THE CURRENT WAR is ’n gestileerde historiese drama, met ’n vloeiende storielyn wat ondersteun word deur pragtige kinematografie en ’n gepasde klankbaan.
Alhoewel dit ’n bietjie insae gee oor die laat negentiende eeuse stryd tussen Thomas Edison en George Westinghouse om die kragnetwerk te beheer, bied die film meer as dit – dit is ’n inspirerende verhaal oor baanbrekerswerk wat die toekoms vir almal verander het en open op Vrydag, 26 Julie 2019 in plaaslike fliekteaters. Die rolprent word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk.
Alfonso Gomez-Rejon (regisseur) en Martin Scorsese (uitvoerende vervaardiger) was aan die stuur van hierdie prent wat gaan oor Thomas Edison (Benedict Cumberbatch), die bekende uitvinder wat saam met JP Morgan (Matthew Macfadyen) op die randjie is om Manhattan van elektrisiteit te voorsien met sy radikale nuwe gelykstroom-tegnologie.
Die intense kompetisie tussen Thomas Edison en George Westinghouse, is die inspirasie agter THE CURRENT WAR en vertel die epiese verhaal van dié titaniese stryd wat letterlik die moderne wêreld ‘verlig’ het.
Op die vooraand van Thomas Edison se oorwinning, word sy planne in die wiele gery deur die charismatiese besigheidsman, George Westinghouse (Michael Shannon), wat op sy beurt weer saam met die legendariese wetenskaplike Nikola Tesla (Nicholas Hoult) – hier nog jonk en onervare – fatale foute in Edison se gelykstroom-ontwerp ontdek het. Vasgevang in ’n elektriese oorlog, plaas Westinghouse en Tesla alles op die spel met ’n gevaarlike en gewaagde idee oor hoe om Amerika vinniger van krag te voorsien in die vorm van wisselstroomtegnologie.
Vyandigheid kook oor en eis lewens soos wat die opwindende wedywering, op ’n wêreldveranderende skaal, afspeel. Soos wat Edison en Westinghouse veg vir die reg om die 1893 Wêreldskou in Chicago van krag te voorsien, veroorsaak hulle ook een van die grootste korporatiewe geskille in Amerikaanse geskiedenis en skep hulle sodoende ook die platform vir toekomstige besigheidsmagnate om al die reëls te breek.
SOSIALE MEDIA
Vir meer inligting oor THE CURRENT WAR, insluitend die amptelike lokprent, hou ons Facebook-blad dop of volg ons op Twitter by @NutsAboutMovies en gebruik die hutsmerk #CurrentWarFilm_SA om oor die fliek te gesels.