Een dag is hulle nog oulik en die volgende oomblik word jy om elke hoek uitgedaag. Hoe hanteer ‘n mens die voortienerfase?
Deur ANSJA FERREIRA
Hulle word “tweens” of “tweenies” of voortieners genoem. Hulle is nie meer klein kinders nie, maar ook nog nie volwaardige tieners nie en hul ouers getuig dat hulle merkbare veranderinge by hulle opmerk.
Derika De Villiers, ‘n kliniese sielkundige, verbonde aan die Vita Nova-beradingsentrum in Elarduspark, Pretoria, gee die volgende raad aan ouers vir algemene gedragsprobleme wat in die voortienerfase voorkom en hoe die ouers dit kan hanteer:
1. Hulle luister nie na hul ouers nie
Vryheid gaan met verantwoordelikheid gepaard. Hoe meer verantwoordelike gedrag jou kinders demonstreer, hoe meer vryheid behoort jy as ouer aan jou kinders toe te laat, en omgekeer. Hulle word so beloon vir aanvaarbare gedrag en gestraf vir onaanvaarbare gedrag (beperking van voorregte). Byvoorbeeld: Jou kind moes vyfuur terug wees van ‘n maat, maar het eers sewe-uur by die huis ingewals gekom. Jy kan dus jou kind straf deur haar volgende keer vir ‘n korter tydperk by die maat te laat kuier. Straf dus “appels” met “appels”.
2. Terugpraat of parmantigheid
Ouers dien as rolmodelle vir hul kinders. Dit is baie belangrik dat ouers bewus raak van nie net die taal wat hul gebruik nie, maar ook die manier hoe hulle praat. Kommunikasie vind op ‘n verbale en ‘n nieverbale manier plaas, so raak bewus daarvan as jy met respek praat en terselfdertyd jou oë rol. Kinders gaan veg vir mag soos hulle grense probeer skuif en grootword. Wees bewus van hierdie skuif en hanteer dit doeltreffend deur kalm aan hulle te verduidelik dat jy hulle met respek hanteer deur die manier waarop jy met hulle praat en dus dieselfde verwag. As hulle terugpraat of parmantig teenoor jou is, beskryf hoe hulle gedrag jou laat voel en behou beheer van die gesprek deur ferm grense te plaas.
3. Verontagsaam ouers deur nie na hul instruksies te luister nie
Tweens soek duidelike grense. Duidelike grense bied ‘n raamwerk vir wat voorspelbaar en veilig is. Soos hulle groter word, sal hulle die grense probeer verskuif. Dit is belangrik dat jy na hulle luister en dan besluit of dit ‘n grens is wat geskuif kan word namate hulle verantwoordelik optree. Dit is belangrik om hul ouderdom in ag te neem en ook te besef dat daar ‘n tyd gaan kom waar nuwe reëls gaan geld. Julle sal tot ‘n kompromie moet kom waar jy as ouer weet jou kind is steeds veilig binne die nuwe reëls.
4. Die gebruik van kras taal
Dis baie belangrik om bewus te raak hoe jy met jou tween praat. Ouers dien steeds as rolmodelle vir hul kinders. Moenie skreeu of vloek wanneer jy met ander kommunikeer nie, anders gaan dit soveel moeiliker wees om jou tweens te dissiplineer. Tweens vloek om beheer oor ‘n situasie of verhouding te verkry, herinner hulle dus dat sulke taal onaanvaarbaar is en nie gebruik mag word nie. Wees ferm en stel ‘n goeie voorbeeld.
5. Geheime en leuens
Tweens hou geheime of leuens omdat hul aannames maak en glo dat hulle ander sal onstel deur die waarheid te vertel. Dit is belangrik dat jy aan ‘n vertrouensverhouding met jou tweens werk waar hulle veilig voel om met jou te kan praat en nie geheime of leuens hoef te vertel omdat hulle bang is vir kritiek of verwerping nie. Jy moet die pas aangee deur hulle in jou vertroue toe te laat deur byvoorbeeld in vertoue met hulle oor sekere gebeure te praat en hoe jy daaroor voel.
Die voortiener of tweens-stadium is ‘n wonderlike geleentheid vir ouers om ‘n beduidende invloed op hul kinders te hê voordat tweens vir hul identiteit gedurende adolessensie begin veg. So, gebruik die tyd en laat dit werk!
Lana se wenke vir die voortiener
Lana Kleingeld-Coetzeeis ‘n opvoedkundige sielkundige wat in Weltevredenpark en Randparkrif praktiseer. Sy gee dié raad vir voortieners:
- Aanvaar die veranderinge wat in jou liggaam plaasvind. Al jou vriende gaan daardeur al is dit op verskillende tye en jy hoef nie skaam te kry daaroor nie.
- Probeer nuwe dinge en neem risiko’s, maar moenie vergeet watter waardes jou ouers jou geleer het oor wat reg en verkeerd is nie.
- Verstaan as jou ouers nee sê dat hulle gewoonlik ‘n goeie rede het en jou net wil beskerm.
- Weet dat as jy oor iets jok, kom jy in groter moeilikheid as om van die begin af eerlik te wees.
- Kies vriende wat jou waardeer vir wie jy is. Bly weg van vriende af wat jou dwing om te verander of om dinge te doen wat teen jou waardes is.
Kenners
Derika: [email protected] of www.vitanova.co.za
Lana: [email protected] of www.hopepsychology.co.za