Willie Burger kyk na die nuutste boeke van Deon Meyer en Marita van der Vyver
Die Desembervakansie lê om die draai en dit is die tyd waarin sommige mense hul jaarlikse leeswerk inhaal. Dit is ook ’n tyd waarin mense boeke vir hul vriende en familie (en vir hulself) as Kersgeskenke koop. Daar is geen tekort aan wonderlike leesstof vir hierdie komende maande nie. Ek kan nie onthou wanneer laas daar soveel boeke in so ’n kort tydjie op my tafel beland het soos oor die afgelope paar maande nie. Ek wens dat ek oor elk van hierdie boeke veel meer kan skryf, maar daar is nie genoeg plek nie.
Bo-aan byna alle lesers se inkopielysies is die nuwe Deon Meyer. Die meeste van ons kan nie wag om verder oor Bennie Griessel te lees nie. Prooi het pas verskyn. Verlede jaar hierdie tyd het Jacques Pauw se boek oor staatskaping, The President’s Keepers, almal aan die praat gehad. Nou raak Bennie Griessel ook by die staatskapingsituasie betrokke. Al het klein deeltjies van Meyer-romans al tevore in die buiteland afgespeel (dink maar aan daardie spannende proloog in Proteus, waarin ’n jaagtog en moord in Parys beskryf word) is hierdie die eerste roman waarin ’n groot deel van die aksie in die buiteland, in Frankryk, plaasvind.
Maar dis nie nodig om te vrees dat Meyer se werk nou ’n soort kleurlose “internasionale” karakter kry nie. Daarvoor sorg Griessel en Cupido en die tipiese Suid-Afrikaanse situasie van staatskaping. Ek skryf voorlopig niks verder oor Prooi nie, want dit sal gemeen wees om nou iets te verklap. Ek kan almal egter gerusstel dat jy beslis nie teleurgesteld sal wees nie. Mens het nie gedink dat Meyer nog beter kan word nie, maar ek dink hy is selfs meer bedrewe as tevore. Uitgegee deur Human & Rousseau
Een van die grootste probleme van ’n relatief “klein” letterkunde, is dat die fokus (soos in elke letterkunde) dikwels op die jongste publikasies val en omdat daar nie genoeg lesers is om al te dikwels herdrukke te regverdig nie, raak sommige boeke gou vergete. Selfs in biblioteke is ouer boeke soms nie meer beskikbaar nie. Bloot omdat sulke boeke nie meer beskikbaar is nie, vergeet mense dan daarvan. Dikwels is dit egter juis boeke wat verdien om onthou te word. Marita van der Vyver se Wegkomkans het in 1999 by Tafelberg verskyn.
Tipies van Van der Vyver se romans het dit ’n verrassende varsheid, ’n ligtheid, humor, deernis en ’n vinnige tempo, ten spyte daarvan dat die roman eintlik met talle ernstige en swaar temas omgaan. Die lekker dik boek van by die 600 bladsye vertel die verhaal van tien vriende oor ’n tydperk van meer as tien jaar en as daar een Afrikaanse roman is wat die Afrikaner-middelklas se belewenis van die Suid-Afrikaanse werklikheid van die 1990’s vasvat, is dit Wegkomkans. Die noodtoestand van die 1980’s, die euforie rondom Nelson Mandela se vrylating en die verkiesing van 1994, die ontgogeling met die nuwe Suid-Afrika en die vrese op die vooraand van die nuwe millennium word op uiteenlopende maniere deur die groep vriende beleef.
LEES OOK: Kies ’n boek: Asem, elf dae in Parys en Al wat ek weet
Die toewyding aan die struggle van sommige en die jappiestrewe na rykdom van ander; hul onsekerhede oor hul eie identiteite, hul waardes, hul sukkelende verhoudings en wankelende huwelike, hul worsteling om kinders groot te maak of om loopbane te bou, hul teleurstellings, suksesse en vreugdes word meesleurend vertel. Dit is boweal ’n boek oor verhoudings: liefdesverhoudings, seksuele verhoudings, ouer-kind-verhoudings, maar veral vriendskapsverhoudings. Een van die redes waarom mens boeke lees, is dat jy soms iets van jouself daarin herken, iets ontdek, iets raaksien wat jy nie tevore oor jouself of oor jou wêreld raakgesien het nie.
Daar is ’n sekere soort boek waarin dit deurentyd gebeur: ’n Boek wat aan die een kant wyshede bevat wat jy sommer so kan oorneem en wil aanhaal. Maar ook die soort insigte wat jy kry omdat mense se lewens en hul gedagtes en die dinge wat hulle oorkom en wat hulle doen, jou aan iets in jouself herinner, aan jou eie situasies, aan mense wat jy ken. Dan verstaan jy iets van die wêreld en van jouself beter; jy kry woorde waarmee jy jou eie vae vermoedens oor jouself kan vasvat. Marita van der Vyver is dié soort skrywer wat sulke boeke produseer.
Wegkomkans is een van die beste voorbeelde van daardie soort boek: vol humor en deernis en insig in menslike motiverings en handelinge en onsekerhede. Protea Boekhuis het Afrikaanse lesers ’n guns gedoen om hierdie boek weer uit te gee – nuut geredigeer. Soos Van der Vyver self in die “slotwoord” agterin hierdie heruitgawe skryf, het Wegkomkans byna ’n soort kultusstatus verwerf en daar is mense wat dit jaar ná jaar herlees. As jou eksemplaar al voos gelees is, kan jy nou ’n nuwe een kry. As jy nog nie Wegkomkans gelees het nie, is dit nou jou kans! Uitgegee deur Protea
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.