Dit lyk of tuisonderrig al hoe gewilder raak en dalk oorweeg julle dit ook, maar wat behels dit alles?
JB Roux
Shirley Erwee, skrywer van Homeschooling – the primary years reageer op tien van die mees algemene vrae wat deur ouers wat dit oorweeg om self hulle kinders te onderrig, gevra word.
1. Is tuisonderrig wettig?
Ja, tuisonderrig is wettig in Suid-Afrika. Dit is egter nie raadsaam om onderwysers, die plaaslike skool of die departement van opvoeding vir inligting of raad vir regsaspekte oor tuisonderrig te vra nie: Dié persone en instellings se kennis en ervaring is gewoonlik beperk tot die openbare skolestelsel.
2. Kan dit gebeur dat ’n tuisleerder ’n jaar moet herhaal? En hoe word bepaal of dit nodig is?
Dit is hoogs onwaarskynlik dat dit vir ’n tuisleerder nodig sal wees om ’n jaar te herhaal omdat die ouer wat verantwoordelik is vir die onderrig, die kind of kinders se vordering daagliks kan monitor. Die ouer behoort agter te kom wanneer ’n kind nie ’n bepaalde vaardigheid of vak bemeester het nie: met tuisonderrig is daar gewoonlik net twee of drie kinders aan wie die ouer moet aandag gee. Onderrig in ’n bepaalde vak kan by die leerder se behoeftes aangepas word en teen ’n pas geskied waarmee die leerder gemaklik is.
In ’n openbare skool moet kinders wat sukkel om by te hou, se vordering geskied teen ’n pas wat deur die onderwyser bepaal word. Onderwysers moet ’n leerplan binne ’n bepaalde tyd afhandel, maar indien ’n tuisleerder sukkel om ’n konsep onder die knie te kry, sal die ouer nie voortbeweeg na nuwe werk voor daardie konsep bemeester is nie.
3. Moet ek gekwalifiseerd wees om my self my kinders te onderrig?
Enige ouer wat gemotiveer en toegewyd is, kan sy of haar kinders suksesvol tot matriek onderrig. Intensiewe navorsing het bewys dat vir ’n ouer om gekwalifiseerd te wees of nie, glad nie bepalend is in hoe ’n tuisleerder presteer nie. Een van die redes hiervoor is dat baie leerders wat tuis onderrig word en hoërskoolvlakke bereik, geleer het om onafhanklik te werk en bloot ’n wakende oog nodig het.
4. Is tuisonderrig ’n groeiende tendens in Suid-Afrika en indien wel … Hoekom?
Daar is verskeie redes hoekom ouers tuisonderrig verkies. Hulle besluit dikwels om hul kinders van die begin van hul skoolloopbane te onderrig omdat dit hulle in staat stel om seker te maak dat hul kinders akademiese opvoeding van ’n goeie gehalte kry; en ook dat daar geen konflik tussen gesinswaardes en die geloofs- en ideologiese beginsels van staatskole is nie.
Sommige ouers verkies tuisonderrig omdat hulle ’n negatiewe ervaring met ’n staatskool gehad het. Volgens mediaberigte en kommentare op webblaaie waar tuisonderrig bespreek word, blyk dit dat bullebakke ’n groeiende probleem in staatskole is. Dit veroorsaak dat ouers hulle kinders uit staatskole haal en alternatiewe onderrigmetodes soek.
Ouers besluit ook op tuisonderrig wanneer ’n kind of kinders gestigmatiseer en verkleineer word omdat hulle gewaande leerprobleme het. Baie ouers vind dat probleme soos hierdie verdwyn as die kinders in ’n veilige omgewing onderrig word.
5. Wat van ’n tuisleerder se sosiale lewe?
Ouers wat self hul kinders onderrig glo dat hul kinders tyd met ander kinders van alle ouderdomme moet deurbring. Baie mense het wanpersepsies oor sosialisering en tuisonderrig. Sommige dink dat ouers hul kinders isoleer tot tuisleerders se nadeel. Navorsing het egter bewys dat die teenoorgestelde waar is. Omdat tuisleerders meer tyd in die “volwasse wêreld” deurbring as skoolleerders wat tot klaskamers beperk word, is hulle sosiaal goed aangepas. Sulke kinders het groter selfvertroue en vind aanklank by mense wat jonger óf ouer is as hulself.
6. Hoe voel “gewone” onderwysers, in die algemeen, oor tuisonderrig?
Baie voltydse onderwysers glo tuisonderrig is bloot ’n herhaling van die formele skolestelsel en wonder hoe ’n ouer wat nie opgelei is nie, die werk kan doen van iemand wat behoorlik gekwalifiseer is. Maar ’n ouer wat tuisonderrig gee hoef nie aan ’n klas van tussen 30 en 40 leerders aandag te gee nie; baie van dié leerders is nie gemotiveer of geïnteresseerd in die inligting wat hulle gedwing word om in te neem nie. ’n Ouer wat tuisonderrig gee, hoef nie haar leerder of leerders voortdurend te laat toetse skryf en aan ander ouers en skoolinpekteurs verslag te doen nie.
So ’n ouer is ’n gids, ’n toesighouer, ’n rasieleier en medeleerder. Die onderrigmetodes wat tuis toegepas word, is dikwels veel groter pret as dié in staatskole; dit is ook meer buigbaar en effektief omdat dit vir tuisleerders moontlik is om hulle eie doelwitte na te jaag.
7. Wat van toetse en evaluering?
Baie ouers wat self hul kinders onderrig, vind dit onnodig om hul kinders te toets. Hulle kan elke kind se vordering op ’n daaglikse basis bepaal en weet baie goed hoe ’n bepaalde kind in haar onderskeie vakke presteer. Daar is wel ouers wat verkies dat hul kinders onafhanklik getoets word. Sommige voorsieners van leerplanne bied sulke toetse aan as deel van die diens wat hulle bied.
8. Behoort kinders self te besluit – of help om te besluit – of hulle tuisonderrig wil kry en of hulle na ’n “gewone skool” moet gaan?
Ek glo ouers is die beste toegerus om te bepaal watter vorm van onderrig die mees geskikste is vir hul kind. Dit geld veral kinders aan die begin van hul skoolloopbaan. Jonger kinders is nie wêreldwys genoeg nie en het ook nie genoeg kennis van skole-onderrig en die lewe in die algemeen om so ’n besluit te neem nie.
Tieners wat, aan die ander kant, volwasse genoeg is en ’n gesonde verhouding met hul ouers het en hul ouers respekteer, kan ’n inset in so ’n besluit lewer. Daar is heelwat gevalle waar kinders wat eers ’n staatskool bygewoon het, self gevra het om tuisonderrig te kry.
9. Kan tuisleerders ’n matriek- of skoolverlatersertifikaat kry?
Ja – daar is ’n hele paar roetes wat ’n leerder kan volg om so ’n sertifikaat te kry. Dit word in detail bespreek in Homeschooling High School deur Shirley Erwee.
10. Is dit baie duur om self jou kind te onderrig?
Daar is nie ’n standaard antwoord op hierdie vraag nie – dit wissel van gesin tot gesin, maar dit is veilig om te sê dat tuisskool op primêre skoolvlak in die algemeen nie meer kos as om jou kind of kinders na ’n “gewone” skool te stuur nie.