Die tyd om te bak is nóú, want die opvolgseisoen van Koekedoor, KykNET se werklikheids-bakkompetisie, word van Donderdag, 14 April, uitgesaai met tien nuwe bakkers.
Maryke Roberts
‘n Bloemfonteinse beurtkragkoek, ‘n biertenttert en kolwyntjies met vlerke, is enkele van die kunstige bakwerke wat vir die kampioenbeker of uitklophou kan sorg.
Die nuwe reeks van 13 episodes daag amateurbakkers uit om selfs groter, hoër, mooier, meer gewaagd en verder buite hul gemaksone te bak as met die eerste reeks.
Die reeks skop Donderdagaand om 20:00 op KykNET, DStv-kanaal 144 af met ‘n episode van 90 minute. Die verdere uur lange episodes in die daaropvolgende weke sal om 20:30 begin. Gaste en lede van die media is verlede week na beoordelaar Mari-Louis Guy en haar broer, Callie Maritz, se Cakebread-ateljee in Kaapstad genooi om dié eerste episode te kyk en boonop die heerlike gebak uit dié episode te geniet.
Gerda Swanepoel van Ermelo, een van die deelnemers uit die eerste reeks, wat tans die land aan die brand bak met haar koeksisters onder die etiket, Ouma Rooi, het vertel hoe Koekedoor haar lewe verander het. “Ons het voor die reeks sowat 500 dosyn per dag gebak. Nou bak ons 1200 dosyn per dag, soek ‘n nuwe perseel en het ‘n tak in die Kaap oopgemaak, wat deur my dogter bestuur word.”
Die derduisende bak-entoesiaste wat oormôre voor die kassie inskuif, gaan tien interessante nuwe deelnemers saam met vyf verrassende gaste ontmoet. Dié gaste – geliefd en bekend soos worsrolletjies, souttert en ystervarkies – bestaan uit die ikoniese nuusleser Riaan Cruywagen, legendariese sangeres Anneli van Rooyen, die geliefde Mej. Wêreld uit eie bodem Rolene Strauss, die gewilde kletsrymer Hemelbesem en die glansryke voorkoms-ghoeroe Hannon.
Die tien nuwe koekedore kom van Saldanha, Sasolburg en Simonstad, van Bloemfontein en Bloubergstrand, van Pretoria en Port Elizabeth, George en Delmas. Agter die bakvoorskote is ‘n argitek, ‘n baljuklerk wat droom van tuinmaak, ‘n dieetkundige wat troukoeke bak en fiets trap, ‘n diereliefhebber en kantienbestuurder, ‘n boervrou-macaron-entrepreneur, ‘n afgetrede verpleegster, ‘n sielkunde-gegradueerde met ‘n spysenieringsonderneming, ‘n ma van Pretoria wat ‘n ruk in Frankryk gebly het, ‘n tuisnywerheid-stigterslid en kwiltmaker wat kinders met leerprobleme help, en ‘n jong koffiewinkel-eienaar wat begin bak het vir haar troufonds.
Die beoordelaars is weer Elizabeth Cloete, die grande dame van Koekedoor en beoordelaarsveteraan van die Vroue Landbouvereniging (VLV), bekende kosstilis, koek-ontwerper, skrywer en kostendenskenner, Mari-Louis Guy en Tiaan Langenegger, ‘n gekwalifiseerde patisseriesjef en wenner van Kokkedoor (die susterreeks van Koekedoor).
Die tien deelnemers aan die tweede seisoen van die gewilde Koekedoor.
Errieda du Toit die inhoudsvervaardiger: kos en Neil Meyer van Safari Dried Fruits, een van die borge van die reeks.
Gerda Swanepoel, een van die deelnemers uit die eerste reeks, by haar dogter, Jeanette de Villiers.
Beoordelaar Mari-Louis Guy en haar broer, Callie Maritz van Cakebread.
SOURCES
Clifford Roberts en Myburgh du Plessis
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.