Egte vrug, meer tekstuur, beter samestelling, veelsydig en verskuiwende grense is sinoniem met Chenin Blanc.
Maryke Roberts
Soos te wagte is dít wat die Standard Bank Chenin Blanc Top 10 Uitdaging by hierdie derde agtereenvolgende kompetisie opgelewer het. Die wenners is by ‘n spog-middagete by Delaire Graff Landgoed in die Helshoogtepas buite Stellenbosch aangekondig.
Sewe van die top 10 kelders het hul konsekwentheid en kwaliteit reputasie as dit by die maak van Chenin Blanc kom verdedig; en is wéér ingesluit in die Standard Bank Chenin Blanc Top 10 Uitdaging lys. Hulle is: Bellingham se The Bernard Series Old Vine, DeMorgenzon Reserve, Kleine Zalze Family Reserve en Kleine Zalze Chenin, Leopard’s Leap se Culinaria Collection, Perdeberg se The Dry Land Collection, Rijk’s Private Cellar en Spier 21 Gables. Nuwe wenners is Allée Bleue en Boschendal.
‘n Totaal van 124 wyne is ingeskryf en blind geproe deur ‘n paneel van vyf beoordelaars sonder enige aanduiding van oesjaar, hoe die wyn berei is of ‘n tegniese analise.
Christian Eedes, een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde wynbeoordelaars was die voorsitter en het gesê vanjaar was ‘n goeie jaar vir Chenin Blanc in die geheel. “Chenin Blanc is vanweë die veelsydigheid van style ‘n gekompliseerde kategorie om te beoordeel. Vanjaar was geen uitsondering nie. Die kompetisie het inskrywings met ‘n wye verskeidenheid van style ontvang – van die skoon, vars vrugtige kategorie tot die geoksideerde styl – en almal was goed.
“Vanjaar was ‘n goeie jaar vir Chenin.”
Vir Ken Forrester, voorsitter van die Chenin Blanc Assosiasie, is hierdie jaar se inskrywings en algehele kwaliteit ? bevestiging dat Chenin Blanc nog vele hoogtes gaan bereik. “Die wyne was regdeur die inskrywings wêreldklas. Hierdie is die mees opgewonde wat ek nog was oor Chenin in Suid-Afrika.”
“Ons is trots om onsself te assosieer met Suid-Afrikaanse Chenin Blanc en die wynbedryf as ? geheel,” het Willie du Plessis, Hoof van Besigheid Banksake in die Wes-Kaap by Standard Bank, gesê.
“Deur erkenning aan hierdie variëteit te gee raak ons deel van ? beter wynbedryf vir almal. Soos aangedui deur die Top 10 wenners, skenk almal hul prysgeld aan verskeie liefdadigheidsinstansies en ander verdienstelike organisasies in hul omgewings. Dit sluit in Sunfield Home, die Du Toitskloof DGB Mobiele Biblioteek, die Anna Foundation, Kusasa, die Agroecology Academy en crèches in Mbekweni en by Allée Bleue. En so raak ons deel van vele goeie dade.”
Vier van die top 10 wenners is van links, van Eugene van Zyl van Leopard’s Leap, Neil Groenewald van Bellingham, Lindi de Beer van Rijk’s en Jacques Erasmus van Spier.
Ken Forrester, voorsitter van die Chenin Blanc Assosiasie by wenners Hanneke Botha van DeMorgenzon, Albertus Louw van Perdeberg en Van Zyl du Toit van Allée Bleue.
Christian Eedes, voorsitter van die beoordelaarspaneel met wenners Lizelle Gerber van Boschendal en RJ Botha van Kleine Zalze, wat twee plekke in die top 10 behaal het.
Robbie Sydow, Glenda Rosslind en Louis Visser, almal van Standard Bank, die amptelike borg van die kompetisie.
SOURCES
Clifford Roberts