The King’s Singers, ‘n Britse a cappella-ensemble wat uit ses mans bestaan, is vandeesmaand op besoek aan Suid-Afrika met optredes in Pretoria, Potchefstroom, Johannesburg, Bloemfontein, Kaapstad en Stellenbosch.
Deur JOHAN MYBURG
‘Musiek is ‘n integrale deel van dít wat ons doen en dit is altyd verheffend om met jong sangers te werk’
Dié sekstet het deur die jare, tussen 1973 en 1997, die land in verskillende gedaantes besoek en gehore met hul virtuositeit, energie en sjarme bekoor.
The King’s Singers het in 1968 tot stand gekom toe ses studente van koormusiek aan die King’s College in Cambridge besluit het om ‘n ensemble te begin. Ná aanvanklike sukses in Brittanje het hulle in die 1970’s ‘n wyer gehoor bereik en internasionaal roem begin verwerf.
Tans bestaan die groep uit Patrick Dunachie en Timothy Wayne-Wright (kontratenore), Julian Gregory (tenoor), Christopher Bruerton en Christopher Gabbitas (bariton) en Jonathan Howard (bas).
Deur die jare het die groep ‘n reputasie opgebou vir hul onberispelike intonasie, stemversmelting, suiwer diksie en akkurate tydsberekening. Bowenal is The King’s Singers wyd bekend as vermaakkunstenaars by uiteenlopende gehore.
Die groep se repertorium weerspieël dié uiteenlopende smaak met ‘n musiekspektrum wat van kunsmusiek tot jazz en pop strek.
Meer as 200 werke is in opdrag van The King’s Singers geskryf en onder die kontemporêre komponiste wat vir die groep geskryf het, is Luciano Berio, György Ligeti, James MacMillan, Krzysztof Penderecki, Toru Takemitsu, John Tavener, Gabriela Lena Frank en Eric Whitacre.
Daarbenewens is daar altyd nuwe verwerkings van bekende jazz-nommers en poptreffers. En net om die mengsel interessanter te maak, Middeleeuse motette en Renaissance-madrigale.
Die groep se bereidwilligheid om met verskillende kunstenaars saam te werk, het al tot samewerkings met die kenner van antieke musiek Christina Pluhar, die hobospeler Albrecht Mayer, die pianis Emanuel Ax en die klarinetspeler Sabine Meyer gelei.
The King’s Singers staan as een van Brittanje se grootste uitvoerprodukte bekend – ‘n reputasie wat hulle met optredes in die Koninklike Concertgebouw in Amsterdam; die Berliner Philharmonie in Berlyn; die Royal Albert Hall in Londen; die Finlandia-saal in Helsinki; die Sydney-operahuis; die Washington National Cathedral; Carnegie Hall in New York; Teatro La Fenice in Venesië; Teatro Real in Madrid en die nasionale sentrum vir die uitvoerende kunste in Beijing gestand gedoen het.
Die kort Suid-Afrikaanse toer begin op 9 Februarie om 19:30 met ‘n uitvoering in die ZK Matthews-saal op die Unisa-kampus in Pretoria. Bespreek by Computicket.
Op Vrydag 10 Februarie om 19:30 is die groep in die NWU Sanlam-ouditorium in Potchefstroom. Bespreek by www.artema.co.za.
Sondag 12 Februarie om 16:00 is The King Singers in the Linder in Parktown, Johannesburg (Computicket), en Dinsdag 14 Februarie om 19:30 is hulle in die Sand du Plessis in Bloemfontein (bespreek by 051 447 7772).
Die laaste twee konserte is op Woensdag 15 Februarie om 19:30 in die Hugo Lambrechts-saal in Kaapstad en Donderdag 16 Februarie om 19:30 in die Kruiskerk in Stellenbosch. Bespreek vir albei dié konserte by Computicket.
Die ses sangers bied ook werksessies aan vir kore by die universiteite van Noordwes, Pretoria, Johannesburg en Stellenbosch. In Soweto word ʼn werksessie vir die Mzansi-jeugkoor aangebied.
Volgens Bruerton, een van die groeplede, sien The King’s Singers uit na die besoek. “Dit is ons droom om ons geesdrif vir sang uit te leef en met mense te deel, of dit nou gehore is en of dit medesangers is. Musiek is ‘n integrale deel van dít wat ons doen en dit is altyd verheffend om met jong sangers te werk.”