Die bekroonde wynlande restaurant, Terroir vier die winter in styl met ’n splinternuwe winter-spyskaart en bekostigbare pryse
Deur Maryke Roberts
Foto’s verskaf
Kom smul en klink daarby ’n glasie van die Kleine Zalze Landgoed se wyne, waar Terroir geleë is en jy het ’n wenner.
Smulpape het onlangs die geleentheid gehad om die nuwe spyskaart van die bekroonde sjef, Michael Broughton en sy span te proe.
Die winter-aanbieding loop eers teen die einde September ten einde, en gaste kan kies tussen twee- of drie gange en elke keuse sluit ’n glas Kleine Zalze Vineyard Selection-wyn in. Die disse word daagliks op ’n swartbord aangedui en is Franse kookkuns op sy beste, maar met ’n goeie skeut Afrika daarby.
Daar was in die verlede soveel navrae na ’n groter keuse vir dié winterspyskaart, dat Michael ook vanjaar ’n derde opsie by die winterspyskaart gevoeg het: vier gange vir R450 p/p, wat ook ’n glas Kleine Zalze-wyn insluit.
Die aanbod is geldig vir middag- en aandete en met die soel dae wat die Kaap nou geniet, is die terras buite met sy uitsigte oor die dam en wingerde, net die plek om te wees.
As jy eerder van die gewone spyskaart wil bestel is daardie opsie ook beskikbaar.Die restaurant is van Dinsdag tot Sondag vir middagete en van Dinsdag tot Saterdag vir aandete oop. Bespreek by 021 880 8167, [email protected]
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.