Die 19de US Woordfees is gedurende Maart vanjaar op Stellenbosch gehou
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Volgens die organiseerders is 10% meer kaartjies as in 2017 verkoop en na skatting was daar vanjaar ten minste 60 000 feesgangers. Daar was meer as 50 feesdebute, 500 produksies en 1 500 aanbiedings in skoolsale, teaters, ouditoriums en selfs in die US Museum.
Die fees het weer toneel, boekgesprekke, straatteater, musiek, film, kunsuitstallings, lewendige radio-uitsendings en selfs besoeke aan die US Botaniese Tuin ingesluit.
Ter viering van die Universiteit Stellenbosch se 100ste verjaardag is twee vlagskipprojekte aangepak: die Eeufeeskonsert en 100% Stellenbosch. Die Eeufeeskonsert op Coetzenburg was die grootste buitelugkonsert wat die fees tot nog toe aangebied het en 100% Stellenbosch het die Eikestad opgevoer op ’n wyse wat die hele dorp se demografie weerspieël het in ’n lewende, bewegende sirkelgrafiek op die verhoog.
Daar was vanjaar opmerklik meer jong feesgangers in sale. Veral die filmfees en die Sanlam Musiekfees se buitelugkonserte in die Jan Marais Natuurreservaat was gewild onder die jonger garde, terwyl verskeie toneelstukke oud en jonk na die teater gelok het, vertel Danie Marais, US Woordfees: Publisiteit en Filmfees.
“En dan was Pauli van Wyk se gesprek met Jacques Pauw oor sy The President’s Keepers seker die gewildste boekbespreking in die geskiedenis van die Woordfees met mense wat tou gestaan het tot in Victoriastraat.”