Die wenners in die Absa Top 10 Pinotage-kompetisie 2018 is onlangs op die Cavalli-landgoed buite Somerset-Wes aangewys
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Absa se betrokkenheid van 22 jaar by die Pinotage-Assosiasie is ook gevier, ’n vennootskap wat die standaard vir Suid-Afrika se suksesvolste, inheemse wyndruifkultivar gestel het.
Die Absa Top 10-wenners bestaan hoofsaaklik uit wyne wat deur wynmakers met ’n stewige pinotage-rekord geskep is, en almal met dieselfde doelwit voor oë, naamlik om die heel beste pinotage meesterstuk te skep.
Die seremoniemeester vir die dag was Danie Niehaus en verskeie ander gassprekers het die podium besoek, waaronder Beyers Truter, voorsitter van die SA Pinotage Assosiasie.
’n Rekordgetal van 161 inskrywings is vir die Top 10-kompetisie ontvang. Byna die helfte van die 20 finaliste kom vanaf Stellenbosse wingerde, insluitende die ikoniese Beyerskloof, Kaapzicht, Kanonkop en Lanzerac. Die ander finaliste kom uit die Breedekloof, Piekenierskloof, Durbanville, Kaapstad, Paarl, Darling en Worcester. Vier van die finaliste het twee wyne elk op die kortlys gehad, naamlik Diemersdal, Kaapzicht, Môreson en Kanonkop.
Benewens die 20 finaliste waaruit die top 10 gekies is, is drie Museumklas-wenners ook aangewys van Pinotages ouer as 10 jaar. Die wenners hier was Kanonkop met die Kanonkop Pinotage 2006; Neethlinghof met die Lord Neethling Pinotage 2003 en Rijk’s Private Cellar Pinotage 2008.
Die paneel beoordelaars vir vanjaar se kompetisie het bestaan uit Neil Ellis van Neil Ellis Wines (voorsitter), Samarie Smith van Benguela Cove, die wynmaker Francois Haasbroek, die wyn-opvoeder Nomonde Kubheka en Francois Rautenbach, die wyn-aankoper vir Singita.
Gaste kon die top 20 finaliste se wyne saam met middagete geniet.
Die Absa Top 10 Pinotage-wenners 2018 is:
Allée Bleue Black Series Old Vine Pinotage 2016 deur die wynmaker Van Zyl du Toit; Beyerskloof Diesel Pinotage 2015, deur die wynmaker Anri Truter; Diemersdal Pinotage Reserve 2017 deur wynmaker Thys Louw; Fairview Primo Pinotage 2016 deur wynmaker Anthony de Jager; Flagstone Writer’s Block Pinotage 2016 deur wynmaker Gerhard Swart; Kaapzicht Steytler Pinotage 2015 deur wynmaker Danie Steytler; Kanonkop Pinotage 2013 deur die wynmaker Abrie Beeslaar; Lyngrove Platinum Pinotage 2016 deur wynmaker Danie van Tonder; Môreson The Widow Maker Pinotage 2015 deur wynmaker Clayton Reabow en Rijk’s Reserve Pinotage 2014 deur wynmaker Pierre Wahl.