Vir die meeste mense is Suster Lilian ’n ervare vroedvrou en ouerskapskenner en dié vrou om te raadpleeg as jy vasbrand. Maar wie is Lilian Paramor nou eintlik? Lees meer in ons 3 Junie-uitgawe.
MARYKE ROBERTS
Nege vrae aan suster Lilian wie se jongste boek Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapsgids onlangs by Human & Rousseau verskyn het:
Wat gee jou die grootste vreugde in jou werk?
Ek is mal oor alles wat ek doen en gedoen het – van vrouens bystaan in kraam, tot om gesinne tot nuwe insigte oor ouerskap en gesondheid te bring; vanaf skryf tot praatjies en lesings gee; van ’n nuwe generasie vroedvroue inspireer tot radio- en TV-werk. Ek is in die bevoorregte posisie om regtig lief te wees vir my werk. Daar was en is dae wat ek 16 uur lank (of meer) aaneen werk, en soms dink ek dis nou tyd dat ander die leisels oorneem, maar ek wil liefs niks anders doen nie. Eie onderneming is taai, daar was baie moeilike en uitdagende dae, maar die inhoud van my werk was altyd wonderlik!
Wat is op jou bedkassie?
Klapperolie, ’n natuurlike alledaagse velbevogtiger; my Kindle, ’n ekstra leesbril, soms ’n homeopatiese immuunmiddel en ’n coaster vir my waterglas.
Wat is die grootste kompliment wat jy nog ontvang het?
My ma het op ’n slag vir my gesê dat sy wens sy het my as adviseur gehad toe sy kinders gehad het. Dit het my nogal diep geraak; en as mense vir my sê hulle kan sien dit wat ek sê kom uit my hart uit, voel ek baie diep gekomplimenteer. My man sê dit dikwels vir my.
Hoe ontspan jy?
Ons stap graag in die heuwels agter ons huis; ek lees ontsettend baie; ek bestee tyd in die tuin en in die natuur; swem is vir my heerlik; ek hou van kook en onlangs het ek “grootmens-inkleur” ontdek!
Wat maak jou bly?
My lewe saam met my man, kinders (myne en ander), die natuur, saamlag met mense, en die stadig-maar-seker-terugkeer na natuurlike geboorte en gesondheid.
Wat maak jou hartseer of kwaad?
Manipulatiewe mense en gedrag, kern-oneerlikheid en as vroue hul natuurlike mag prysgee.
Wat is die algemeenste vrae wat jy by ma’s kry?
Ek het seker 250 bladsye van algemene swangerskap- en geboortevrae, en net soveel oor baba- en peutervrae, maar slaap-, eet- en gedragsvrae is die algemeenste, asook lyste van kliniekbenodigdhede, kraampynverligtingmetodes, en so meer.
Wat is die meeste ma’s se grootste vrees as hulle swanger word?
Baie wonder of hul babas “normaal” sal wees en of hulle lewe aan die baba sal kan skenk, en ma-wees. Natuurlik, vroue is gemaak hiervoor en as hulle hul anatomie, fisiologie en harte vertrou, sal hulle ’n goeie werk kan maak van swangerskap, geboorte en kinders grootmaak. Dis so belangrik om aan jou inherente vermoëns en in die natuur te glo.
Wat is die drie belangrikste middels/medisyne wat enige ma in haar medisynekassie moet hê?
Moed – glo dat jou kind nie net kan siek wees nie, maar dat hy of sy ook self kan genees. Liefde, daar wees en tyd, laat die meeste alledaagse probleme self genees met ’n sterker immuniteit agterna.
Geduld – onthou dat vinnige oplossings dikwels swak oplossings is. Gebruik natuurlike middels en jou gesonde verstand om te weet of jy verdere hulp nodig het.
Moederinstink – as jou hart regtig vir jou sê dat iets nie reg is nie, luister! Maar onthou, ’n kind voel altyd sieker snags en spontaan beter bedags, so moenie oorreageer nie!
SOURCES
verskaf