Die uitstalling van die The Terracotta Army and the First Emperor of China is tans aan by die V&A Waterfront in Kaapstad.
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts
Dit gee ’n interessante kykie in dié ontdekking van ’n geraamde 8 000 klei-soldate wat van 209VC gemaak is in opdrag van Qin Shi Huang, wat homself die eerste Keiser van China genoem het. Hy het vele veldslae gelei om China te verenig en was bang dat die geeste van die dooie soldate hom in die na-lewe sou kom doodmaak en wou sy graf omring met hierdie kleisoldate wat met regte wapens in hul hande oor hom sou waghou.
Hy is egter op 49 jaar oorlede, voor die hele projek voltooi kon word. Die kleisoldate is in die sewentigerjare deur boere raakgespit, toe hulle ’n put vir hul lande wou grawe. Sedertdien is die soldate se rusplek ’n Wêreld Erfenisgebied en werk restoureerders daaraan om die sowat 8 000 soldate te restoureer.
Vir die uitstalling is die sowat 300 reproduksies van die soldate, die keiser se grafkelder en ander artefakte, ’n waardevolle kykie in Antieke China. Dis ideaal as skooluitstappie.
Die uitstalling is by The Watershed in die V&A Waterfront tot 12 Februarie. Bespreek by Webtickets. Meer inligting by www.exporsa.co.za/terracotta/

Hoewel die beelde almal in hul natuurlike kleur gevind is, is blootstelling aan oksidasie die rede vir hul gestroopte voorkoms.

Die hoogtepunt van die uitstalling is ’n uitbeelding van een tiende van die een stel opgrawings, waar duidelik gesien kan word hoe die ranglys van die soldate gelyk het. Al die beelde het gate in hul hande vir wapens, maar hulle het regte wapens gehad om die koning te beskerm, wat nie die toets van die tyd deurstaan het nie en verweer het.
