Suid-Afrikaanse kinders word in en om swembaddens groot. Dit maak dus sin dat al hoe meer ouers hul kinders reeds van babatyd af vir swemlesse neem, skryf Riëtte Grobler in ons 3 Junie-uitgawe. Kry hier nog wenke:
Veilig in en om die swembad
Ida van Wyk van die Tinco Watersport Sentrum in Pretoria het dié wenke vir ouers om hul kinders se veiligheid om die swembad te verseker:
Wees altyd bewus van waar jou kind is. Moenie aanneem jou kind is veilig net omdat daar ander volwassenes in die omtrek is nie.
- Kry basiese noodhulpopleiding. Enigiemand wat na jou kinders omsien, moet weet hoe om te reageer as hulle in die water in die moeilikheid beland.
- Beveilig jou swembad. Maak seker enige omheining en die swembadnet word goed onderhou. Dit is nie luukses nie, maar noodsaaklikhede. Moet ook nie speelgoed om die swembad laat rondlê nie – dit maak die versoeking vir jou kind te groot om sonder toesig om die swembad te speel.
- Leer jou kinders oor swembadveiligheid. Sorg dat jou hulle weet watter reëls geld as dit by die swembad kom en pas die reëls toe. Dit kan insluit dat hulle net swembad saam met ‘n volwassene toe mag gaan en nie om die swembad mag hardloop nie. Bespreek die gevare wat ‘n swembad kan inhou.
- Sosialiseer verantwoordelik. Geniet dit om saam met vriende en familie om die swembad te kuier, maar hou jou kinders se veiligheid in jou agterkop. Kinders, water en alkohol is nie ‘n goeie kombinasie nie. Voor jy kuiergaste kry, moet jy ook seker maak wie nié kan swem nie sodat jy ‘n ekstra ogie oor daardie kinders kan hou.
- Neem jou kind vir swemlesse – beskou dit as ’n lewensvaardigheid eerder as ‘n luukse.