Val de Vie landgoed buite die Paarl het verlede week die opgeknapte L’Huguenot kelder en onthaalruimte en Vinoteque aan gaste bekendgestel. Val de Vie is onlangs aangewys as Suid-Afrika se top residensiële landgoed en die toevoeging van die verskeie areas in en om die kelder wat verskillende groottes groepe gaste kan akkommodeer,bou voort op die landgoed se visie.
Ryk Neethling, bemarkingsdirekteur en aandeelhouer van Val de Vie, het gaste verwelkom en gesê dis ‘n groot voorreg om met die wynhandelsmerk, L’Huguenot, geassosieer te word en die tuiste van die kelder te wees. Die opgeknapte kelder vorm deel van die groter projek om die verskillende onthaal-areas te skep. “Wyn is deel van die Val de Vie leefstyl en dis so lekker om in ‘n 200 jaar oue kelder te staan,” het hy gesê.
Die verskillende onthaal-areas wat die verouderingskelder, die alfresco grasperk-area, die proelokaal en Vinoteque insluit, is alles prentjiemooi tussen die wingerde, met die Bolandse berge in die agtergrond.
Die wynkelder en25 hektaar wingerd is in 2013 deur Perfect China gekoop en sedertdien ontwikkel as die tuiste van L’Huguenot Vineyards. Die handelsmerk is ekslusief vir die Chinese mark en met drie miljoen bottels per jaar, verantwoordelik vir ‘n derde van Suid-Afrika se totale wyn-uitvoere na China, het Hein Koegelenberg, voorsitter van L’Huguenot Vineyards, aan gaste vertel. Hy het bygevoeg dat hy en sy Chinese eweknieë baie trots op die handelsmerk se nuwe tuiste is.
Val de Vie het ook sy eie wynreeks en het pas die Polo Club Sauvignon Blanc 2016 bekendgestel. Die reeks is by die Poloklub Restaurant op die landgoed beskikbaar.
Bespreek funksies byBarbara Hugo by L’Huguenot by [email protected].
‘n Rustige omgewing
Die verouderingskelder is een van die plekke wat uitgehuur word vir funksies.
Wyne van die Val de Vie landgoed, La Motte en Leopard’s Leap se wynreekse is ook saam met die eetgoed bedien.
Werner Briedenhann vertel aan gaste meer oor La Motte se wyne.
Die kelder se pragtige proelokaal.
Werner Briedenhann van La Motte, Janette Griesel van Val de Vie en Wouter Hanekom van Leopard’s Leap .