Survivor, die wynreeks van Overhex Wines International buite Worcester, het twee nuwe wyne by sjef Bertus Basson se restaurant, Spek & Bone, op Stellenbosch bekend gestel
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts en verskaf
Spek & Bone is ’n knus restaurantjie en is reg agter Oom Samie se Winkel op Stellenbosch geleë en het ’n paar maande gelede geopen.
Die 2016 Survivor Wild Fermented Chardonnay asook die Survivor Méthode Cap Classique Brut 2011 komplementeer die bestaande en geliefde reeks in styl én druifsoort. Die Survivor wynreeks, met ’n hele aantal plaaslike- en internasionale toekennings, is vernoem na ’n Nguni-koei. Die Nguni, vandag bekend as Survivor, het per ongeluk haar weg na ʼn plaas in die Swartland-gebied gevind, nadat sy van ʼn trok wat deur die gebied gery het, afgespring het. Sy het wonder bo wonder van haar beserings herstel en vandag betoon hierdie wyne eer aan hierdie ongewone koei, asook die hartlike gees en buitengewone terroir van die Swartland, waar die druiwe vir hierdie reeks wyne vandaan kom.
“Hierdie wynportefeulje gaan van krag tot krag,” sê Gerhard van der Wath, besturende direkteur by Overhex Wines International. Hierdie handelsmerk het ’n ongewone uniekheid wat dit buitengewoon gewild maak. Die toevoeging van die Chardonnay en Brut MCC is in tyd en gepas.”
Die 2016 Survivor Wild Fermented Chardonnay is ʼn vatgegisde wyn met hawer- en lemmetjiegeure op neus en lae sitrusgeure op smaak terwyl dit spog met goeie houtintegrasie.
Die Survivor Méthode Cap Classique Brut 2011 is ryk en geurig met ’n eiesoortige roosterbrood- en vars sitrusgeur. Dit is stylvol en gesofistikeerd met volop vrug van vars suurlemoen, kruie en appels. Die wyn is droog en soutagtig met ʼn komplekse, dog fyn borrel.
Die Survivor-reeks sluit ses wyne in, die 2015 Survivor Pinotage, die 2015 Cabernet Sauvignon, die 2016 Chenin Blanc, die 2016 Sauvignon Blanc, asook die nuwe vrystellings, die 2016 Chardonnay en Brut MCC.
Overhex Wines International (OWI) is in 2005 gestig en hul verbruikersvriendelike portefeulje, vanaf intreevlak wyne tot premium handelsmerke, is gemaak vir moderne wynliefhebbers regoor die wêreld. Die portefeulje sluit in handelsmerke soos Balance, Magaliesburg, Survivor Offspring, Harvest Song en Cape Zebra.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.