Die 18de US Woordfees is van 3-12 Maart op Stellenbosch gehou. Vanjaar se tema was “Wys” en kunstenaars het die tema in hul kunswerke, musiek en selfs films uitgebeeld.
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Die 18de US Woordfees is vroeër vandeesmaand op Stellenbosch gehou. Vanjaar se tema was “Wys” en kunstenaars het die tema in hul kunswerke, musiek en selfs films uitgebeeld. Die totale kaartjieverkope was vanjaar 12% hoër as verlede jaar.
Twee nuwe venues – die Jan Marais-natuurreservaat en die Cloetesville Hoërskool – is vanjaar ook by die venues ingesluit en het baie goed gewerk.
Weg met Marcel van Heerden en Tinarie van Wyk Loots is die verhaal van ’n akteur, Pierrot, en sy muse, Columbine. Dis ’n requiem vir ’n geliefde en ’n besinning oor ’n lewe op die verhoog. Tinarie het in verskeie produksies opgetree en Marcel het ’n welkome debuut gemaak by die fees.
Mareli Visser, wenner van die eerste Koekedoor-reeks en skrywer van die boek, Uitgerys, het by Die Khaya ’n demonstrasie oor hoe om die perfekte brood te bak, gelewer. Verskeie ander demonstrasies deur onder meer sjef Bertus Basson, Annatjie Melck, Flori Schrikker, Koelsoem Kamalie, Peter Veldsman, Errieda du Toit, Heleen Meyer en Corli Botha, is ook gehou.
Woord-en-wyn-etes is in samewerking met die Stellenbosch Wynroete by Delheim, Middelvlei en Simonsig gehou en by die Weltevreden Waenhuis is verskeie produksies waaronder Die Sneeukoningin en Technopop opgevoer.
PG du Plessis se Koöperasiestories is vir die fees deur Alexa Strachan verwerk en het Chris van Niekerk, Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, De Klerk Oelofse en Carel Nel in die rolverdeling. Dis nostalgie op sy heel beste, want wie kan die sêgoed van Mietie, Veldsman en Genis vergeet?
Daar was interessante stukke, soos die Nagwandelaars, waar jy laataand op Annandale wynlandgoed bymekaargekom het en ’n spookstorie met ’n verskil gehoor het.
Ook Die Fliek, ’n debuut-drama by die fees met Carel Nel, Cintaine Schutte en Dean Balie. Die gehoor was deel van ’n fliek-teater en die wel en wee van drie baie droewige karakters het soos ’n rolprent voor hulle afgespeel.
Ooms, So ry Miss Daisy, Laurika Rauch met Loki Rothman: Blou en die program Ballades, waarin verskeie bekende kunstenaars opgetree het, was die topverkopers en het voor uitverkoopte sale gespeel. Die veelbesproke stukke soos Wild, Sing jy van bomme, Piekniek by Dingaan en Martelsang het heelwat groei in kaartjieverkope gehad,” sê Saartjie Botha, feesdirekteur.
By die Bloekomhoek is daar saans lekker musiek gemaak en by die Sasol Kunsmuseum was daar elke oggend ’n nuwe opskiet-uitstalling. Athi-Patra Ruga was die feeskunstenaar en verskeie ander solo-uitstallings is by galerye regoor Stellenbosch gehou.
Die wenners van die US Woordfees se WoordTROfees word op 25 April aangewys.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.