Maryke Roberts praat in ons 15 Januarie-uitgawe met kunstenaar Alex Hamilton. Hier beantwoord hy nog vrae
Elf vrae aan die kunstenaar Alex Hamilton, wat vir die volgende drie jaar kurator van die US Woordfees se kunsprogram is:
1. Waar het jou belangstelling in kuns begin?
Ek het op Nelspoort buite Beaufort-Wes grootgeword. Dit was eintlik net ’n stofwolk met ’n hospitaal – ’n rehabilitasiesentrum vir geestelike versteurde pasiënte. My ouers het albei administratiewe poste daar gehad en die hele dorpie se bestaan het om die inrigting gewentel. Daar was geen heinings nie en die sowat 300 pasiënte was deel van ons daaglikse lewe. My pa het die projektor besit en Vrydagaande het ons die projektor kerksaal toe gedra en movies gewys. As ek my lewe in twee flieks kan opsom, sou dit Cinema Paradiso en One Flew over the Cuckoos Nest wees. Alles wat ek ervaar het, was visueel. Soos die jaarlikse besoeke van die minister van gesondheid. Ek het geweet hy kom as die klippe langs die pad na die dorp wit geverf is. Dit het gevoel of die dorpie – weens sy isolasie – in ’n ander era vasgeval het. Ek het in die sewentigs en tagtigs grootgeword, maar dit het soos die vyftigs gevoel. My liefde vir visuele kuns kom van daar.
2. Jy is baie aktief op Facebook en Instagram. Kom dit soos tweede natuur?
Nee! Ek was jare ’n tegnofoob, tot Zelda my eers ’n selfoon en toe ’n rekenaar gegee het. ’n Vriend het een aand gesê ek moet sosiale media inspan om mense van my kuns te vertel. Hy het gesê die verniet, dis maklik, jy bly in beheer én dis visueel en daar het die gogga gebyt. Ek geniet dit en ek hou van die terugvoer van mense. Ek is ’n gereelde facebooker, maar ’n berekende facebooker.
3. Hoe lank is jy en Zelda al saam en watter rol speel sy in jou kunsloopbaan?
Ons het met registrasie as studente by die destydse Kaapse Technikon ontmoet. Ek het tekstielontwerp en sy grafiese ontwerp geswot. Sedertdien is ons onafskeidbaar en is in 1997 getroud. Ons is ’n span. Sy is my huis en sy maak nes sodat ek veilig en geliefd kan voel. Sy het destyds by die bank bedank en ons het saam die galery besit. Nou werk sy vir ’n dekortydskrif, maar ons werk graag saam aan my kuns.
4. Waaroor is jy spyt?
Oor niks, want alles wat in die verlede gebeur het, het gelei tot waar ek nou is en wie ek nou is. Ek kan nie verantwoordelik gehou word vir goed wat ek 20 jaar gelede gedoen het nie.
5. Droom jy baie en waaroor?
Oor die natuur; veral die pragtige Karoo.
6. As jy nie ’n kunstenaar geword het nie, in watter ander beroep sou jy gemaklik wees?
Historikus of ’n navorser.
7. Wat lê op jou bedkassie?
Boeke. Baie boeke.
8. Wat lees jy?
Biografieë.
9. Hoe lyk jou ideale naweek?
Om Vrydag ná werk na ’n klein plattelandse dorpie uit te ry en Saterdagoggend vroeg deur die charity shop te stap en skatte te vind. Dan lekker vis en chips of iets by die plaaslike restaurantjie te geniet; of lekker vars produkte te koop en te kook. Sondagoggend vroeg terug, dat ons betyds is vir die Milnerton-vlooimark vir nog vintage-skatte.
10. Watter kunstenaars inspireer jou?
Die kunstenaar by wie ek die meeste geleer het, is Frida Kahlo. Hoe sy ’n ikoon geword het, hoe sy by haar man, self ’n bekende kunstenaar, verbygeskiet het. Hoe sy kultusstatus gekry het. Maar as ek baie geld gehad het, sou dit Francis Bacon se werke wees wat teen my mure sou hang.
11. Raak jy gou terneergedruk?
Nee. Ek laat myself net een dag per jaar toe om depressief te wees. Ek leef positief, want ek glo positiewe denke is ’n keuse. Dit beteken nie ek raak nie vies of gefrustreerd nie, maar ek verkies om te lag, sommer baie.