Dis die era van iPads, Facebook en Twitter, maar kenners sê betrokke ouers hoef nie nagte daaroor wakker te lê nie. Lees meer hieroor in ons 11 Julie-uitgawe. Hier gee ‘n kenner raad oor kinders en selfone
Luisa van der Linde
Will Green is die uitvoerende hoof van Apurimac Media, ‘n maatskappy wat in die digitale media werk. Sy maatskappy verteenwoordig ook die Afrikakontinent namens Yahoo.
Hy gesels hier oor kinders en selfone:
Wanneer kan ‘n kind ‘n selfoon kry?
Dit hang eerstens af waarvoor jou kind die foon gaan gebruik. Vir meeste ouers is ‘n selfoon ‘n veiligheidskruk om op te leun wanneer hulle nie naby hul kind kan wees nie. Maak egter steeds seker dat jy nie jou vertroue volkome in die foon plaas nie.
Wanneer jou jong kind êrens is, kommunikeer steeds met die maat of die onderwyser. As jy reël om jou kind op ‘n sekere tyd op te laai, doen dit. Hou altyd jou woord. Ek sou sê die ouderdom waarop ‘n kind ‘n foon mag kry hang af van die gesinsomstandighede.
Tegnologiese katoeters het mode-artikels geword. Dis amper asof kinders hul selfvertroue meet aan die tegnologie waarmee hulle kan spog.
Die nuutste iPhone kos bykans R10 000. Ek voel as ‘n kind ‘n R10 000 se foon het, moet hy R10 000 se verantwoordelikheid kan hanteer. Die fout wat meeste ouers maak is om vir hul kind duur toerusting te gee voordat die kind verantwoordelik genoeg is om dit op te pas.
‘n Foon is soos enige ander besitting. Koop of gee vir jou kind die goedkoopste foon wat sal werk vir die doel waarvoor hy dit gebruik. As hy homself bewys het as verantwoordelik en dat hy die foon verdien en reg gebruik, kan jy vir hom ‘n duurder foon gee. Ouers kan gerus met onderwysers en ander opvoeders praat om ‘n gevoel te kry waarvoor hul kind reg is.
Toeganklikheid tot tegnologie verskil ook in stedelike en plattelandse gebiede en die betrokke gesin se reëls maak ‘n verskil.
Die beste raad wat ek vir enige ouer kan gee is: Hou ‘n tegnologievrye dag in jou huis. Speel bordspeletjies. Sit die TV, rekenaar, fone, iPads en huisrekenaar af en geniet mekaar se geselskap.