Van Loveren Familie Wingerde se Almost Zero het Suid-Afrika aan die gons
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Nou sprei dié wynagtige drankie met bykans geen alkohol, sy vlerke nog wyer met die nuutste toevoeging van Ravishing Rosé en Radiant Red tot die gewilde Wonderful White.
Die nuwe laer-kilojoule drankies sluit by ’n uitgebreide portefeulje aan, wat oor dekades deur die Van Loveren Familie Wingerde-span, Suid-Afrika se voorste plaas in familiebesit, geslyp is. Van Loveren op die oewers van die Kogmanskloofrivier in die Robertsonvallei, is bekend vir sy reeks innoverende wyne en sy gesinsvriendelike wynplaas-ervaring.
Gaste is onlangs na die plaas genooi om saam met die vier Retief-neefs, beter bekend as Suid-Afrika se Four Cousins, die wyne te proe.
Ravishing Rosé vertoon die tradisionele gunsteling se wonderlik kleure, met alomteenwoordige Turkish Delight-geure. Sy suster, Radiant Red, is vrug-gedrewe met skeutjies ryp moerbei.
Hulle sluit aan by die Wonderful White – met sy delikate appel-, sitrus en tropiese vrugte-geure en ’n vars talmende nasmaak – wat laat verlede jaar onder luide applous vrygestel is.
“Almost Zero is aan die voorpunt van verbruikers se leefstyl-verandering en veral die groeiende neiging van fiksheid-gefokusde lewens, wat die lae alkohol of alkoholvrye produkte se ontwikkeling aanspoor,” het Phillip Retief aan gaste vertel. “Dit spreek tot die spesifieke behoefte om ’n nie-alkoholiese drankie te geniet, wat steeds ’n baie beduidende wyn-karakter het.”
Almost Zero lyk en proe soos wyn, maar het minder as 0,4% alkohol. Die bykans algehele afwesigheid van alkohol beteken dit kan volgens wet nie wyn genoem word nie, maar hierdie gede-alkoholiseerde wonder begin sy lewe as wyn. Dit word sagkens in die rondte gedraai, terwyl die wyn dun oor staalkegels versprei word sodat die alkohol kan verdamp. Die hoë presisie verseker dat die onmiskenbare wynvoorkoms, -kleur en -geur agterbly. Behalwe dat die alkohol bykans heeltemal verwyder is, is Almost Zero die gesonder keuse, met dieselfde heerlike smaak.
Elke glas het 75% minder kilojoules as gewone wyn, wat jou hart letterlik sal goed doen. Dit beteken dat ‘n hele bottel Almost Zero dieselfde kilojoules as slegs een glas gewone wyn bevat. Boonop is daar slegs 2.2g/100g suiker en 4.2g/100g koolhidrate in elke bottel. Tien glase Almost Zero bevat dieselfde hoeveelheid suiker as een glas kommersiële lemoensap. Almost Zero is banting-vriendelik en die ideale alternatief as jy minder wil drink, of heeltemal wil ophou.