Three Ships Whisky, trots Suid-Afrikaans en internasionaal hoog aangeslaan, het ‘n beperkte 10-jaaroud enkelmoutwhisky bekend gestel, een wat uit 2005 dateer.
Maryke Roberts
Die geleentheid is met ‘n spogmiddagete by Charango in Kaapstad gevier. Die Three Ships 10 Year Old Single Malt 2005 volg op die suksesvolle bekendstelling van die eerste enkelmout in 2003 en die versamelaarsreeks in 2010, 2011 en 2012 wat in opvallende en aantreklike blikverpakking verkoop is. Gaste kon al drie whiskies proe wat met Peruviaanse cuisine met ‘n Kaapse kinkel deur sjef Kieran Whyte berei is.
Die meesterdistilleerder, Andy Watts, sê dit is die mees komplekste enkelmout wat hy tot dusver gemaak het en dat hy hierdie styl in komende enkelmoutwhiskies sal voortsit.
“Toe ons Suid-Afrika se eerste enkelmoutwhisky in 2003 bekend gestel het, het ons nie eintlik ‘n enkelmoutstyl in plek gehad nie. Sedertdien het ons aktief daaraan gewerk om ‘n stadium te bereik waar ons ‘n enkelmoutstelling kan maak wat aan ‘n jaar van oorsprong gekoppel is, en so elke jaar ‘n whisky met ‘n spesifieke styl en visie kan bekendstel.
Hy sê terwyl die res van die wêreld wegbeweeg van enige verwysing na ouderdom op die bottel, beweeg Three Ships eerder in dié rigting om ouderdom aan te dui.
“Ek gebruik die Kaapse wintermaande vir gisting sodat die gis sy eie, natuurlike gistingkurwe kan volg met so min temperatuurbeheer moontlik. Ons het die spiritus in 2005 in koperketels gedistilleer voordat dit toegelaat is om vir 10 jaar te rus in ‘n verskeidenheid ouer Amerikaanse eikehoutvate om die delikate geure van die spiritus te komplementeer. Dis ‘n pragtige whisky en ‘n baie trotse oomblik vir my!”
Die 10-jaaroud enkelmout is nie koud gefiltreer nie, om in sy suiwerste vorm aangebied te word en is gebottelleer teen 44,6%. Die whisky is ryk en kompleks.
Hierdie enkelmout word by The James Sedgwick Distillery in Wellington geskep, waar die warm temperatuur regdeur die jaar die interaksie tussen spiritus en die hout versnel wat die whisky toelaat om ‘n elegansie ten toon stel wat met veel ouer whiskies geassosieer word.
Die Three Ships 10 Year Old Single Malt 2005 is beskikbaar by uitgesoekte drankwinkels en www.vinoteque.co.za en kos sowat R524,95 per bottel.
Gaste by die geleentheid kon die Three Ships 10 Year Old Single Malt 2005 proe, wat volg op die suksesvolle bekendstelling van die eerste enkelmout in 2003 en die versamelaarsreeks in 2010, 2011 en 2012.
Die meesterdistilleerder van The James Sedgwick Distillery in Wellington, Andy Watts, staan by die bestuurder van Charango Restaurant, Alwyn Kotze.
Die bekendstelling het die vingers behoorlik laat werk om almal op Twitter, facebook en Instagram op hoogte te hou.
SOURCES
Clifford Roberts
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.