lank die vrugte pluk.
3. Verander jou bestuurgewoontes. Brandstofpryse is allesbehalwe laag, dus moet jy alles moontlik doen om meer waarde vir jou geld uit elke liter te kry. Probeer om stadiger te versnel. Hoe harder jy die brandstofpedaal trap, hoe meer brandstof gebruik jy. Hou ook verkeersligte dop. As jy sien ‘n lig gaan na rooi oorslaan, kan jy vroeër jou voet van die brandstofpedaal afhaal.
4. Skep orde. Die meeste van ons het die gewoonte om onnodige goed op te gaar. Leer die gewoonte aan om niks te bêre wat jy nie seker is jy weer sal gebruik nie. Gooi dit dadelik weg of gee dit vir iemand wat dit wel kan gebruik. Raak ook van gemorspos ontslae die oomblik as jy dit klaar gelees het.
5. Voer sinvolle gesprekke. Stop die gejaag en neem weer beheer deur ‘n gewoonte daarvan te maak om sinvolle gesprekke met die mense om jou te voer. Jy sal verbaas wees hoeveel betekenis dit aan jou lewe toevoeg as jy gereeld stop om met iemand oor iets sinvols te gesels.
6. Luister om regtig te hoor. Jy mag dalk dink jy hoor as ander mense met jou praat, maar die kans is goed dat jy nie werklik luister as jy nie van die TV af wegkyk of van jou koerant of tydskrif af opkyk nie. Maak ‘n gewoonte daarvan om op te kyk – jy sal vind dat wat iemand vir jou wil sê dikwels belangriker is as dit waarmee jy besig was.
7. Bêre jou kredietkaart. As die skuldskoen knyp, bestee jy waarskynlik meer as wat jy verdien. Maak ‘n gewoonte daarvan om soveel as moontlik kontant te koop en bêre jou kredietkaart vir onbeplande uitgawes of uitsonderings.
8. Begin oefen. Om te oefen is seker dié voorneme wat die meeste gemaak word, maar ook die meeste laat vaar word! Nietemin kan dit ‘n groot invloed op jou gesondheid hê as jy elke dag slegs 15 min. afstaan om te gaan stap. Kry ‘n tyd wat jou pas en kom in die gewoonte om elke dag in daardie tydgleuf aktief te wees.
9. Lees elke dag. Met al die inligting wat deesdae op die internet beskikbaar is, gebeur dit al hoe minder dat mense die tyd maak om ‘n artikel of boek in sy geheel te lees. Dit sal jou help om te ontspan, ontvlugting van jou alledaagse bekommernisse bied en jou brein stimuleer om in nuwe rigtings te dink.
10. Wees betyds. Mense wat altyd laat is, mors ander mense se tyd en word as onbedagsaam beskou. Bepaal vooraf hoe lank dit jou sal neem om iewers te kom en maak ‘n gewoonte om reeds tien minute voor die tyd by jou bestemming aan te kom.
11. Skakel jou selfoon af. Maak ‘n gewoonte daarvan om jou selfoon af te skakel as jy met iemand gesels of as jy tyd saam met jou gesin deurbring. Niks is so steurend soos iemand wat kort-kort sy selfoon antwoord as jy ‘n gesprek met hom probeer voer nie. Die halfuur wat jy vanaand op die foon bestee om oor werk te praat wat tot môre kon wag, is `n halfuur wat aan jou mense kon bestee het.
12. Probeer ’n nuwe manier om te ontspan. As jy in die gewoonte verval het om elke aand voor die TV te lê om te ontspan, is dit tyd dat jy iets nuuts probeer. Kyk na wat die mense om jou doen om van hul stres ontslae te raak, kies iets waarvan jy hou en doen dit gereeld. Jy sal in ‘n japtrap soos `n nuwe mens voel.
13. Vergeet die klein jakkalsies. Om met ander mense fout te vind, is maklik. Terwyl jou man dalk tussen sy vriende grap oor sy vrou wat altyd oor alles neul, vind hy dit waarskynlik nie werklik so snaaks nie. Wend ‘n doelbewuste poging aan om nie oor alles te kla nie en party dinge soms oor te sien.
14. ’n Bietjie pret. Hoewel daar ‘n tyd en plek is om ernstig te wees, moet jy ook tyd inruim om dinge te doen wat jy geniet. Neem ‘n uur of twee uit jou week om jou hare los te maak en iets te doen wat die bloed deur jou are laat bruis!
15. Geniet jou lewensreis. Breek met die gewoonte om só op jou doelwitte te fokus dat jy nie die reis na sukses geniet nie. Die lewe is nie ‘n kleedrepetisie nie – dit is nóú die tyd om voluit te leef. Maak ‘n gewoonte daarvan om positiewe dinge in elke dag raak te sien. Elke dag wat jy by jou laat verbygaan, is een dag minder om ‘n vol en betekenisvolle lewe te leef.