Verlede week het geliefdes regoor die wêreld probeer om hul lewensmaats op besondere maniere te vertel hoe geliefd hulle nou eintlik is. Vir 20 paartjies was Valentynsdag egter ekstra spesiaal, toe hulle op Robbeneiland getroud is of hul huweliksbeloftes op die eiland hernieu het.
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: verskaf
Die paartjies, almal uit minder gegoede agtergronde, is met die ferrie oor na die eiland, danksy ’n ooreenkoms tussen die Robbeneiland Museum en die Departement Binnelandse Sake. Hul droomdag sou andersins weens finansiële beperkinge heel moontlik nie kon plaasvind nie. Die geleentheid het groot belangstelling in die V&A Waterfront uitgelok vanwaar die ferrie vertrek en weer teruggekeer het.
Dit was omtrent ’n gesig toe die ferrie vroegoggend die paartjies in hul pragtige trou-uitrustings oor die blou water vervoer en teen sononder weer terugkeer.
Die Robbeneiland Museum vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar en daarom is 20 paartjies gekies. Die seremonie is in die spierwit kerkie op die eiland voltrek. Paartjies se troufoto’s is met Tafelberg en Kaapstad in die agtergrond geneem en die minnesanger Nur Abrahams het by die onthaal gesing.