Sauvignon Blanc SA en FNB het pas die wenners van die 2019 FNB Sauvignon Blanc Top 10-kompetisie by ’n spoggeleentheid in Kaapstad se hoogste gebou, die FNB Portside-gebou bekend gemaak
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Nie minder nie as agt van die 10 wenners is uit die 2019-oesjaar. Hierdie opwindende uitslae van die agste kompetisie – Suid-Afrika se enigste kompetisie wat aan Sauvignon blanc gewy is – is een van die groot toekennings op die wynkalender.
Almal het op die agste vloer van die gebou vergader om die top 20 finaliste se wyne te proe. Vanjaar se seremoniemeester was die glanspersoonlikheid, Liezel van der Westhuizen.
Vanjaar se Top 10 – in alfabetiese orde – is:
Cederberg Ghost Corner Sauvignon Blanc 2019; De Grendel Koetshuis Sauvignon Blanc 2019 (Wooded); Diemersdal Winter Ferment Sauvignon Blanc 2019; Du Toitskloof Land’s End Sauvignon Blanc 2018 (Wooded); Groote Post Seasalter Sauvignon Blanc 2019 (Wooded); Lomond Sauvignon Blanc 2019; Merwida Sauvignon Blanc 2019; Spier Ideology Sauvignon Blanc 2019; Stark-Conde Round Mountain Sauvignon Blanc 2018 (Wooded) en Tokara Reserve Collection Elgin Sauvignon Blanc 2019 (Wooded)
Die Top 10 is uit ’n wye en uiteenlopende reeks inskrywings gekies – altesaam 107 produsente het 183 wyne ingeskryf. Die land se diverse wynstreke is almal goed verteenwoordig, met vyf uit die ses Wes-Kaapse streke wat elkeen ten minste een wyn in die Top 20 gehad het. ’n Totaal van 12 van die Top 20 wyne is van die 2019-oesjaar, wat die bedryf se eenstemmigheid dat vanjaar ’n uitstaande jaar vir Sauvignon blanc was, onderskryf.
“Hoewel 2019 onthou sal word as ’n uitmuntende jaar vir Sauvignon blanc, kan die Top 10 met reg trots wees op hul prestasie,” het RJ Botha, Sauvignon Blanc SA se voorsitter, by die geleentheid gesê. “Die feit dat meer wyne vanjaar ingeskryf is – ten spyte van die droogte wat die meeste wynprodusente gekniehalter het – bewys produsente se vertroue in die kompetisie én die uitmuntendheid waartoe Suid-Afrikaanse Sauvignon blanc in staat is en voorspel ’n baie positiewe toekoms. Ons sien net weer dat top Sauvignon blanc hom nie steur aan geografiese grense nie en die wye styl en -geurprofiele wat die variëteit kan bied, verklap.”
Stephan Claassen, Provinsiale Hoof FNB Sake Wes-Kaap, het die 2019 FNB Sauvignon Blanc Top 10-wenners – wat voortdurend grensverskuiwende werk doen om bo ander uit te troon – gelukgewens. “As Suid-Afrikaanse Sauvignon blanc op globale skaal kompeterend wil bly, is dit noodsaaklik dat ons talentvolle produsente beloon en platforms skep, waar hulle hul talente kan vertoon. Ons plaaslike Sauvignon blanc-produsente lewer kwaliteit wyn en ons by FNB, is trots om by hierdie opwindende deel van ons wynbedryf betrokke te wees,” het hy verklaar. Hy was baie trots om te vertel dat die FNB-gebou nie net Kaapstad se hoogste is nie, maar ook Afrika se enigste 5 ster groen wolkekrabber.
Hy het bygevoeg dat die wynbedryf 290 000 werksgeleenthede skep en dat Sauvignon blanc-aanplantings weer begin toeneem, terwyl meeste ander kultivars se aanplantings drasties afneem.
Vanjaar se beoordeelaarspaneel het bestaan uit Dr. Winifred Bowman, Kaapse Wynmeester en paneel-sameroeper; Charles Hopkins van De Grendel; Dr. Carien Coetzee van Basic Wine; Fiona McDonald, wynbeoordelaar en -skrywer en Wilhelm Pienaar van Hermanuspietersfontein. Die paneel het ook aspirant-beoordelaars Ben Snyman van Overhex Wyne; Chandre Petersen van Flagstone Wynkelder; Morgan Steyn van De Grendel en Rudger van Wyk van Starke-Condé Wyne, ingesluit.
Dr. Bowman het die kwaliteit van vanjaar se inskrywings geloof en is baie optimisties oor die toekoms van dié kultivar. ’n Tegniese seminaar geskoei op vanjaar se prestasies, sal op Woensdag 20 November in Franschhoek gehou word.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.