Die 2018 US Woordfees WoordTROfees is onlangs by ’n spesiale toekenningsgeleentheid oorhandig
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Die 2018 US Woordfees WoordTROfees is onlangs by ’n spesiale toekenningsgeleentheid by Hog House op die Spier-landgoed buite Stellenbosch oorhandig. Die wenners het elkeen ’n kunswerk en kontant ontvang.
Dié prystuitdelingsgeleentheid is aangebied met die ondersteuning van die ATKV. Tussen die prysuitdeling deur is daar lekker gekuier en musiek gemaak met onder meer Schalk Joubert en James van Minnem.
Gillian Mitchell, sameroeper van die beoordelaarspaneel het vertel dat die 25 paneellede altesaam 135 produksies oor nege dae gesien het. “Die standaard styg elke jaar net hoër en dit gee ons jaarliks groot vreugde – maar ook groot gewroeg – om die wenners te kies.”
Die wenners is:
Toneel: beste speler: Rehane Abrahams (Womb of Fire) en beste byspeler: Kopano Maroga (Buite land). Beste regisseur: Sara Matchett (Womb of Fire) en beste teaterstuk: Womb of Fire. Die beste Woordfeesdebuut is aan Klippe wat val en beste opkomende kunstenaar(s): Carla Smith (NRNNSA).
Kontemporêre musiek: beste musiekgedrewe produksie: Rooidag – NP van Wyk Louw getoonset en gesing; beste solo-kunstenaar: Elvis Blue (Saam) en beste groep: Gesnaarde gedigte.
Klassieke musiek: vokaal: Conroy Scott (Elijah); instrumentaal: Signum Quartet.
Visuele kunste: beste aanbieding: Manyatsa Monyamane (Ongetiteld).
Woordkuns: Die kuns van verdwyn.
Beste tegniese prestasie: Eeufeeskonsert (klankmeng: Johan Griesel)
Die boekpryswenners vir die beste verkope in vier verskillende kategorieë is:
Prosa: Elsa Joubert- Spertyd
Politiek en aktueel: Thandeka Gqubule – No Longer Whispering to Power
Leefstyl: Antoinette Pienaar – Die lang man sonder skaduwee
Kinder- en jeugboeke: Philip de Vos – Vandag is ek ’n windlawaai
Die volgende spesiale pryse is op die aand van die toekennings oorhandig:
Die pendeldiens-span is aangewys as die Feeshelde wat vanjaar ’n besonderse bydrae tot die sukses van die US Woordfees gelewer het.
Janine Neethling het die In Verbondenheid-prys ontvang. Hierdie prys word toegeken aan ’n rolspeler wat binne die omgewing van die US Woordfees, WOW en die US Koor nouer en beter samewerking bewerkstellig het sonder dat hy/sy monetêr daarvoor vergoed is.
WOW Onderwyser van die Jaar: Johan le Roux van Rusthof Primêr in die Strand en WOW Skool van die Jaar: Worcester Sekondêr.