Stellenbosch Hills spog nou met tien treffende, nuwe oesjaarwyne in sy drie reekse, die Reserve-reeks, die Stellenbosch Hills-reeks asook die Polkadraai-reeks.
Woorde: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts
Gaste is onlangs met ’n proe van die verskillende wyne by Panama Jacks seekosrestaurant in die Kaapstad hawe getrakteer.
Twee nuwe 2014-oesjare is uitgereik in die 1707 Reserve-reeks, die White en Red Reserve. Die rooiwyn is ’n Shiraz, Cabernet Sauvignon, Merlot en Petit Verdot-versnit en die witversnit is Chardonnay, Sémillon en Viognier.
Die Stellenbosch Hills-reeks spog met ses nuwe oesjare, vier van die 2015-oesjaar: die Stellenbosch Hills Bushvine Pinotage, Cabernet Sauvignon, Merlot en Shiraz.
Die 2016 Stellenbosch Hills Chenin Blanc en Sauvignon Blanc het albei tropiese vruggeure op die neus. Die Sauvignon Blanc, ’n goue medaljewenner by Veritas en die Michelangelo International Wine & Spirits Awards, toon meer groen tropiese vruggeure soos kiwivrug, stervrug en groen spanspek.
Die Stellenbosch Hills Muscat de Hambourg 2013 is buitengewoon geurig met ’n spookasem, soet lekkers, roosblaar- en- viooltjieboeket en kan geniet word op fyn ys, oor vanieljeroomys of teen kamertemperatuur gedurende die kouer maande.
In die Polkadraai-reeks is die 2016 Pinot Noir Sparkling Rosé bekendgestel, ’n wyn vir elke geleentheid.
“Die diversiteit van die grond, klimaat en tipografie waar ons druiwe vandaan kom, sorg dat die kelder uit die beste druifsoorte kan kies,” sê keldermeester PG Slabbert.
Stellenbosch Hills het ’n baie goeie jaar agter die rug met verskeie toekennings vir 2016, insluitend ’n goue medalje by die Gold Wine Awards vir die Polkadraai Pinotage/Merlot, asook die Pinot Noir Sparkling Wine. Die 1707 Reserve Red 2012 het ook ’n goue medalje by die Sakura Awards in Japan ontvang, terwyl die 1707 Reserve 2013 ’n dubbelgoud by dieselfde kompetisie losgeslaan het. Stellenbosch Hills is geleë in die Vlottenburg landboudistrik buite Stellenbosch en deel van die Stellenbosch Wynroetes.
Vir meer inligting, besoek www.stellenbosch-hills.co.za
Keldermeester PG Slabbert en Johan Meissenheimer van PB Liquor Merchants.
Elbé van Heerden van Waterford Communications en James Ochse, wynmaker by Stellenbosch Hills.
Keldermeester PG Slabbert vertel aan gaste meer oor die nuwe bekendstellings en wys ook die nuwe etikette waarmee die wyne spog.