Vergenoegd, die historiese wynplaas buite Somerset-Wes, het vandeesweek hul reeks nuwe aktiwiteite bekendgestel. Die plaas spog met ‘n nuwe eienaar en nuwe span wat nou aan die hoof van die plaas se bestuur staan.
Maryke Roberts
Die span het ‘n aantal nuwe byvoegings op die plaas aangebring. Hulle sluit aan by die befaamde “eend-parade” – ‘n koddige oggend en middag-verbyloop van honderde Indian Runner-eende op pad van en na die wingerde, waar hulle gebruik word as natuurlike slakbeheer.
Besoekers aan die plaas kan nou behalwe die lekker wynproe, ook aan werkswinkels oor die versnyding van olyfolie, koffie en tee, en wyn deelneem.
Vergenoegd was vir ses generasies in besit van die Faure-gesin tot dit onlangs verkoop is aan ‘n Duitser, Peter Loew en sy beleggingsmaatskappy, Livia. Die plaas, wat tans sowat 70ha onder wingerd het, is bekend vir sy Cabernet Sauvignon wyne en portstyl, asook ‘n portefeulje wit- en rooiwyne wat die Runner Duck-reeks insluit. Die plaas se honderde Indian Runner-eende is wyd en syd bekend.
Die plaas het ‘n kleurryke geskiedenis sedert sy ontstaan in 1696. Die herehuis is in 1773 gebou en is al vir jare die tuiste van ‘n indrukwekkende versameling antieke meubels.
Die verwisseling van eienaars het ‘n aantal veranderinge meegebring, insluitend die verdere opknapping van die herehuis en plaasgeboue. Saam met die vorige eienaar en wynmaker John Faure, het Michael Israel en sy Pomegranate-restaurant, wat vir bykans 10 jaar vanuit die plaas bedryf is, ook gegroet.
Peter Stuart is aangestel as besturende direkteur en Nicole Arnold as Versnit-ervaring en geleentheidsbestuurder. Marlise Jacobs, wie al nege oeste by Vergenoegd saam met John meegemaak het, is die wynmaker, terwyl sjef Ryan Shell, voorheen van Haute Cabrière in Franschhoek, aangestel is as hoof van kombuis-bedrywighede.
Tydens Februarie en Maart word ‘n “oes-tafel” middagete elke Donderdag, Vrydag en Saterdag voorgesit, terwyl piekniekmandjies wat lekker kos en wyn insluit, gekoop en in die tuine geniet kan word.
Vergenoegd lê oorkant die Kaapstadse Filmstudios. Dit is die eerste wynplaas op die R301-kant van die Stellenbosch Wynroetes as jy van die N2 afdraai.
Vir meer inligting, besoek Vergenoegd. Besprekings kan via epos gemaak word by [email protected] of 021 843 3248.
Van die plaas se wyne
Die honderde Indian Runner-eende word vir plaagbeheer ingespan
SOURCES
Clifford Roberts
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.