In die kategorie vir Shiraz versnitwyne is die wenners: die Babylonstoren Babel 2016; Saronsberg Full Circle 2016 en die Spier Creative Block 3 2015
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts en Withers & Son Photopraphy
Die Shiraz Uitdaging, wat vanjaar vir die 6de keer deur Shiraz SA aangebied is, het Woensdag by Rhebokskloof Landgoed buite die Paarl die land se drie beste Shiraz-versnitte en top 12 Shiraz bekendgemaak. Gaste by die geleentheid kon die 25 Shiraz- en 10 versnit-finaliste proe, voor die wenners aangekondig is.
Die dag se aankondigings was nie die enigste rede tot feesviering nie: Shiraz SA het op die dag ook sy tiende verjaardag gevier. Shiraz SA het in 2008 met 25 lede begin en spog vandag met meer as 200 lede.
Die seremoniemeester, Peter Mitchell, oftewel Pietman die Skot, het gaste vermaak met sy wyngrappe- en liedjies tussen die prysuitdeling deur. Die pryse is deur Johan Conradie van VinVentions, die hoofborg, uitgedeel.
In die kategorie vir Shiraz versnitwyne is die wenners: die Babylonstoren Babel 2016; Saronsberg Full Circle 2016 en die Spier Creative Block 3 2015.
Die dosyn uitstaande Shiraz-wyne wat vanjaar die kroon dra is: Alvi’s Drift Signature Shiraz 2016; Babylonstoren Shiraz 2016; Bloemendal Syrah 2013; Boschkloof Louis 57 Shiraz 2016; D’Aria The Soprano Shiraz 2016; De Grendel Elim Shiraz 2016 (enigste 1,5ℓ magnum wat ingeskryf het); Diemersfontein Shiraz 2017; Eagles’ Nest Shiraz 2015; KWV Cathedral Cellar Shiraz 2015; Oldenburg Vineyards Syrah 2014; Saronsberg Provenance Shiraz 2016 en Wellington La Cave Shiraz 2016.
Edmund Terblanche, Shiraz SA voorsitter, het gesê kwaliteit staan eenvoudig uit. “Twaalf wenners stel ons in staat om verskillende style ewekansig te beoordeel.” Wat die kwaliteit van inskrywings betref is die beoordelaars dit eens dat daar min foutiewe wyne was. “Daar was meer ligter wyne as gevolg daarvan dat druiwe effe vroeër gepluk is,” het Edmund aan gaste vertel. “Vervolgens was daar meer definisie en prominente variëteitseienskappe te bespeur.”
’n Totaal van 192 wyne (36 versnitte en 156 Shiraz en 27 minder as in 2017) uit al die land se wynstreke het vanjaar ingeskryf. Dié afname in inskrywings is vergelykbaar met ander wynkompetisies. Edmund reken die afname kan toegeskryf word daaraan dat kelders weens die knypende ekonomie slegs hul topwyne inskryf.
Beoordelaar Jeanne-Mari de Villiers van Checkers se Odd Bins, meen die wyne het weer gewys hoe veelsydig Shiraz kan wees. “Die druif vind aanklank by ’n verskeidenheid style wat nie net terroir-gedrewe hoef te wees nie, maar ook die invloed van die wynmaker kan weerspieel.”
Die Kaapse Wynlande omvat diverse omgewings, wat verskillende style in wyne na vore bring. Die paneel se opdrag is om alle style te erken en te beoordeel in terme van intensiteit, variëteitseienskappe en -suiwerheid, en verouderingspotensiaal. Die mikpunt met die kompetisie: om 12 wyne te identifiseer wat trots skouers kan skuur met internasionale wêreldklaswyne.
Die proepaneel-voorsitter, Dr. Andy Roediger (Kaapse Wynmeester en voorsitter vir die afgelope vyf jaar) het vertel dat ’n beoordelaar se grootste vyand ‘palaat-tamheid’, is veral wanneer so ’n groot hoeveelheid wyne in dieselfde kategorie geproe word.
“Voorts kan die vasgestelde volgorde van wyne ’n goeie wyn duur te staan kom, wanneer dit voorafgegaan word deur ’n absolute uitskieter,” verduidelik hy. “Om hierdie redes het ons vanjaar ’n nuwe proeformaat gebruik, met baie goeie resultate. Dis met behulp van die Universiteit van Stellenbosch ontwikkel.
“Voorheen het die paneel ’n aantal wyne geproe en dit dan bespreek. Vanjaar het ons weggedoen met die bespreking en die beoordelaars elk ’n eie unieke volgorde gegee, waarvolgens hulle geproe het wat ’n meer objektiewe uitslag tot gevolg gehad het.”
Gaste is ook meegedeel dat daar vanjaar ’n nuwe veldtog, Seven Days of Shiraz and Venison van 11 tot 17 Junie gevier gaan word. Meer as 30 kelders neem aan hierdie eerste geleentheid deel. Die fokus sal op die veelsydigheid van Shiraz én sy goeie pasmaat-vermoë met wildsvleis wees.