Die gewilde wynland-restaurant, Terroir op die Kleine Zalze Landgoed op die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes, verwelkom die winter met ’n spesiale spyskaart
Woorde en foto’s: Maryke Roberts
Vorige jare het sjef Michael Broughton en sy span ’n winterspyskaart opgestel, wat apart was van die à la carte aanbieding, maar vanjaar fokus hulle daarop om plaaslike inwoners en besoekers die ware Terroir ervaring te laat geniet, deur ’n proe-ervaring van die volle à la carte spyskaart beskikbaar te stel – en dit teen ’n uiters sakpasprys.
Gaste uit die wynbedryf en media is onlangs trakteer op die bekroonde wyne van Kleine Zalze landgoed en die geleentheid om van die disse op die winterspyskaart te proe.
Sjef Michael Broughton het die winterspyskaart verduidelik en gesê dat hulle vanjaar vir die eerste keer ook na ’n multi-gang proespyskaart uitbrei. Die viergang proe-reis gee aan gaste die geleentheid om enige vier disse van die à la carte aanbieding te bestel, met effe kleiner porsies wat die geleentheid bied om meer van die spyskaart te ontdek.
Die winterspyskaart is beskikbaar van 2 Mei tot 30 September vir beide middag- en aandete. Twee disse (vooregereg/hoof of hoof/nagereg, in standaard porsies) van die à la carte spyskaart, met ’n glas Kleine Zalze Vineyard Selection wyn, kos R295 per persoon. Die viergang proe-spyskaart met/sonder wynpasmaats, kos onderskeidelik R395/R495 per persoon. Individuele à la carte bestellings kan steeds geplaas word en sal bereken word teen die gelyste spyskaartprys.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.